Ná ’n uitmergelende hofstryd tussen Pieter en Joost se vervreemde vrou, die sangeres Amor Vittone, het die hof Maandag beslis die laaste testament wat Joost in 2015 met die hulp van sy eertydse prokureur, Ferdinand Hartzenberg, opgestel het, ís die laaste geldige testament.

In die 2015-testament erf Joost se kinders alles en word sy as’t ware onterf.

Sy het aangevoer die testament wat sy en hy in 2009 saam opgestel het, is die laaste geldige testament.

“Ek is happy. Baie happy. Nóú kan ek sê ek het my belofte aan my broer nagekom,” het ’n verligte Pieter (49) Maandagmiddag na die uitspraak aan Huisgenoot gesê.

“Ek sê steeds: dit is nie ons wat “wen” nie. Dit was nooit ons fight nie. Ons was daar om Joost se laaste wens te vervul en dit is dat die geld na sy kinders, en nét sy kinders, moes gaan.”

Die stryd om Joost se boedel het reeds meer as ’n jaar en ’n half gelede ná sy afsterwe aan Motorneuronsiekte, op 6 Februarie 2017, begin.

Pieter, sy broer, Gustav jr en hul vriend, Gavin Varejes van SA Rugby Legends, is as die trustees van Joost se J9-trust aangestel, waaruit hulle maandeliks ’n bedrag aan Amor vir die minderjarige seun en dogter sal betaal. Die trust sal eers ontbind wanneer hul dogter, die jongste van die twee, mondig word.

Pieter vertel Joost het hom in 2014 geroep om die pad vorentoe te bespreek. Dit was toe sy wens dat hulle sy testament moet verander.

“Hulle wou betwis in die hof Joost was nie toe compos mentis nie, oftewel by sy volle verstand nie. Joost het op die dag van sy dood besluit of hy ’n tragea wil hê of nie. Hy alleen het en kón daardie besluit maak.”

’n Tragetomie is die laaste uitweg vir die Motorneuron-lyer. Dit is wanneer ’n lugpyp in die persoon se nek ingesit word sodat hulle met behulp van ’n ventilator kan asemhaal.

“Joost het daardie dag daarteen besluit,” sê Pieter. Hy moes daardie dag Joost se besluit aan sy dokters oordra.