Joost se ouboet, Pieter van der Westhuizen, skiet glo rowers tydens kerkdiens dood

akkreditasie
Pieter van der Westhuizen (Foto: Verskaf)
Pieter van der Westhuizen (Foto: Verskaf)
Pieter van der Westhuizen, broer van die ontslape Springbokkaptein Joost van der Westhuizen, was Sondag, 26 Julie, in ’n gewapende rooftog betrokke tydens ’n erediens in die Querentia Bediening-gemeente in Wierdapark, Centurion. Hy het teruggeskiet en twee van die rowers glo noodlottig getref. Nog ’n rower het gevlug.

Net die vorige dag het Pieter en sy verloofde, Antoinette Watson (30), nog stralend van geluk vir die kamera geglimlag tydens hul amptelike verlowingsfotosessie wat by die Harties Horse Trail Safaris naby die Hartebeespoortdam plaasgevind het. 

Antoinette en Pieter (51) het die oggenddiens, wat deur haar stiefpa, pastoor Kobus Erasmus gelei is, op haar 30ste verjaarsdag bygewoon. Hulle sou haar verjaarsdag ná die diens by Kobus en haar ma, Michelle, oor middagete gaan vier. 

Pastoor Kobus vertel die tema van sy preek was hoe Dawid aan die Here gevra het: “Wie is ek dat U nog na ons kyk?”.

“Maar vandag het die Here ons deur Pieter beskerm,” sê Kobus. “Ten spyte van talle skote wat deur die rowers in die kerk geskiet is, is niemand beseer nie. Slegs ’n tienerjarige seun is skrams getref. Daardie skote moes iemand getref het, maar dit het nie.”

Daar was ongeveer 30 mense in die diens.

Die voorval het teen omstreeks 11:30 plaasgevind. Die gemeente was besig met die sing van die laaste liedjie toe die drie rowers die perseel binnestorm en die mense grond toe dwing. Een het ’n vuurwapen teen Kobus se kop gehou terwyl die ander twee hulle van beursies, juweliersware en selfone beroof het. 

“Hulle het skielik wild begin skiet waarna Pieter hulle gekonfronteer het,” vertel Kobus. “Hulle het op Pieter ook geskiet maar gemis.”

Kobus sê “dit was nie ’n geval van ’n cowboy wat ’n hero wou wees nie”.

“Pieter het opgetree om my en die res van die gemeente te beskerm. Dis al. Daar was hoegenaamd geen grootheidswaan na die tyd by hom nie.”

Omdat die polisie die saak tans ondersoek, mag Pieter nie nou kommentaar lewer nie. 

Brig. Mathepelo Pieters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n vuurwapen wat vermoedelik deur een van die rowers in die aanval gebruik is, is op die toneel gevind. Dit sal nou ballisties ondersoek word om vas te stel of dit ook moontlik in ander misdaadgevalle gebruik is. 

Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees