Hy was ’n skobbejak, sê Francesco Rizzuto van Johannesburg (27). Party dae het hy ander besteel om te oorleef. Sommige aande het hy gedink hy sou buite van die koue sterf.

’n Jaar tevore sou hy nooit verantwoordelikheid vir sy eie omstandighede aanvaar het nie. Hy was kwaad vir die wêreld, kwaad oor sy onstuimige grootwordjare, kwaad vir elkeen wat hom deur al die jare die rug toegekeer het.

Maar nie meer nie. Want vandeesweek het Francesco met ’n bruin karton na dieselfde verkeerslig op die hoek van Rabie- en Republiekstraat in Fontainebleau, Randburg, teruggekeer. 

Maar dié keer het sy boodskap gelees: “27 vandag – en van die strate af. Jesus leef! Kan ek ’n amen kry?”

Hy het homself opgetel, sy woede vir die wêreld laat vaar, en vandag wil hy ander met sy storie inspireer, sê die jong man.

“Hoe gebeur so iets; hoe beland enigiemand op straat?” sê-vra Francesco toe Huisgenoot telefonies met hom kontak maak.

Dan antwoord hy sy eie vraag: “Deur jou eie toedoen; deur kwaad te wees vir almal buiten jouself.”

Hy was 15 jaar oud toe sy pa, Francisco sr., in die ouderdom van 64 dood is. Hy het weens ’n bloedklont deur die hart gesterf.

Francesco sê sy pa se dood was die begin van ’n reeks traumatiese gebeure in sy kinderjare, gebeure wat hom op ’n jong ouderdom na drank en dwelms gedryf het.

“My ma het ná my pa se dood weer getrou. Maar ek en my stiefpa het ’n ongelooflik ingewikkelde verhouding gehad. Hy het reguit vir my gesê: ‘Ek het reeds my eie kinders, ek gaan nie vir jou ook ’n pa wees nie,’” beweer hy.

“Ek het met die verkeerde vriende bevriend geraak. Eers het ek net begin drink; kort daarna het ek met heroïen en kokaïen begin eksperimenteer. Waar ek dit eers vir ontspanning gebruik het, het dit later vir my ’n kruk geword, ’n kruk om uit my huislike omstandighede te ontsnap.”

Francesco
Francesco en Zandri. Foto: Verskaf

Teen die tyd dat hy 20 jaar oud geword het, was hy al minstens drie keer in ’n rehabilitasiekliniek. Elke keer het hy maar net weer in sy ou gewoontes verval . . .

Toe kom nog ’n terugslag: Sy ma, wie se naam hy nie wil noem nie, het aan kanker gesterf.

“Dinge tussen my en my stiefpa het toe eers begin sleg raak. Ons kon mekaar nie uitstaan nie. Hy wou nie vir my ’n pa wees nie; hy het my in niks gesteun nie. Toe vlug ek; ek het gedink ek sou dit op my eie kon maak.”

Maar voor hy hom kon kry, was hy op straat. “Ek was oral in Johannesburg, in Boksburg, Soweto, Eastgate, in die noorde . . . Ek het deur die dag dwelms gebruik, soms het ek dit van dwelmhandelaars gesteel. Ek was selfs by bendes betrokke. In die aand het ek na ’n plek gesoek wat darem net effens veilig lyk – en dan het ek daar buite geslaap.”

Maar verlede jaar het ’n vriend, wat voorheen saam met hom in ’n rehabilitasiekliniek was, hom op straat raakgeloop. En dis toe dat die ommeswaai begin het.

Francesco
Hy wil nou ander met sy storie inspireer. Foto: Verskaf

“Hy het my gehelp om weer op my voete te kom. Ek was eindelik 11 maande in die kliniek; ek het vir die eerste keer al my emosies in die gesig gestaar en my eie foute aanvaar. Ek moes besef my toekoms lê in my hande.”

In dié tyd kon hy weer kontak maak met familielede aan sy ontslape ma se kant. Sy vriendin Zandri Sawma het hom met behuising gehelp en om weer ’n werk te kry.

“Goeie vriende, my familie, Zandri en die Here het my lewe die laaste jaar en ’n half drasties verander. Ek het ’n dak oor my kop, ek werk as ’n kroegman terwyl ek vir ander werk soek en ek is al vir die laaste jaar en ’n half dwelmvry.”

Hy en Zandri, ’n grafiese ontwerper, het vier maande gelede ’n verhouding aangeknoop. En hy sou nooit kon dink dat hy weer so gelukkig kan wees nie.

“’n Jaar en ’n half gelede was ek ’n junkie. Ek het nie eens geweet of ek die volgende dag gaan sien nie. Maar die Here het my gered. Ek het wonderlike mense in my lewe; ek het die liefde van my lewe ontmoet en nou wil ek vir ander wys wat moontlik is as jy in jouself glo.”