Dít was die emosionele reaksie van Suzette Barnard se seun, Jacques (33), nadat sy hom Donderdagoggend vroeg met die nuus gebel het dat sy suster en haar dogter se beweerde moordenaar homself aan die polisie oorgegee het.

Dis al byna nege jaar sedert Suzette se dogter, Chantelle (toe 20), 10 dae voor haar mondigwording in April 2011 vir ure aaneen gemartel, verkrag en vermoor is.

Vir Suzette Barnard (60) was die laaste nege jaar ’n hel – maar Donderdag het sy vir die eerste keer sedert Chantelle se dood ’n sug van verligting geslaak.

“Jacques wou ná Chantelle se dood nie eens by die saak betrokke wees nie. Sy sussie se dood was vir hom geweldig traumaties. Maar toe ek hom vanoggend met die nuus bel, het hy in trane uitgebars.” sê ’n emosionele Suzette.

Suzette Barnard
Suzette Barnard.

Haar vermeende moordenaar, Jurgen Vandekeere, is destyds kort ná die moord in hegtenis geneem en was agt maande lank in aanhouding voor die hooggeregshof in Johannesburg borgtog aan hom toegestaan het.

Vandekeere moes in September 2013 weer in die hof verskyn, maar hy het nooit opgedaag nie en het sedertien spoorloos verdwyn.

Daarna het amper nege jaar verloop tot Vandekeere homself Woensdag aan die polisie in Benoni, aan die Oos-Rand in Johannesburg, oorhandig het.

“Ek is so verheug: ja, dat my dogter se vermeende moordenaar vasgetrek is. Maar ook omdat ek nooit ophou baklei het nie. Omdat ek nooit opgegee het nie. Omdat ek nog elke dag ná Chantelle se moord my vuiste stukkend baklei het vir antwoorde.”

Donderdagoggend het kapt. Peter Mbanoni, ’n ondersoekbeampte in die saak, aan Huisgenoot gesê Vandekeere het homself wél Woensdag 15 Januarie aan die polisie oorhandig. Hy is daarna deur die polisie in hegtenis geneem.

Mbanoni sê Vandekeere het Woensdag vanuit die buiteland in Suid-Afrika aangekom, maar hy kon nie bevestig waar die moordverdagte vandaan kom nie. 

“Ons is op hierdie oomblik op pad na die hof waar Vandekeere weer aangekla sal word,” sê hy.

Suzette Barnard met ’n geraamde foto van haar vermoorde dogter, Chantelle. Foto: Rowyn Lombard.

Intussen sê Tania Opperman, ’n woordvoerder vir die South African Support Initiave (Sasi), Vandekeere was glo saam met sy pa, Roland, toe hy homself aan die polisie oorhandig het.

Pa en seun het ten tyde van Chantelle se dood saam op ’n hoewe gewoon – die einste hoewe waar Chantelle ’n huurder was.

Sy meen die ondersoek teen hom het glo “te warm” geraak en daartoe gelei dat hy homself oorhandig het.

“Ons kan nie glo daar is ná soveel jaar so ’n groot deurbraak nie. Dit is geweldig goeie nuus – vir ons en vir die familie betrokke.”

Vandekeere sou Donderdag in die hooggeregshof in Pretoria verskyn het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.