Net voor jy Jacobsbaai aan die Kaapse Weskus binnery, sien jy dit: veelkleurige paddastoele van sement en ’n kaboutertjie met ’n Suid-Afrikaanse vlag in die hand by ’n toweragtige woudtoneel wat teen ’n muur geskilder is.

Jou oë bedrieg jou nie; die naambord verkondig dit is sowaar ’n feetjietuin – die Fairy & Pixie Garden om presies te wees.

“Welkom in die feetjiewinkel,” groet Ethlu Pearce (25), die bestuurder.

Hier is enigiets van elfore van rubber, blommekranse vir jou kop en vlerkies tot towerstaffies en droomvangers te koop, maar dis nog net die begin. Want dan daag Alma, oftewel “Pixie”, Maritz (74) op, die skepper van die feëtuin hier by ’n herberg vir rugsakreisigers.

Die ingang na die rugsakherberg waar die feëtuin is. Foto: Corrie Hansen.

“Kom hier, laat ek julle ’n pixiedrukkie gee,” kondig sy aan en vou ons in haar arms toe. In haar hippieklere lei sy ons verby die kamers en die binnehof.

Wanneer die hekkie na Pixie se kwekery en feëtuin oopswaai, stap jy ’n fabelagtige lushof binne wat jy nooit op hierdie droogtegeteisterde vlakte sou verwag het nie.

Oral kruip feetjies en dwergies van sement weg of staan kordaat saam met piepklein diertjies voor miniatuurhuisies.

Wat dadelik opval, is dat die klein mensies die demografie van die land verteenwoordig; ’n reënboognasie in die kleine in hierdie toevlugsoord vir kinders van alle ouderdomme.

Pixie wou ook die verlore paradys van haar kinderjare herskep.

Maar die wonderwêreld is net deels ’n verbeeldingsvlug, want daarmee wou Pixie ook die verlore paradys van haar kinderjare herskep.

“Mamma Pixie wou vir die wêreld wys waar sy op hul familieplaas, Mpanza, in KwaZulu-Natal grootgeword het.

"Dis hier waar haar verbeeldingskrag en belangstelling en liefde vir klein mensies en diertjies lewe gekry het,” skets ’n bord op die tuinhek die feëtuin se geskiedenis. Dit is verlede jaar amptelik geopen.

Aan die regterkant van die tuin is dan ook ’n miniweergawe van die plaas met ’n waterput, miniatuuropstal en kabouters wat op die landerye werk.

“Ook hartseer is hier ingebou. Dit was so ’n onskuldige tyd daar in Zoeloeland toe ek in die grotte en klowe en langs riviere na feetjies gaan soek het,” vertel Pixie vol heimwee.

Die plaas se naambord hang nou by wat eindelik ’n teetuin gaan wees: “G.F. Opperman. Mpanza.”

Foto: Corrie Hansen.

Haar ouboet, George (77), se naam staan daarop. Hy was die laaste Opperman wat op die plaas, wat 80 jaar lank in die familie se besit was, geboer het.

In 1996 was dit een van die eerste plase in KwaZulu-Natal wat in die proses van grondhervorming aan die staat verkoop is.

Die afskeid van hul familiegrond was bitter en het vervreemding tussen Pixie en George gebring.

Hy het gevoel sy verstaan nie wat hy deurmaak nie. In ’n poging om hom te troos het sy op 10 September 1996 ’n brief aan die plaaslike koerant, die Greytown Gazette, oor die verlies van die familieplaas geskryf: “Hierdie is om tot siens te sê.

"Die nagte so donker, jy kan nie jou hande sien nie, maar as jy uitreik, kan jy aan die sterre raak. Die veraf roepe van die mense van die land wat die wind in jou rigting waai. Boeta, onthou jy die vryheid? Die vryheid!” herinner sy George in haar brief.

Die geboue op Mpanza wat twee jaar ná die verkoop aan die staat gebrand en afagebreek is. Foto: Corrie Hansen.
Mpanza in beter tye. Foto: Verskaf.

“Die suur gwenyas, die bombotibome, die wilde bessies van alle soorte. Jagtogte agter vlermuise aan, diep die nag in.”

Maar net die tyd sou genesing bring nadat hulle mekaar agt jaar lank nie gesien het nie.

“Dit was vir my ’n baie moeilike besluit om die plaas te verkoop,” vertel George uit sy woonstel in Durban.

“In die jare daarna was ons baie hartseer en het ons verskillend daarmee omgegaan.’’

Maar ná ’n oproep van Pixie in 2003 het hy besluit om vir haar te kom kuier.

En voor hy verlede September na die feëtuin kom kyk het, het sy vir hom oor die foon probeer verduidelik hoe dit lyk.

Een van die honderde kabouters wat oral in die tuin verskyn. Foto: Corrie Hansen

“Ek het ’n beeld in my kop geskep oor hoe dit lyk, maar dit was so verbasend en verblydend toe ek eindelik daar instap . . . En toe ek Mpanza in die kleine daar sien, het dit my hart gebreek,” erken hy.

Al wat volgens Pixie oorgebly het van die familieplaas soos hulle dit geken het, is ou foto’s, ’n banksakkie met rooi grond wat sy in ’n plakboek bewaar en hierdie nostalgiese herskepping daarvan op ’n hoekie van haar feëtuin . . .

'n Sakkie van Mpanza se grond is en van die min dinge wat die familie nog van die plaas het. Foto: Corrie Hansen.

Haar lewenspad het met vele kronkels en draaie van die familieplaas tot hier in haar tuin aan die Weskus geloop.

Nadat sy op verskillende plekke in die land onder meer as verpleegster en tikster gewerk het, was sy 30 jaar lank onder die naam Pixie ’n bekende eiendomsagent in die noordelike voorstede van Kaapstad.

Op haar “Te koop”-bordjies was ’n elf op ’n paddastoel.

Sy en haar man, Gerrie Maritz (62), het mekaar in ’n gim in Parow ontmoet, en hulle is al 28 jaar lank getroud.

Hy was ses jaar lank betrokke by teenkapingsoperasies langs die kus van Afrika, waar moderne seerowers op vragskepe toeslaan, sê Pixie.

Die stil, ernstige man is haar regterhand in die feëtuin wat hulle ná haar aftrede drie jaar gelede hier kom skep het.

Pixie se seun uit ’n vorige verhouding, Ettienne Swanepoel (54), het toe vir haar die stuk grond gegee om haar “droom te bou”.

Foto: Corrie Hansen.
Foto: Corrie Hansen.
Foto: Corrie Hansen.
Foto: Corrie Hansen.
Foto: Corrie Hansen.

Ettienne, besturende direkteur van ’n reisklubonderneming, het in die afgelope 20 jaar die herberg en twee huise – een vir Pixie en Gerrie en een vir sy gesin – hier van witklip en perlemoenskulp uit die omgewing gebou.

“Gnome, Sweet Gnome,” staan op ’n bordjie by Pixie-hulle se huis.

Pixie het ook ’n dogter met die verhoognaam Milindi Charle (50) wat saam met haar man en medesanger, Fanie Velskoen (60), optree. Hulle woon hier naby op Riebeek-Kasteel.

“Sjjt, luister,” fluister Pixie. Dan hoor jy die geruis van water (gryswater uit ’n tenk) wat oral oor watervalletjies tot in sementdammetjies tuimel en in riviertjies verder kabbel.

Die geklingel van windklokkies lok ’n mens ál dieper in Pixie se sprokieswêreld in.

Die kunstenaar Cliffie Nooi (42), van Mount Fletcher in die Oos-Kaap, het die sementhuisies, watervalle en riviertjies hier kom vorm.

Die nutsman Dixon Andrew (24), ’n vriend van die skrywer Dana Snyman, wat ook hier op die dorp woon, het ook help droom en bou.

In die middel van die tuin is ’n standbeeld van ’n ou man met ’n baard, vasgebind met tou, en in sy hand en oral oor sy lyf is feetjies.

“Dis Gulliver wat hier aangekom het; honger en dors tot die kleinvolk hom onder hande geneem het,” vertel Pixie. Dis die handewerk van die kunstenaar Marcelle Schoeman.

Die kunstenaar Marcelle Schoeman het die 'reus' geskep. Foto: Corrie Hansen.

’n Entjie verder is boomstompe so gerangskik dat dit ’n houtreus met oë en ’n snor en baard van stringe mos vorm. “Dis mnr. Ent,” stel Pixie ons voor.

“Ek vertel vir die kinders as skelms by die deur inkom, raak sy wortelvoete los en stamp hy dit sodat die aarde bewe,” beduie sy dramaties.

“Ek moet haar in toom hou,” lag Gerrie. Maar eintlik is hy bly oor die feëtuin.

“Nou is baie minder van hierdie goedjies in ons huis,” sê hy en wys in die rigting van die magdom feetjies en kabouters.

“Ek lewe nie in hierdie wêreld nie. Dis te wreed,” erken Pixie.

“Ek hoop besoekers sal, soos ek, stilte, skoonheid en liefde in die tuin ervaar . . . en die geborgenheid van kindwees daar op die plaas in Zoeloeland.”