Dis nadat sy 'n hele week lank met 'n koeriermaatskappy gestry het dat sy die eintlike Madonna is en nie ‘n bedrieër wat haar as die Like a Virgin-sangeres voorgedoen het nie. 

Madonna (59) sê sy kon nie die koerier FedEx se kliëntedienssentrum oortuig sy is die popster en hulle kan die pakkie gerus aan haar stuur nie.

Madonna het Dinsdag haar frustrasie met haar 1,7 miljoen Twitter-aanhangers gedeel: “Wanneer jy al 'n week lank met FedEx stry dat jy regtig Madonna is en hulle wil steeds nie jou pakkie loslaat nie.”

En toe eindig sy dit af met so ‘n vloekwoordjie daarin om haar frustrasie te beklemtoon. 

Die idee dat selfs Madonna moet wag op ‘n pakkie en met kliëntedienssentrums moet baklei, het haar aanhangers se verbeelding aangegryp. 

Madonna se aanhangers het stories met haar gedeel oor hoe lank hulle metmaatskappye se kliëntedienssentrum moes baklei oor pakkies wat nooit opdaag het nie of laat was. 

FedEx Help, die maatskappy se Twitter-hulpblad, het toe na Madonna uitgereik, ure nadat sy die inskrywing op Twitter geplaas het. 'n Werknemer van FedEx het geskryf: “Hi, dit is Julie. Ek sal graag wil help. Stuur asseblief vir my 'n boodskap met jou afleweringsadres, opsporingsnommer en telefoonnommer.”

Madonna het onlangs uit Amerika na Portugal verhuis en sê sy werk daar aan nuwe musiek.