Toe hul covid-19-toetsuitslae positief is en die simptome albei se brose liggaam beetpak, het hulle gewens dit wil net eindig. En dit het dalk, was dit nie dat Willem (93) deernisvol uit sy hospitaalbed vir sy vrou liefdesliedjies gesing het nie.  

Rita (90) erken sy het gebid dat haar lyding eindig. “Ek het die Here gevra om my te kom haal, want dit het net te veel geword vir my om te verduur.” Willem het ook gebid.

“Op die ergste tye het ek begin bid dat dit hopelik nog net nag sou wees en dat ek dan sou begin beter voel of hopelik nie meer sou leef nie. 

“Toe begin ek beter voel en daarmee saam het die hoop gekom dat jy steeds die lewe kan geniet. Toe begin ek sing,” sê hy uit sy huis in Kempton Park wat hy met sy vrou en dogter, Annemarie Strauss (63), deel.

Annemarie het ook die virus oorleef.  

’n Videogreep waarop Willem vir sy geliefde sing het soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei en hy en Rita is ná drie weke in die hospitaal huis toe nadat albei ten volle herstel het. Die egpaar is oortuig hul liefde – en Willem se sang – was vir hulle die verskil tussen lewe en dood. “Ek luister graag hoe hy sing,” sê Rita.

“Die liedjies het my hoop gegee. Net die wete dat hy daar by my was en dat hy my steeds liefhet.” Hulle is verheug om nou weer by die huis te wees. 

“Dis wonderlik,” sê Rita. 

“Ons voel baie beter. Dis moeilik om dit te beskryf. Mense sal dit nie verstaan as hulle nie deurgemaak het wat ons deurgemaak het nie. Daar is geen beter gevoel as om by die huis te wees nie, by familie, by liefde en, bowenal, saam as man en vrou.”

Die egpaar het steeds geen idee hoe hulle die virus opgedoen het nie, want hulle het al die nodige voorsorgmaatreëls getref. 

Toe hulle kwaai griepsimptome begin ervaar, het hulle hulle laat toets. En hulle was geskok toe die uitslag positief is. Die egpaar is in Julie in die Cosmos Life-hospitaal in Witbank opgeneem waar hulle drie weke gebly het. 

“Die eerste twee weke was die ergste. Dit was baie traumaties,” sê Rita. 

“Ek kan net die Here dank dat Hy my deur daardie tyd gedra het. Ek wil amper nie eens daaraan dink nie, want dit kon die einde gewees het.” Rita sê sy het in die eerste twee weke in die hospitaal heeltyd haar bewussyn verloor en dan weer bygekom, gesukkel om asem te haal en gebid dit alles moet “deur middel van die dood” eindig.

“Namate my toestand verbeter het, het ek begin bid dat die Here sou vergewe vir die gedagtes wat ek gehad het om Hom gevra het om my eerder te kom haal.” 

Willem sê hy hoop hy voel nooit weer so aaklig soos hy in die hospitaal gevoel het nie. “Ek wil nooit weer so voel nie. Ek het selfs begin dink: ‘Moet ek hierteen baklei of moet ek opgee?’ Dit is nie maklik om te sê jy wil net opgee nie, want die enigste ding wat volg, is die dood en jy sal nooit weer jou familie sien nie. Dit was aaklig.”

Die egpaar se enigste troos was dat hulle in beddens langs mekaar in die hospitaalsaal was. Namate Willem sy krag teruggekry het, het hy vir Rita begin liefdesliedjies sing om haar op te beur. 

Annemarie sê dit was hartroerend om te sien hoe haar ouers mekaar in die hospitaal ondersteun het, soos hulle regdeur hul huwelik gedoen het. 

Annemarie, wat ook herstel het, sê sy en haar ouers sonder hulle nog af en sal ekstra versigtig wees om te verhoed dat hulle covid-19 herleef. 

Die Snymans sal binnekort nog ’n rede hê om fees te vier – op 2 September sal hulle Willem se 94ste verjaardag en hul 70ste huweliksherdenking vier.

“Ons kan nie glo dit is al 70 jaar nie! Die tyd vlieg wanneer jy pret het. Ons het mekaar nog net so lief soos op die dag toe ons mekaar ontmoet het. Dit is ’n leeftyd,” sê Rita met 'n laggie.

Hulle het mekaar in 1948 ontmoet toe Willem Rita van verdrinking uit die Hennopsrivier gered het. Rita, haar destydse kêrel en hul vriende, onder andere Willem, het by die rivier piekniek gehou toe Rita en haar kêrel gaan swem het.

Die stroom het haar ingetrek. Willem het haar sien sukkel en ingeduik om haar te red.

“Dis waar die romanse begin het," sê hy. Terwyl hy in haar blou oë kyk, voeg hy by: “Ek het geweet ek sal met haar trou.”

Die twee was onafskeidbaar sedert daardie dag en hulle is twee jaar later getroud. Rita het vir die poskantoor gewerk voor sy ’n voltydse tuisteskepper geword het nadat hul eerste kind gebore is.

Willem, ’n vakman, het in 1984 uitgetree, maar aanhou werk as sweiser vir fabrieke en aan motors herstelwerk gedoen. “Hulle is die hardwerkendste mense wat ek ken,” sê Annemarie.

“Ouma hou die huis en die geldsake aan die gang en oupa het tot nege of 10 maande gelede nog gesweis en vlekvryestaal-braaiers in sy garage vervaardig.

“Almal is lief vir hulle. Ouma het ons geleer koekies en beskuit bak en oupa het ons leer bestuur, sweis – en bier en wyn maak.

“Hulle het ’n verskil in die lewe van al hul kinders en kleinkinders en agterkleinkinders gemaak – hoe ons leef en hoe ons ander mense behandel.” 

Die egpaar was nog altyd lief vir musiek, sê hul kleinseun Michael Vorster. “Hy is altyd aan die liefdesliedjies sing vir haar. Dis so romanties. Een van ons gunstelinge is ‘You Are My Sunshine’.”

Hulle is vir mekaar gemaak, sê Willem. “Ons het mekaar van dag een af liefgehad en ons is steeds gelukkig verlief,” sê Rita. 

“Die liefde oorwin alles.”