Jaco Terblanche
Marinique Terblanché van Thabazimbi in Limpopo sê dis net genade dat haar seuntjie, Jaco (4), leef nadat hy deur ’n swartmamba gepik is. Foto: Verskaf

Dis ’n frase wat geen ouer wil hoor nie: “Jy het ’n halfuur om by die hospitaal te kom – of jou seuntjie leef dalk nie.” 

Dis dié woorde wat haar laat glo dis ’n wonderwerk dat haar vierjarige seuntjie leef nadat hy deur ’n swartmamba gepik is, sê Marinique Terblanché van Thabazimbi in Limpopo. Veral omdat klein Jaco se eerste dosis teengif eers vyf uur ná die dodelike slangbyt toegedien is.

“Dis niks anders as genade nie,” sê Marinique aan Huisgenoot.

Marinique en haar susters, Marilie en Annerie Niemann, het op 4 September by haar ma en stiefpa, Fina en Paul van Deventer, se kleinhoewe net buite Modimolle gekuier toe hulle omstreeks 13:00 die angsgille van die kinders hoor, onthou sy vandag.

Die gesin was saam om Annerie ná die dood van haar kêrel te ondersteun.

Jaco en sy twee sussies, Mari (7) en Riani (1), het in die sitkamer gespeel. “Hulle het gesê hulle het ’n slang tussen die speelgoed gesien,” sê Marinique.

Jaco Terblanche
Jaco het altesaam nege ampules breëspektrum-teengif in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion ontvang. Foto: Verskaf

Die slang – ’n swartmamba – is ná sowat 10 minute binne die huis gevind en doodgemaak, sê sy.

“Ons het aanvanklik nie besef Jaco is gepik nie, want Marilie het al drie ondersoek, maar nie iets gesien nie,” vertel sy aan Huisgenoot.

Maar ná sowat 20 minute was dit duidelik dat Jaco olik was: Sy regtervoet het geswel en hy het later moeilik begin asemhaal.

“Ons het weer mooi gekyk en toe die slangbyt onder sy voet opgemerk. Ek was histeries, soos enige ouer sal wees. Almal van daardie omgewing weet die pik van ’n swartmamba is dodelik – dat jy dikwels net ’n halfuur het om teengif toe dien, anders is dit te laat. Die neurotoksiese gif val die senuweestelsel aan.” 

Die volgende uitdaging sou hulle in die gesig staar: Nie hulle plaaslike huisdokter of die plaaslike kliniek het ’n breëspektrumteengif in voorraad gehad nie. Marinique het by ’n derde plaaslike dokter om hulp aangeklop, maar dié was glo oortuig Jaco se simptome is die resultaat van ’n perdebysteek en het hom daarom met antihistamien gespuit.

“Ons sou eers later hoor dit was ’n groot fout,” sê Marinique. “Die antihistamien het hom lomerig gemaak, en in Jaco se geval was dit kritiek dat hy wakker bly tot hy behandel word.” 

Daarby saam het Jaco se simptome net bly vererger: Hy het konstant gebraak en gebewe, uitermatig gesweet en het erge asemnood ervaar. 

Jaco Terblanche
Van links is Marinique, Riani, Mari en Jaco. Foto: Verskaf

Uit desperaatheid het Paul met Theuns Victor, ’n plaaslike slangkenner, kontak gemaak, en dié het die slang as ’n swartmamba geïdentifiseer. Theuns het kontak gemaak met Arno Naudé, ’n kenner van Snake Bite Assist, wat die gesin aangespoor het om dadelik ’n ambulans te ontbied. 

“Jy kan jou indink wat deur ’n ma se kop gaan,” sê Marinique. “Ons was doodbekommerd.” 

Nadat ’n ambulans Jaco omstreeks 16:00 opgetel het, het Arno – deeglik bewus van hoe min tyd oor is voordat die neurotoksiese gif dalk tot Jaco se dood lei – sy stiefdogter, Charlene Gebhardt, ’n paramedikus met kennis van slangbyte, gekontak. Charlene en haar ma, Heidi Pfeifer, het die ambulans by die Carousel-tolhek op die N1 ontmoet.

Dit was Charlene wat met die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion gereël het om hulle in te wag.

“Volgens Charlene was Jaco toe al in ’n kritieke toestand,” sê Marinique opnuut emosioneel. “Ek het net gebid dat die Here my kind spaar – dis al wat ek heeltyd gedoen het.”

Jaco Terblanche
Klein Jaco is mal oor die buitelewe, vertel sy ma. Foto: Verskaf

In die hospitaal moes Jaco altesaam nege ampules teengif ontvang. Maar daar was eindelik goeie nuus: Jaco sou leef.

“Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar almal sê vir ons dis net genade dat hy dit gemaak het. Arno-hulle het aan ons verduidelik dat dinge baie anders sou wees as dit ’n volwasse swartmamba was wat hom gebyt het, maar dit het later geblyk dit was ’n jong slang. En ek glo dit, maar ek weet ook die Here se hand was oor ons gewees.” 

Jaco is al op 5 September ontslaan. Deesdae is die traumatiese ervaring lank vergete, spot sy ma. 

“Wanneer ek so na hom en sy sussies kyk waar hulle speel of sommer net kind is, besef ek dikwels dit kon so anders gewees het. Ek weet nie wat ek sou doen sonder elkeen van die mense wat ons daardie dag bygestaan het nie, my kind leef danksy hul goedheid.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe