braai
Ursula Lawrence en Lesley Khumalo het ’n braai gehou vir hul werknemers om hulle vir hul harde werk te beloon. Foto: Facebook

Dit was veronderstel om net ’n lekker hoenderbraai te wees. Nét die ding om te ontspan ná ’n bedrywige tyd.

Maar toe is vuil borde allermins die grootste geneuk ná die tyd . . .

Die dramatiese nadraai van daardie braai sal altyd in Ursula Lawrence se geheue ingeëts wees.

“Dit was die aakligste ding wat ek in my lewe gesien het,” sê die 55-jarige uit Thornton, Kaapstad.

“Dit was soos iets uit ’n rolprent.”

Want al het die kuier by haar huis vrolik begin, het dit een gas met ’n ernstige oogbesering gelaat en ander met stukkende tande en beenbeserings.

En dít omdat een van die gaste hom vervies het en toe met sy motor deur die hek na die erf gebars het – vas in die kuiergaste.

‘Dit was die aakligste ding wat ek in my lewe gesien het. dit was soos iets uit ’n rolprent’

Die probleme het begin toe ’n man by die partytjie ’n argument met sy vrou gehad het, vertel Ursula. Hy het aangedring dat sy die braai saam met hom verlaat, maar sy het geweier. In ’n woedebui het hy toe volspoed met sy motor teen die hek van die eiendom vasgejaag en die swaar metaalversperring laat omval op die mense wat op die inrit gestaan en gesels en eet het. 

Dié man, Nathanael Felix, is intussen aan vier aanklagte van poging tot moord skuldig bevind vir die gebeure op 1 Desember 2018. Hy is in 2020 tot ses jaar tronkstraf gevonnis, en het onlangs in die hooggeregshof in Kaapstad om appèl aansoek gedoen.

Maar regter Robert Henney het die aansoek verwerp.

braai
Wat 'n lekker braai moes wees, het vinnig in 'n nagmerrie ontaard. Foto: Getty Images/ Gallo Images

“Hy het opsetlik deur die hek gery, want sy vrou wou nie saam met hom huis toe gaan nie,” het die regter in sy uitspraak gesê.

“Hy was ontsteld omdat Khumalo (een van die ander gaste) vir hom gesê het sy vrou is nie sy eiendom nie en dat sy nie saam met hom wil gaan nie. Om daardie rede het hy só opgetree.”

Lesley Khumalo (49) is Ursula se kollega en die man wat gesiggestremd gelaat is nadat sy oog as gevolg van die hekversperring wat op hom geval het uit sy oogkas gespring het.

So ’n besering “bly jou altyd by,” sê Ursula.

En nou, nadat die sage eindelik in die hof sy einde bereik het, sal die woorde “Kom ons braai” nooit weer vir haar dieselfde beteken as voorheen nie.

Ursula en Lesley het in 2018 ’n mobiele motorwasonderneming begin en vyf mense uit minderbevoorregte agtergronde gewerf om hulle te help.

Die hek het op hom geval, en dit het sy linkeroog uit sy kas laat spring

“Ons was taamlik besig, motors het ingekom en ons het ook in daardie stadium mobiele skoonmaakwerk gedoen,” vertel Ursula.

“Ons het SAL-persele skoongemaak en ’n paar korporatiewe maatskappye ook gedoen.”

Die twee vennote het in Desember 2018 besluit om ’n braai vir hul werknemers te hou om hulle te beloon vir hul harde werk.

“Hulle was uitgeput,” verduidelik Ursula.

Ursula se oudste seun, Shannon (35), wat vir die dag kom kuier het, het die braaivleisvuur beman en sy broer, Wesley (25), het ook saamgekuier. Die ander mense in die groep was die motorwaswerknemers Chantel Petersen, Lee Daniels en Shahied Hendricks.

A spooky, mysterious hooded figure, standing next
Dit moes eintlik net 'n lekker braai gewees het. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Twee ander werknemers is vroeg weg om hul trein te haal. Meer as halfpad deur die aand het Nathanael en sy vrou, Meghan, wat daar naby gewoon het, ingeloer om te hoor of hulle hul motor kon laat was, maar hulle moes hoor die onderneming is gesluit vir die dag.

Omdat Ursula en Lesley hul eie onderneming gehad het, wou Nathanael – wat ’n kombuis- en badkamerkontrakteursbedryf in Thornton bestuur het – ’n paar maande voor die voorval hê hulle moes hom sy onderneming help registreer.

“Ons het die ou gehelp, en ons het hom raad oor belasting en sulke goed gegee,” sê Ursula, wat met haar tweejarige kleindogter gespeel het toe hulle daar aankom.

Meghan het gesê die hoender lyk lekker en Ursula het die egpaar genooi om vir ete te bly.

“Ek het vir almal gesê: ‘Oukei ouens, hier’s julle kos. Julle kan julle slaai gaan skep,” onthou Ursula.

Meghan het toe kombuis toe gestap vir haar slaai – en toe ontvou die dramatiese gebeure.

braai
Nathanael Felix het deur die ysterhek gebars. Foto: Verskaf

“Nathanael stap toe in, gryp die bord uit haar hand en smyt dit op die toonbank. Hy trek toe aan sy vrou se arm en sê: ‘Ons gaan nou huis toe.’ Ek het gesê: ‘Weet jy, Nathanael, jy moet my huis respekteer. My kleinkind is hier in my arms en jy doen dit – kan jy asseblief kalmeer en huis toe gaan.’ Nathanael sê toe: ‘Sy is my f***** eiendom, moet jy nie vir my sê wat om met my vrou te doen nie.’ 

“Die egpaar is daar weg, maar het 10 minute later teruggekeer terwyl almal op die inrit geëet en gekuier het. Ek is steeds nie seker hoekom hulle teruggekom het nie,” sê Ursula.

Meghan was in trane en het haar ma gebel en gesê sy wil huis toe gaan. Terwyl sy op die foon was, het Lesley ’n woedende Nathanael van die eiendom af begelei waarna ’n bitter woordewisseling gevolg het.

“Ek het kalm gesê: ‘Luister, boet, jy kan nie so met jou vrou praat nie,” vertel Lesley.

“En hy het gesê: ‘Sy is my vrou, sy is my eiendom.’ Ek het gesê: ‘Nee, sy is nie jou eiendom nie, jy besit niemand nie.’"

Lesley vertel Nathanael het toe iets gesê wat hom koue rillings gegee het: “Dit is die laaste woorde wat jy ooit vir my sal sê.”

braai
Hy het met die lang inrit af gery en teen Ursula se kar gebots. Foto: Verskaf

Toe spring hy in sy Golf GTI, ry agteruit en bars deur die ysterhek, jaag met die lang inrit af en bots teen Ursula se Volvo.

Lesley is eerste getref.

Die hek, wat so swaar is dat agt mense nodig is om dit op te tel, het op hom geval, en dit het sy linkeroog uit sy kas laat spring.

“Ek sou nie kon dink iemand sou so iets kon doen nie,” sê hy. Toe Ursula die slag hoor, het sy buitentoe gehardloop.

“Almal het op die grond gelê, vol bloed. Ek het geskree: ‘O, hemel, wat gaan aan?’ ”

Sy het ’n Uber ontbied om almal hospitaal toe te vat. Die voorval het Shannon met ’n gebreekte tand, Lesley met ’n beseerde rib, gewrig en oog, en die werkers met been- en gewrigsbeserings gelaat.

Nathanael het toe uit sy kar gespring en na die naaste winkel gehardloop, waar hy beweer het Ursula en Lesley het sy vrou gekaap en wil hom vermoor.

Lesley is steeds verstom oor wat gebeur het. “Ons weet steeds nie presies wat hom so kwaad gemaak het nie.”

Nathanael is kort daarna in hegtenis geneem en skuldig bevind. Die regter het hom as “jaloers en besitlik” beskryf en het Nathanael se bewerings verwerp dat Lesley en Ursula sy vrou probeer ontvoer het.

“Dit is moeilik om my voor te stel Khumalo sou kop in een mus met Lawrence so ’n bose plan bedink,” het die regter gesê.

Amper drie jaar ná die voorval ly Ursula en Lesley steeds aan die gevolge van wat daardie dag gebeur het.

Lesley is deels blind gelaat en moes chirurgie ondergaan om sy oog in die kas terug te sit. Weens die skade aan sy gewrig, kan hy nie behoorlik met sy linkerhand vasvat nie.

Ursula moes die hek, wat R30 000 werd was, laat regmaak en haar motor ter waarde van R150 000 is afgeskryf. Boonop moes sy en Lesley hul motorwasonderneming sluit, want hulle het nie meer ’n motor gehad om hul werknemers en toerusting te vervoer nie.

Die sakevennote het altesaam R600 000 verloor, sê hulle.

Lesley sê Nathanael het nog nie berou getoon vir wat hy gedoen het nie, maar hulle het besluit om hom te vergewe.

“Hy is nou in die tronk,” sê Ursula. “Ek bid dat God sy hart oopmaak.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe