As jong knapies van Kuilsrivier was dit hulle grootste vreugde om prentjies te teken en vandag het twee broers van Kuilsrivier daarin geslaag om dié passie en talent in ’n suksesvolle besigheid te omskep.

Craig (32), wat voorheen onder meer in verkope gewerk het, en Kallyn (27) McGregor, wat by 'n inbelsentrum gewerk het, het ’n paar jaar gelede hulle korporatiewe werk eenkant geskuif en ’n tatoeëeronderneming begin en vandag bou hulle ’n suksesvolle besigheid wat geskoei is op naalde, ink, hope passie en deursettingsvermoë.

Craig McGregor doen 'n tatoe vir Carl Abrahams.

“Ons het gesien daar is ’n leemte in die mark,” vertel Craig. “Mense het die heeltyd stad toe gegaan vir tatoes en nou kan hulle dit net hier kry.”

Hulle het Murder Ink Tattoo & Piercing seker sowat agt jaar gelede begin, maar dit het eers ’n ander naam gehad voor hulle dit amptelik geregistreer het.

'n Sleg-woord wat 'besonder goed' beteken

Die naam Murder Ink is afkomste van populêre kultuur en die woord “moord” word gebruik as ’n sleg-woord om iets besonder goed te doen.

Kallyn en Graig McGreggor was van kleins af lief daarvoor om prentjies te teken.

So gemotiveerd is hulle om die besigheid te laat werk, hulle was vanjaar deel van die 20 Wes-Kaapse entrepreneurs wat uit dorpsgemeenskappe gekies is om ’n geborgde opleidings en mentorskap Kleinsake-akademieseprogram van die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool te voltooi.

“Ons het aanvanklik net op ons eie kennis staat gemaak en dit was lekker om aan meer inligting blootgestel te word,” vertel Craig.

Volgens hom is een van die belangrikste goed wat hulle geleer het dat bemarking ongelooflik belangrik is en dat mens jou finansies behoorlik moet struktureer.

Graig sê dit is baie bevredigend om te kan terugploeg in ’n gemeenskap waar hulle as kinders soveel tyd deurgebring het.

Hulle sal in Desember van die program gradueer.

Kallyn McGregor werk aan 'n tatoe vir Carlyn Newman.

Skeppingsdrang

Die twee broers sê hulle het hulle kunstalent van beide hul ouers gekry. Hulle ma is ’n kuns-onderwyser en hul pa is ook ’n talentvolle kunstenaar.

Dit is ook die liefdevolle huis waarin hulle grootgeword het wat hulle help om enige konflik tussen mekaar op te los.

“As daar ’n probleem is sal ons daaroor praat en dit hanteer en ook agter ons sit. Dit is belangrik, want die besigheid moet voortgaan.”

Van uniek tot vreemd

Hulle is dol oor die industrie waarin hulle is en tussen mekaar spog hulle met sowat veertig van hulle eie tatoes. Hulle sê tatoeëerings gee aan iemand die geleentheid om hulle persoonlikheid en passie op ’n unieke en soms vreemde manier uit te druk.

Craig sê ’n tatoeëermerk van hoendervlerkies en ’n sny pizza tel gewis onder van die vreemdste versoeke wat hy al gekry het. En Kallyn het ’n bejaarde vrou gehelp om haar vriend te verras met ’n tatoeëermerk van die vriend se naam op haar agterstewe.

Toekomsdrome

Die broers sal graag hul besigheid wil uitbou tot een van die voorste tatoeërstudio’s in Suid-Afrika, maar wil ook ’n omgewing en platform te skep waar ander talentvolle kunstenaars ook kan floreer.