Só vertel Wilma Ross, wat ná drie weke in die waakeenheid, waarvan twee in ’n koma en op ’n ventilator, en toe ’n intensiewe rehabilitasieprogram, nou weer tuis is in Kaapstad, en “amper weer soos my ou self begin voel”.

Sy het die Woensdag, 24 Junie, siek begin voel en “hierdie groot moegheid” ervaar.

“Die Donderdag is my dogter, Abigail, by my, en ek vra haar om kos te maak en huis skoon te maak, want ek voel terrible,” vertel Wilma aan Huisgenoot pas nadat sy van die Intercare- mediese sentrum in Durbanville by die huis aangekom het. Sy moes by dié sentrum omtrent van nuuts af leer loop, eet en aantrek.

“En daardie Vrydag kon ek dit glad nie meer hanteer nie; die duiseligheid, naarheid, moegheid en brandpyn agter in my rug,” vertel die administratiewe beampte van die Anglikaanse kerk in Faure.

“En as jy dan nog lê?” het haar man nog gevra toe hy van die werk af kom kort voor haar doktersafspraak vyfuur daardie middag. Toe Abraham haar so afgemat sien, en ’n sjokolade wat hy vir haar vroeër gekry het – ’n seldsame bederf vir haar as diabeet – ook onaangeraak sien, het hy dadelik gesê sy moet aantrek, hy neem haar dokter toe. Maar in daardie stadium kon sy dit nie eens self doen nie; Abigail het gehelp.

covid
Wilma by haar dogter, Abigail, en haar man, Abraham, in die dae voor covid-19. Foto: Verskaf

“Die dokter het my onmiddellik ondersoek en gou ná ’n meting gesê ek kry nie genoeg suurstof nie. Maar selfs toe het dit nog nie by my geregistreer dat dit covid-19 kon wees nie. Want ek was dan nog heeltyd verskriklik paranoid daaroor. Ek het almal in ons huis gedurig laat sanitiser gebruik, hande laat was, eers uittrek en gaan bad met hul tuiskoms . . . juis omdat ek en my man albei diabete is.”

Sy het boonop hoë cholesterol en hoë bloeddruk; hy ook tot ’n mate. “Buiten dit is ons nie sieklike mense nie.” Hulle het ’n redelik gesonde leefstyl gehandhaaf.

‘Ek het begin hoes en hoes . . . en toe was dit net bloed’

Die dokter het haar sonder versuim na die Mediclinic Louis Leipoldt in Bellville gestuur, waar sy met haar aankoms in die ongevalleafdeling onmiddellik vir covid-19 getoets is, met die resultaat positief. Haar man, dogter en seun, Avron, moes uiteraard toe ook getoets word.

Laasgenoemde was negatief, en hoewel Abraham en Abigail positief was, het hulle baie min simptome getoon en sedertdien herstel.

Interessant genoeg was asemnood nie een van haar opvallende simptome nie.

“Dit het nie vir my gevoel asof ek moeilik asemhaal nie. Ek was wel kwaai duiselig, verskriklik moeg en met tye naar. Maar die huisdokter het gesê my suurstofvlak is baie laag. By die hospitaal aangekom, het hulle my ook dadelik suurstof gegee.” (Waar suurstof onder druk deur ’n pypie in die neus toegedien word omdat jy nog sonder ’n masjien kan asemhaal.)

“Ek onthou ek het die Vrydagnag in die hospitaal nog lekker geslaap. Maar toe hulle my in die vroeë oggendure kom was, toe gaan ek aan die hoes, en hoes . . . ”

Dit was so erg dat sy naderhand die suster ’n stuk sneespapier gevra het om voor haar mond te hou, want iets het nie vir haar reg gevoel nie. “En toe ek weer na my hand kyk, was dit net bloed. Ek weet nie wie groter geskrik het nie, ék of die suster, maar sy het net een gil gegee, en die dokter het kom kyk.

“Ek het aanmekaar bloed opgebring . . . en dit was die laaste wat ek kan onthou.”

Bloed ophoes of -gooi is een van covid-19 se seldsamer simptome, maar dit kan gebeur, nes ook soms met kwaai longontsteking. Die moontlike rede, volgens die American Lung Association, is dat lugweg-inflammasie soms die ‘voering’ of buiteoppervlak van die lugweë baie broos maak, en die klein bloed- of haarvaatjies daar beskadig.

“Ek het nou pas met my dogter gepraat oor hoe my gesin alles ervaar het,” vertel Wilma. “Die hospitaal het daardie naweek my man gebel en gesê dat hulle my op ’n ventilator plaas. En so was ek twee weke lank in ’n koma en op die ventilator en toe nog ’n week in ICU.”

covid
Wilma saam met Abigail. Hulle is ewe positief oor die lewe en het dieselfde humorsin. Foto: Verskaf

'Wonderwerk'

Toe sy 10 Julie haar bewussyn herwin, het sy in haar eerste oomblikke van ontwaking die teenwoordigheid van haar oorlede ouers, aan wie sy baie geheg was, langs haar bed ervaar, glo Wilma. “My pa het altyd vir my en my susters gesê hy en ‘die ou girl’ sal ons altyd oppas.”

Haar dokter by die hospitaal het teenoor haar erken hy het getwyfel of sy sou oorleef, "en gesê dit was ’n wonderwerk”, vertel Wilma.

Ná alles glo sy geloof het haar deurgetrek. "Dit was geloof en die Here se genade en barmhartigheid.”

Van haar familie het ’n gebedsgroep begin, “al ons gemeentelede het in gebed ingegaan”. Abraham het dikwels stil-stil op die hospitaaltrap gebid.

Sy is eers vanuit die waakeenheid na ’n algemene saal oorgeplaas en spoedig daarna na die rehabilitasiesentrum. "Toe ek daar kom, kon ek omtrent nog niks self doen nie. Ek kon nie eens my hande oplig om te eet nie. Hulle moes my voer, was en aantrek.

“Maar nou stap en stort ek self. Ek het Abigail juis ook nou vertel hoe ek gister op die oefenfiets in die rehabilitasiesentrum gery het en my been- en greepkrag daar gemeet is. My regterkant is van omtrent nul op na 39%, en my linkerkant was 81%.”

Toe haar man haar kom haal en wou help, het sy hom ook gou aangespreek: “Los, los . . . ek gaan nie met ’n walker loop nie, ek kan self stap tot by die kar – hou net my hand vas.”

Sy was nou met haar aankoms tuis ’n bietjie bekommerd oor die trappies na die voordeur, erken sy. “Maar ek het dit gemaak.

“Ek begin amper weer soos my ou self voel, behalwe dat ek nog alles stadiger doen.” En dan skerts sy eers opgeruimd: “My man en dogter het so gelag. Jy weet mos as ’n babatjie begin loop, dan loop hy amper so op sy tone met die handjies in die lug. Dis hoe ek loop, hoe ek my nog vir eers balance, met my hande in die lug,” vertel sy, en lag heerlik.

Buiten geloof het ingesteldheid haar ook deur haar covid-19-stryd gehelp, sê Wilma toe ons groet. “Jy kan nie negatief wees nie, jy moet baie positief bly.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe