Die ure, dae en weke raak verstrengel. Sy herken dikwels nie haar kollegas agter die lae beskermende klere en maskers terwyl hulle van die een sieke na die volgende skarrel nie. En altyd is daar die vrees in die oë van die siekes wat om elke asemteug veg . . .

“Maar dis meer as die vrees. Hulle is te moeg om te huil. Hulle is nie kwaad nie. Hulle wys geen emosie nie. Dit is ’n totaal afgestompte kyk. En ek dink dit is omdat hulle so moet fokus om te kan asemhaal.”

Maar wanneer sy fisiek en emosioneel uitgeput by haar woonstel kom ná nog ’n lang dag in die oorlog teen covid-19, kan sy steeds nie ontspan nie. Eers is daar die eindelose ritueel om te sorg dat sy nie die virus in haar eie woonplek inbring nie.

“My tekkies trek ek by die voordeur uit. Ek gooi my klere dadelik in die was en vat dan ’n warm stort,” vertel dr. Karienya Kasvalu, wat in die noodeenheid van ’n privaat hospitaal in Kaapstad se noordelike voorstede werk. Maar selfs dan voel dit soms asof die virus dalk nog aan haar kleef.

“Ek dra gelukkig verskeie lae beskermende kleredrag by die hospitaal. My hare is ook altyd bedek. Maar soms, al is dit nie my gewone haarwasdag nie, was ek ook my hare omdat ek voel ek is dalk vroeër blootgestel.”

Dr. Karienya Kasvalu in haar beskermende kleredrag
Dr. Karienya Kasvalu in haar beskermende kleredrag. Foto verskaf

En steeds kan sy nie rustig raak nie.

“Daarna spuit ek die deur- en wasmasjienhandvatsels waaraan ek met die inkomslag gevat het skoon met ’n ontsmetmiddel wat alkohol bevat.”

Ons voer ’n videogesprek met Karienya (33) pas nadat sy haar tuiskomsritueel voltooi het. Sy dra ’n snoesige grys japon, want die Kaapse oggend is koud. Karienya het ’n nagskof van 12 uur agter die rug. Sy het kort ná 03:00 haar “middagete” gehad, vertel sy laggend. “Ek hou nie meer tred met die tyd nie.”

Sy lyk moeg.

“Ons is onder geweldige druk. Ek kan dit nie eens vir mense verduidelik nie. En die probleem is dis nie net ons nie. Elke liewe hospitaal is so. Staatshospitale én privaat hospitale.”

Die infeksiekoers styg by die week. En dit is maar die begin, waarsku sy.

Hier in die Wes-Kaap, wat reeds die hoogste infeksiekoers in die land het, is daar geen teken dat die pandemie homself begin uitwoed nie.

Toe die streng nasionale inperking einde Maart amptelik begin het, was dit eensklaps stil in die noodeenheid.

“Ek het snaaks genoeg die stilste oggende gehad . . . Ons was soos, yes! Die nagskofte het goed verloop; die dae was goed,” vertel Karienya. Skielik was daar tyd om koffie te drink saam met kollegas of vir ’n geselsie in die gange. Want mense kon nie alkohol koop, werk toe gaan of kuier nie. Die paaie was grafstil. Die gevolg was ’n drastiese afname in traumagevalle.

“Ons het nie baie breuke, skietwonde of steekwonde gehad nie. Ek het vir my kollegas gevra: Waar is die mense wat hartaanvalle kry? Beroertes? Want al wat ons sien, is COVID-19-gevalle, mense wat positief getoets het.”

Mense het ook nie meer vir enige nonsens na die nood­eenheid gekom nie. Die eerste nege weke van die inperking het dit so gegaan. “Dit was eintlik rustig.”

Te rustig.

Toe word die inperkingsreëls verslap tot vlak 3 – en skielik begin die messteekgevalle en motorongelukslagoffers weer instroom. En terselfdertyd begin die aantal covid-19-positiewe pasiënte toeneem.

Voor enigiemand in die hospitaal opgeneem kan word, om watter rede ook al, moet hulle eers vir covid-19 getoets word.

“En almal het positief begin toets. Baie van die mense wat om ander redes hospitaal toe gekom het, is asimptomaties.” Dit beteken hulle weet nie hulle het covid-19 opgedoen nie omdat hulle nie siek voel nie.

Baie mense het aanvanklik ligte simptome gehad, maar binne ’n week het hul toestand baie verswak.

“Dit is mense wat huis toe gegaan en dan weer baie sieker na ons teruggekom het. En hulle is jong mense, tussen 36 en 48,” vertel Karienya. Die kommer op haar gesig verdiep: “So ons epidemiologie lyk baie anders as ­ander lande s’n. Die siekte lyk anders hier.”

Ondanks haar moegheid praat sy met passie oor haar werk.

Karienya en die ander mediese perso­neel met wie s
Karienya en die ander mediese perso­neel met wie sy saamwerk, probeer om moed te hou ten spyte van die uitdagende omstandighede waaronder hulle werk. Foto verskaf

“Die dokters in die noodeenheid is die hospitaal se voetsoldate. Want ons is die eerste punt van kontak vir enigiets – instappe, ambulanse, selfs die mense wat na spesialiste toe gaan. Ons moet alles sien, sorteer en na die regte afdeling stuur.”

Hulle moet heeltyd op hul voete dink. En deesdae moet hulle ook kophou wanneer hulle deur die hospitaal beweeg. Die hospitaal is weens die pandemie in “kleursones” opgedeel: rooi vir covid-­19-pasiënte, oranje vir net voor jy ’n rooi-­sone betree en groen vir pasiënte wat negatief getoets het.

Die beskermende kleredrag vir elke sone is anders – van slegs gesigsmaskers en handskoene tot plastiese gesigskerms en eindelik die hazmat-oorpakke.

“En elke keer wanneer ons een beskermende klerestuk uittrek, moet ons weer ons hande ontsmet,” verduidelik sy. Dié nimmereindigende taak tussen sones word slaafs toegepas, want dit is hoe almal veilig bly.

“Soms sal iemand in ’n oorpak my groet. En as ek hulle goed ken, sal ek hul oë herken. Maar nou die dag, toe ons iemand moet bybring, was my vyf kollegas vir my net vyf malvalekkers in ruimtepakke. Ek het nie geweet saam met wie ek werk nie, ” vertel sy kopskuddend.

“Ons het nou ook ’n PUI-saal. Dit staan vir persons under investigation. Dus, ­pasiënte wat vir allerhande toestande opgeneem is, maar hul covid-19-status is onbekend. Hulle bly daar tot ons weet. Wanneer ons weet, stuur ons hulle na die kleursones.” En ál meer gaan na die rooi sone toe.

“Dis die gevaarsone.”

Dis ’n voortdurende stryd om genoeg beddens vir almal te vind; daarom moet pasiënte dikwels na ander hospitale oorgeplaas word. En hul toestand kan baie vinnig van stabiel tot kritiek verander.

Om dinge te vererger, word baie hospitaalpersoneel ook siek.

“Ek moes nou die dag laat werk om die matrone te help rondbel om beddens in ander hospitale te vind, want ons verpleegpersoneel is so oorweldig. Omtrent 50 personeellede is siek met die coronavirus. So al sou ons oop beddens hê, het ons nie altyd genoeg personeel om almal te versorg nie, en so aan.

“Mense sê heeltyd: Kan ons nog ventilators kry? Maar wie gaan na die persoon op die ventilator omsien? Jy het ’n gekwalifiseerde, geregis­treerde verpleegster nodig. Dit verg mannekrag,” sê Karienya.

Sy was self al twee weke lank in selfkwarantyn in haar woonstel weens kontak met ’n covid-19-lyer. Die kwarantyn het oorvleuel met drie weke verlof wat sy geneem het om by haar ­familie in Durban deur te bring. Sy het hulle in Februarie laas gesien.

Maar toe is dit net sy en haar troetelhaas, Flos. Vriende het vir haar kos en kruideniersware afgelewer. Gelukkig was haar toetsuitslag negatief.

Wanneer sy haar familie weer gaan sien, weet sy nie. Sy praat gereeld met haar ma om haar gerus te stel.

“Aan die begin was dit veral vir my ma baie erg. Dit is steeds. Ek was nog klein toe my pa oorlede is, en deesdae is ek in ’n groot mate haar steunpilaar – ook geldelik.

“Die gedagte dat iets met my kan gebeur, is vir haar vreesaanjaend. Maar ek het seker gemaak alles is in plek as ek wel iets oorkom.”

Sy is nie bang om siek te word nie. Tog is die onsekerheid uitmergelend. Sy praat gereeld met haar vriende en ’n sielkundige om die stres te bestuur.

“As ons iemand op ’n ventilator sit, weet ons glad nie of hulle gaan oorleef nie. En wanneer pasiënte kortasem by die hospitaal aankom, word hulle ingejaag – hulle kan skaars hul familie groet. Vir party pasiënte is dit die laaste sien. ’n Mens weet net nie wat gaan gebeur nie.”

Geen twee dae is dieselfde nie. Sy vat dit een skof op ’n slag.

“Eendag sal ons oor die lewe ná covid-19 praat. Dit gaan ’n heel ander ­storie wees. Maar dit sal eers in 2021 gebeur.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe