Amanda Collins (52) van Montrose Park in Mitchells Plain sê sy het in September 2017 agtergekom dat sy en haar dogter (14) se watergebruik skielik baie hoër as gewoonlik is. Waar sy normaalweg maandeliks sowat R300 vir water betaal het, het sy mettertyd R3 000 agterstallig geraak met dié rekening.

Sy het ondersoek ingestel en vasgestel die watermeter op haar erf wys water word gebruik selfs wanneer die stopkraan toegedraai is.

“Daar moes iewers ’n lekplek wees,”  sê Amanda. Sy het dit toe by die munisipale kantoor in Lentegeur gaan aanmeld.

Sy het hierna telkemale die lekkasie by verskeie munisipale kantore aangemeld voordat munisipale werkers by haar eiendom opgedaag het. Maar hulle het volgens haar nie ’n “volledige ondersoek gedoen nie”.

Amanda (regs) en haar dogter het vir byna twee maande net vanuit 'n druppende kraan water gekry.

Sy kon ook nêrens op haar eiendom 'n lekkasie opspoor nie. Amanda en haar bure deel ’n wateraansluitingspunt op die sypaadjie buite hul eiendom en hulle is later genoop om self die deksel daar oop te maak. “Die lekkasie was buite by die watertoevoer, in die pyp wat na my huis toe loop. So, die lekkasie was op die raad se eiendom,” sê Amanda. 

Die munisipaliteit het in Julie vanjaar die lekkasie op die sypaadjie kom regmaak. Maar tot Amanda se skok het sy in Augustus 'n massiewe hoë waterrekening van R220 419 gekry. 

Haar water is ook op 6 Augustus op ’n drupstelsel gesit. “Ons het ’n emmer onder die kraan gesit om die drup op te vang en daardie water gebruik. Ons kon die toilet ook net drie keer ’n dag spoel.” 

Amanda sê sy is nie verantwoordelik vir die hoë waterrekening nie aangesien die lekkasie op munisipale eiendom was. By navraag het Luthando Tyhalibongo, woordvoerder vir die Stad Kaapstad, gesê hulle het die voorval ondersoek. 

“Die Stad het voorheen terugvoering gekry oor lekkasies op die privaat eiendom. Maar ons het ook terugvoer gekry oor lekkasies op die munisipale infrastruktuur en dié lekkasie is deur die Stad reggemaak."

Lekkasies op privaat eiendom is die verantwoordelikheid van die eienaar, sê Luthando. “Maar ons het voorgestel dat haar rekening aangepas moet word vir die tydperk van die betrokke lekkasies sodat die kliënt die voordeel van die twyfel kry.” 

Die Stad het ook beveel dat haar water weer aangesluit word en nou het Amanda ná byna twee maande weer lopende water in haar huis.