Die gemeenskap van Manenberg rou oor die slagting
Die gemeenskap van Manenberg rou oor die slagting van 22 katte. Foto: Verskaf

Die gemeenskap van Manenberg op die Kaapse Vlakte leef in vrees vir hul viervoetige geliefdes nadat daar in die laaste paar maande 22 katte wreed doodgemaak is.

Volgens Allan Perrins, woordvoerder van die Animal Welfare Society of South Africa, is daar gister alleen vier katte dood gevind rondom die Dwykastraat-area van Manenberg. 

Een inwoner, Faiza Jacobs, het drie van haar ses katte verloor deur die slagtings. 

“Ek het hier in Manenberg grootgeword en tien jaar gelede terug hierheen getrek. Ek het my eie katte, maar ek kyk ook na wegloopkatte en probeer kos los vir rondloperkatte in die area. 

“In Maart vanjaar het een van my katjies, Potato, verdwyn. Ek werk van 13:30 in die middae tot 22:00 saans, so ek voer soggens my katte. Maar dié oggend kon ek Potato nêrens kry nie,” vertel Faiza. 

Om net te verdwyn was vreemde gedrag vir haar katjie, en Faiza het die hele buurt platgeloop op soek na hom. In die weke wat gevolg het, het meer mense in die buurt vir haar begin sê maar ander bure se katte het ook begin verdwyn.

Sy het nooit vir Potato opgespoor nie. Aanvanklik het hulle gedink dis dalk ’n hond wat besig is om die katte aan te val. 

22 katte is tot dusver vermoor. Foto: Verskaf
22 katte is tot dusver vermoor. Foto: Verskaf
22 katte is tot dusver vermoor. Foto: Verskaf
22 katte is tot dusver vermoor. Foto: Verskaf

Faiza se seun het in April vanjaar vir haar foto’s gewys wat op ’n gemeenskap-WhatsAppgroep gedeel is van katte wat vermink en vermoor is. Met tyd het Abdul-Karriem Adams, ’n gemeenskapsleier, meer aandag begin skenk aan die verdwynings en die slagtings. 

In Junie vanjaar het ’n tweede katjie van Faiza verdwyn. Klein Smokey was net ouer as ’n jaar, vertel Faiza tranerig. Later op die dag wat Smokey verdwyn het, het ’n buurvrou wat drie huise van Faiza af woon haar gebel. 

“Sy het gesê, ‘ek is so jammer, ek het vanoggend ’n katjie begrawe, en nou dat ek na foto’s kyk dink ek dis dalk jou Smokey’.

"Ek was bly ek het nie gesien hoe Smokey gelyk het nie, want my buurvrou het verduidelik dat sy vermink was,” onthou Faiza. 

Een van Faiza Jacobs se geliefde katjies. Foto: Ve
Een van Faiza Jacobs se geliefde katjies. Foto: Verskaf

Abdul-Karriem sê die wrede dade het op 15 Julie onder sy aandag gekom toe sy suster ’n kat in hulle voortuin gekry het. Die kat was oopgesny, nes Faiza se geliefde Smokey. 

“Ek het in die gemeenskap gaan rondloop, en in een straat was ses of sewe katte reeds geslag. 

“Die gemeenskap is erg getraumatiseerd. Ons het ’n WhatsApp-groep waar ons patrollies reël. Vanaand gaan ons weer uitgaan om te kyk of ons iets kan uitvind,” sê Abdul-Karriem. 

Allan sê dit blyk dat die slagtings tussen 22:00 saans en 04:00 soggens plaasvind, wanneer die aandklokreël geld en die buurtwag nie kan patrolleer nie. 

Die afgelope Sondag het nóg ’n tragedie op Faiza gewag, dit terwyl sy boonop baie siek was weens covid-19.  

Haar oorblywende katte, Valor, Shadow, Ash en Tushy, het almal rondom haar gekloek terwyl sy siek was. In ’n stadium, sê Faiza, moes Ash by ’n klein venstertjie uitgeglip het. 

“Sondagoggend het my seun by die huis ingehardloop en gevra waar Ash is. Abdul-Karriem het toe pas foto’s in die groep gedeel van nog ’n dooie kat wat gevind is, en my seun het dit as Ash herken,” vertel Faiza met die emosie duidelik hoorbaar in haar stem. 

“Dit was so, so aaklig,” voeg sy by.

Dit blyk dat die katte se liggame middeldeur gesny
Dit blyk dat die katte se liggame middeldeur gesny word. Foto: Verskaf
Dit blyk dat die katte se liggame middeldeur gesny
Dit blyk dat die katte se liggame oopgesny word. Foto: Verskaf

Allan sê dat daar ongelukkig nog geen konkrete inligting is oor wie presies die skuldige of skuldiges is in die aaklige gebeure nie. 

“Wie ookal agter dit sit, hou ’n groot gevaar vir die gemeenskap in. Ek is al van 1999 in verskeie opsigte betrokke by dierebeskerming, en het al erge dinge gesien. Maar hierdie is op ’n skaal van sy eie. 

“Manenberg loop deur onder geweld, en deur die jare moes hulle afsonderlike gevalle van wreedheid teenoor diere aanskou. Daar was egter nog nooit iets soos hierdie waar dit herhaaldelik gebeur nie,” sê Allan. 

Dit begin ook lyk of daar ’n patroon aan die moorde is, voeg Allan by. 'n Hele paar van die katte wat gevind is se harte is verwyder. Hulle sou gister 'n nadoodse ondersoek doen op die katte wat gister deur die loop van die dag dood gevind is om te sien of daar ooreenkomste is. 

Die betrokkenes vra steeds dat enigiemand met inligting wat kan help, na vore sal kom. 

Die Dierewelsynsorganisasie bied ’n beloning aan v
Die Dierewelsynsorganisasie bied ’n beloning aan vir enige inligting oor die slagtings. Foto: Verskaf

Die Animal Welfare Society kan by die volgende nommers geskakel word: 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.