Mr Miyagee, 'n dierbare klein 1,9 kg-chihuahua, en Cody, die perd wat in die verwoestende Knysna-brande van 2017 byna omgekom het, het mekaar ontmoet.
Miyagee is ’n gesertifiseerde emosionelebystands-en-terapiehond. Hy is ook ’n invloedryke bemarker in die sosiale media in plaaslike sowel as buitelandse hondekringe en doen welwillendheidsbesoeke by skole, ouetehuise en hospitale.
“Dit was asof hulle mekaar al jare lank ken,” vertel Miyagee se mensema, Lindi Pieterse van Kaapstad. “Dit was regtig ’n wonderlike ervaring.”
Cody het bekend geword toe hy vir 16 dae lank vermis was en daarin kon slaag om sy pad huis toe te vind. Hy het erge brandwonde op sy gesig en lyf opgedoen en sy sig is in die proses aangetas.
Hy het intussen ’n ambassadeur van die Eden Empathy Initiative geword, ’n inisiatief wat kinders uit minderbevoorregte omstandighede bystaan.
Cody se eienaar, Karen Rademeyer van Knysna, het Miyagee genooi om te kom kuier sodat die twee ’n paar “terapie-geheime” kan deel, verduidelik Lindi.
Die Yorkshireterriër-terapiehond Fudge was ook deel van die geselskap.
Terwyl die Pieterses in die Tuinroete gekuier het, het hulle Miyagee geneem om ook die Veteraanmotorskou in George by te woon.
Miyagee lewe soos 'n glanspersoonlikheid.
Wanneer hy nie liefdadigheidswerk doen nie, oefen hy op ’n onderwatertrapmeul of word met masserings en akupunktuurbehandelings gepamperlang. Alles, van sy spesiale sonbril tot skoonheidsprodukte, word vir hom geborg. Hy het selfs sy eie fotograaf.
Ná ’n besige dag is daar vir hom g’n einde aan die bederfies nie, danksy die 45 borge wat sy leefstyl in stand help hou. Dit sluit in ’n ontwerpershalsbandjie van kangaroeleer, ’n spesiale sonbril wat ultravioletstrale blokkeer, spesiale jels om sy pootjies sag te hou, smullekker koekies, proteïenstafies, boegoepille, multivitamienpoeiers en speelgoed.
Intussen spog hy ook met ’n stel splinternuwe wiele.
Hy het die afgelope week ’n motor van ’n speelgoedmaatskappy gekry en Lindi sê Miyagee was baie beïndruk met sy nuwe wiele. “Dit het in ’n stadium vir ons gelyk of hy vra: ‘Hoekom is die hek toe?’”
- Kom neem deel aan die gesprek. Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook en WhatsApp en teken in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET