Die borrelende Natasha Dietrich van Belhar het haa
Die borrelende Natasha Dietrich van Belhar het haar BA-graad in onderwyser aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf. Foto: Verskaf

Sy was elke dag teen dagbreek al uit die kooi sodat sy betyds op kampus kon wees vir haar eerste lesing wat stiptelik om 08:30 begin het.

Maar teen 15:00, wanneer haar medestudente huis toe gaan of sorgvry kuier, het Natasha Dietrich haar boeke neergesit en haar skoonmakersklere aangetrek. En vir die volgende nege uur die lesinglokale, gange en badkamers van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gevee en geskrop.

Slaap was daar min. Sy het as’t ware geleef op die kampus waar sy beide skoonmaker en student was. Maar haar harde werk is beloon: Op die ouderdom van 47 is Natasha nou ’n gekwalifiseerde onderwyser.

Dit was tienvoudig die moeite werd, vertel die Kaapse ma van twee seuns. 

Sy het reeds nagskof as skoonmaker by UWK gewerk toe sy in 2014 besluit het om ook te studeer. Haar inspirasie was die toegewyde studente wat sy gesien het terwyl sy haar skoonmaaktake verrig het. 

“Ek het gevoel ek moet die omgewing waar ek my bevind benut, en my opvoeding ’n kans gee. Ek wou ook ’n voorbeeld vir my eie kinders stel,” verduidelik Natasha.

Vyf jaar lank het sy soggens om 06:00 opgestaan om haar jongste kind, Chandler (nou 18), reg te kry vir skool. Dan het sy die twee kilometer van haar huis in Belhar na UWK se Bellville-kampus gestap.

Natasha se gesin het haar regdeur haar studies ond
Natasha se gesin het haar regdeur haar studies ondersteun. Van links is haar seun Chandler, man, Andre Charl Dietrich, en haar seun Welldine. Foto: Verskaf

En laatmiddag het sy haar daaglikse gedaanteverwisseling ondergaan. “Mense het altyd neergekyk op my oor my uniform, maar ek was nie skaam nie. Ek het altyd in my uniform biblioteek toe gegaan om te studeer,” vertel sy. 

Naweke het sy haar bietjie vrye tyd saam met Chandler en sy ouboet, Welldine (nou 30), bestee en haar huishouwerk gedoen. Dit het bloed, sweet en trane geverg, erken die beskeie ma.

“Om soggens so vroeg wakker te word, klas toe te gaan en dan van 15:00 tot middernag te werk, was uitputtend. Maar ek moes dit doen. Opvoeding is nie goedkoop nie. Jy moet opoffer en bereid wees om lang ure te werk.”

Sy het onderwys gekies om haar seuns te inspireer, “en om ’n rol te kan speel in die ontwikkeling van kinders en die manier hoe hulle oor dinge dink," vertel sy.

Sy sal op 5 Mei amptelik haar BA-graad in onderwys ontvang, maar het reeds in Februarie as onderwyser by die Dr. Van der Ross-laerskool in Belhar begin werk. 

Natasha beskou haar ma, Margrieta Witbooi, as haar
Natasha beskou haar ma, Margrieta Witbooi, as haar heldin. Foto: Verkaf

“Dis ’n groot vreugde om die vonkeling in die kinders se oë te sien wanneer hulle verstaan wat jy vir hulle leer. Ek is gelukkig om ’n verskil in hul lewe te maak,” vertel sy trots. 

Sy is nou klaar met kampus skoonmaak, maar nie met studeer nie. 

“Aangesien dit my eerste jaar as onderwyser is, wil ek eers my voete vind. En volgende jaar wil ek my honneursgraad doen.”

Daar is min twyfel dat hierdie formidabele vrou weer in haar doel sal slaag. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe