Haar seun is dood, maar sy sien hom nog elke dag.

Op die Kaapse Vlakte waar sy woon, is talle soos hy. Hulle dwaal daar rond, jong mans met daardie wilde kyk in hul oë en ’n onblusbare honger na die dwelm wat gewone seuns gevaarlik maak.

Oral is ma’s soos sy, vroue wat huil oor ’n kind; wat bang is vir hul kind. En nou word haar storie op die silwerdoek vertel. Die verhaal van Ellen Pakkies (nou 56) boei mense al langer as ’n dekade.

In 2007 het sy haar seun Abie (21), ’n tikverslaafde, verwurg nadat hy haar lewe jare lank hel gemaak het. Sy is ’n vonnis van drie jaar opgeskorte tronkstraf opgelê, en haar verhaal het mense landwyd geruk.

Ellen se seun, Abie. Foto: Verskaf

Nou, soveel jare later, sê Ellen die seer oor haar kind sal nooit wyk nie. “Ek mis Abie,” erken sy kort voor die première van die fliek gegrond op haar storie, Ellen – Die Ellen Pakkies-storie, op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai.

In die fliek speel die Suidooster-aktrise Jill Levenberg (40) Ellen, terwyl die rol van Abie vertolk word deur die akteur Jarrid Geduld (28).

Op ’n koue winteroggend ’n paar dae voor die première ontmoet ons haar in ’n restaurant in ’n winkelsentrum in Tokai.

Dis net ’n paar straatblokke van Lavender Hill af, waar sy steeds in dieselfde tweeslaapkamerhuis woon waar haar seun sy laaste asem uitgeblaas het.

So het Ellen voorheen in ’n video vertel van die dag toe sy haar seun Abie verwurg het. Ellen sê sy voel hom steeds in die huis aan waar hulle gewoon het.

“Ek wil nooit trek nie,” sê sy. “Ek voel hy is nog in die huis. Ek besoek nooit sy graf nie, want ek glo sy gees is by die huis.”

Soms wanneer ’n deur in die huis oopgaan, sal sy vir haar seun sê om te gaan rus, vertel Ellen en glimlag wrang.

Dan erken sy: “Ek voel steeds ongelukkig oor wat ek gedoen het.”

Haar stem is kalm ondanks die traumatiese herinnerings wat sy vandag opdiep. Háár verhaal is destyds op die spits gedryf, maar dit is eintlik ook die storie van soveel ander gesinne.

“Ek sien hom in ander jong mense wat hul lewe verwoes en ouers wat dieselfde pyn as ek deurmaak,” sê sy.

Toe sy vier jaar gelede by die vervaardiger hoor haar lewensverhaal word in ’n fliek omskep, het sy besef dit kan ’n doel dien: “Al verander dit net een mens se lewe, sal ek dankbaar daarvoor wees.”

Ellen het by die Silwerskermfees haar steun aan die fliek betoon, maar het dit nie weer daar gekyk nie. Sy het dit verlede November die enigste keer tydens ’n voorskou gesien.

“Ek sal dit nie weer kan kyk nie,” sê sy.

“Dit roep te veel seer herinnerings op. Ek het die hele fliek deur gehuil.

“Ek hoop wanneer mense die prent kyk, sal hulle my vergewe vir wat ek gedoen het. Ek weet baie dra my nog in die hart, maar ek vra vergifnis.”

Jarrid het die uitdagende rol met oorgawe vertolk. Foto: Verskaf

Abie, haar jongste kind, was sewe jaar lank aan tik verslaaf. Ellen het ook twee ouer seuns – die een woon en werk op Atlantis; die ander is nes kleinboet Abie aan dwelms verslaaf.

Ellen weet nie waar hierdie seun is nie; sy het hom langer as ’n jaar laas gesien. Ook dit is ’n seer wat nie weggaan nie. Voor Abie, of Adam soos hy eintlik geheet het, in die kloue van tik beland het, het hy drome gekoester om ’n danser te word, onthou Ellen met heimwee.

“Hy was ook goed in sport en baie behulpsaam tuis. Wanneer ek nie lekker gevoel het nie, het hy vir my brekfis gemaak,” sê sy.

Maar dit was die goeie tye. Abie was net 14 toe sy ma haar “behulpsame seun” verloor. Die eens liefdevolle kind het skielik op haar begin vloek en haar “vertrap”.

Hy het haar herhaaldelik aangerand, met ’n mes gesteek en in die badkamer toegesluit terwyl hy al haar huisware gesteel en dit verkoop het om geld vir tik te kry.

Ellen het oral hulp gesoek: die polisie, maatskaplike dienste, howe, rehabilitasiesentrums . . . Niemand het gehelp nie. Eindelik het dit net te veel geraak.

Toe vat sy ’n tou, sit dit om haar 21-jarige kind se nek en wurg hom tot daar nie meer lewe in hom oor was nie.

Sy is aangekeer vir die moord en het skuld erken, maar die landdroshof in Wynberg het beslis die stelsel het haar in die steek gelaat en haar vonnis opgeskort. Sy doen sedertdien gemeenskapswerk en lewer motiveringspraatjies om ouers van tikverslaafdes by te staan en jong kinders teen dwelmgebruik te waarsku.

Tonele van die fliek is by Ellen se woning in Lavender Hill geskiet. Die regisseur, Daryne Joshua, sê dit was belangrik om in die huis te verfilm, want hy kon die geskiedenis aanvoel.

“Daardie huis vertel die storie.” Ellen het by mense in die omgewing ingewoon terwyl haar woonplek in ’n filmstel omskep is en het af en toe ingeloer.

“Hulle het my soos familie laat voel,” sê sy oor die ervaring.

Met hul ontmoeting het Ellen en Jill uitgevind hulle het tydens hul grootwordjare in dieselfde straat in die Kaapse woonbuurt Kensington gewoon. Jill het voor die verfilming baie tyd saam met Ellen deurgebring om op haar rol voor te berei.

“Ons is nou soos ou vriende wat mekaar al jare lank ken,” sê Ellen.

Om Jarrid in die rol van haar oorlede seun te sien het haar “gelukkig” gemaak, sê Ellen. Die jong akteur was voorheen in die 2013-misdaadriller Four Corners te sien.

Jarrid Geduld het die Silwerskerm-prys vir beste akteur gewen vir sy uitbeelding van Ellen se tikverslaafde seun Abie. Foto: Verskaf

“Hy het my vertel dit was asof Abie daar was om hom te lei en te wys hoe om dit te doen,” vertel Ellen.

Met verf wat die filmspan by haar huis agtergelaat het, het dié vindingryke vrou ’n nuwe projek in haar behoeftige gemeenskap begin. “Ek het daardie verf gevat en mense se huise begin verf en kinders gevra om dit te doen. So leer hulle om te werk, en dit helder ouers se huis op en maak hul lewe kleurryker.”

Ellen het onlangs ’n skenking van ’n groot verfmaatskappy gekry om met hierdie projek voort te gaan. Tuis hou sy deesdae die pot aan die kook met die pensioengeld van haar man, Odneal (69). Nog agt mense deel hul tweeslaapkamerhuis, onder wie “bloedfamilie” en mense wat sy ingeneem het.

“Dit gaan goed. Ek is dankbaar vir die Here vir almal wat Hy op my pad gestuur het. Alle eer kom God toe. Ek was nooit ’n dromer nie, maar nou weet ek mooi dinge kan ook gebeur.”

  • Lees ons resensie oor Ellen – Die Ellen Pakkies-storie. Dit is van 7 September af landwyd te sien.

OM ELLEN TE WORD

Die Suidooster-ster Jill Levenberg wou so graag in die fliek speel dat sy die regisseur, Daryne Joshua, per e-pos gevra het of sy ’n rolletjie kon kry.

“Weke later het hy my laat weet ek vertolk die hoofrol. Ek het net daar gekniel, gehuil en gebid,” sê Jill. Sy was eers bang om die rol van Ellen te vertolk, sê Jill.

“Dit is my eerste hoofrol en ’n storie wat respek verdien.” Jill sê sy het baie navorsing gedoen om in die gemoedstoestand te kom waarin Ellen was toe sy die daad gepleeg het.

Die hoogstaande spel van Jill van Levenberg, as Ellen, is ook bekroon. Foto: Verskaf

“Ek moes dit bereik sodat ek die moordenaar in my kon vind, want dis waarskynlik waar Ellen was toe sy dit gedoen het,” vertel sy. “Die (tragedie van die) mishandeling wat Ellen moes deurmaak en die energie van (haar huis) het my krag vir die rol gegee.”

Sy beskryf die regte Ellen nou as ’n “ma en suster” vir haar.

  • Lees ons resensie oor Ellen – Die Ellen Pakkies-storie. Dit is van 7 September af landwyd te sien.
  • Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en neem so deel aan die gesprek.