Craig Barrowman, die eienaar van ’n toergidsmaatskappy van Kaapstad, het verlede Vrydagaand uitgegaan om saam met vriende te kuier en toe sy motor buite 'n kroeg parkeer. 

Ná 'n paar uur het hy in sy broeksak gevroetel en besef dat sy motorsleutel nie daar is nie. 

’n Mens moet Craig se kardeure elkeen met die sleutel oop- en-toesluit. 

Hy het toe ná etlike ure besef dat hy per ongeluk die sleutel in die kar se deur vergeet het. Sy vermoede het toe in ’n nagmerrie ontaard toe hy by sy motor se parkeerplek opdaag en sien dat sy kar nie meer daar staan nie.

“Toe ek by my motor kom, was my eerste gedagte natuurlik dat iemand met my motor weggejaag het. Ek was nie ver van die polisiekantoor af nie en het dus saam met my vriende na die stasie gestap om my motor as gesteel aan te meld.” 

Met hul koms by die polisiekantoor het die beamptes vir hom ’n reeks vrae gevra, insluitend: “Waar is jou motor se sleutels?”

En toe hy nog wou verduidelik hoe sy sleutels weggeraak het, het ’n polisievrou laat hoor: “Ek het jou motor se sleutels en jou motor is oorkant die straat geparkeer”.

Lehlohonolo Sesedinyane (30) en sy vriend Peaceful Ndlangamandla (27) het op daardie aand sokker by 'n kroeg gekyk en op Craig se kar, met die sleutels in die deur afgekom. 

Hy en Peaceful het besef dat as hulle die motor na die polisiekantoor neem, sal hulle ondervra en moontlik van diefstal verdink word, maar ná ure se gewag vir Craig, was dit hul enigste opsie.

Die twee mans het eers talle ander mense gevra om te help, maar almal was agterdogtig en niemand wou saamwerk nie. Dis toe dat hulle besluit het om self die motor na die polisiekantoor te neem.

“As ek die motor net so gelos het, sou iemand dalk ingebreek het en die man sou soveel verloor het,” vertel Lehlohonolo, 'n Bloemfontein-boorling, aan Huisgenoot. 

“Ek is die soort persoon wat wyer as net myself dink.” 

Hy en Peaceful het besef dat as hulle die motor na die polisiekantoor neem, sal hulle ondervra en moontlik van diefstal verdink word, maar ná ure se gewag vir Craig, was dit hul enigste opsie. 

“Ek het besluit dat ek vir die ondervraging sal staan – ek het immers nie die motor gesteel nie. Plus ek het nie die motor rondgery nie, ons was reguit na die polisiestasie toe,” vertel hy.

Die polisie was so onkant betrap dat hulle eers gedreig het om die mans in hegtenis te neem omdat hulle Craig se motor sonder sy toestemming bestuur het.

Maar Lehlohonolo was geduldig en het aan die polisie sy ID-dokumentasie verwys en vir hulle verduidelik dat daar niks in die motor gesteel is nie. 

“Ons was selfs bereid om vir die eienaar te wag,” laat hy hoor. 

Dié barmhartige daad het Craig verstom. “Dit het my en my vriende 'n paar minute geneem om dit te verwerk, nadat ek dit gehoor het!”

Hy is baie dankbaar vir die mans se barmhartigheid en meen dat hulle sy geloof in die mensdom herstel het. Volgens Peaceful het hulle nie dit gedoen vir 'n beloning nie, maar wel uit die goedheid van hul hart. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe