Hy was besig om sy tannie se kar te was vir naweekgeld toe intense pyn hom oorval.

Lee-James van Wellington was net 16 en in gr. 11 toe hy een Vrydagmiddag na ongevalle in die Paarl gejaag is en ’n noodoperasie moes ondergaan.

"'n Deel van my dikderm het as gevolg van ’n gewas gebars," vertel Lee-James (22). Hy is deesdae ’n vierdejaar onderwystudent aan die Kaapse Skiereiland-universiteit van Tegnologie. 

Dit was die begin van ’n lang pad met die gevreesde K-woord waarvan die gevolge vandag nog met hom is. ’n Deel van sy dikderm is uitgehaal, maar die dokters het chemoterapie voorgeskryf wat hy vir die eerste ses maande van sy matriekjaar moes kry.

"Dit was van Maandae tot Vrydae en dan moes ek weer vir ’n week lank rus. So dit was moeilik en ek kon nie baie in die skool wees nie.”

Sy ouers, Nathan en Jacky, het hom vir die eerste paar sessies bygestaan, maar daarna moes hy self elke oggend tot by die treinstasie stap en met die trein van Wellington tot by die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad reis. 

Lee-James, wat van jongs af ’n talentvolle rugbyspeler was, het in hierdie tyd op sy rugby gefokus wat hom daardeur gehelp het.

In 2013, net voor hy siek geword het, was hy in een van die uitdunrondtes vir die Cravenweek-span gekies is.

Lee-James Cupido
Lee-James Cupido was nog altyd baie lief vir rugby.

"Al het ek soms sleg gevoel het ek soms na die chemo, wanneer ek van die treinstasie af kom, direk rugby-oefening toe gegaan. Die rugby het my gemotiveerd gehou," vertel die oud-leerder van Hugenote Hoërskool.

Hy sê in daardie tyd was die eerstespan-afrigter, Lance Sendin, van sy skool vir hom van onskatbare waarde. “As dit nie vir hom was nie, sou ek nie so gemotiveerd gebly het nie. Ek sien hom vandag nog as ’n mentor.”

Lee-James wou graag onderwys gaan studeer, maar omdat hy so min kon skool toe gaan was sy punte nie goed genoeg nie en hy het besluit om ’n jaar af te vat en twee vakke oor te doen. 

Die jaar 2015 was toe ook die jaar waarin die dokter hom gevra het of hulle sy kolon heeltemal moet verwyder aangesien daar nie ’n waarborg was dat die kanker nie sou terugkeer nie.

"Dit was vir my ’n baie moeilike besluit, want ek wou so graag aanhou rugby speel. In 2015 was daar ook ’n kans dat ek vir die WP akademiese-span kon speel. Maar ek het toe maar vrede gemaak en besluit om die operasie te doen."

In 2016 het dinge beter begin gaan. Hy het onderwys begin studeer en klubrugby vir Wellington gespeel. 

"Ek het een dag by die oefening verskriklik moeg gevoel. Daar was ’n hele week wat ek nie kon slaap nie. Ek sou in my bed lê met my oë wawyd oop. Ek het gewonder of dit stres is, maar ek het nie geweet wat aangaan nie."

Hy het na sy tannie toe gegaan wat in ’n kliniek werk. Sy het sy bloeddruk geneem en toe sy sien hoe hoog dit is het sy hom dadelik dokter toe gestuur.

By die dokter het hulle gesien hy was besig om nierversaking te kry. ’n Gewas het die nierpypie wat van sy nier na sy blaas toe gaan blokkeer wat veroorsaak het dat sy liggaam nie van die energie ontslae kon raak nie.

Daarna moes hy weer behandeling kry en die dokter het uitmergelende bestraling en chemoterapie voorgeskryf, wat in Januarie 2017 begin het.

"Dit was baie erg," vertel Lee-James oor die chemoterapie. "Ek kan dit nie vir iemand beskryf nie. Jy kry dit vir drie ure lank en dit maak jou aan die slaap. Maar as jy daar wakker word, voel dit of jou siel uit jou liggaam getrek is. Ek kon ook glad nie aan koue goed vat of kouer goed drink nie. Ek was swak en stokmaer. Ek sou opstaan en ’n entjie probeer loop en dan flou val."

Gelukkig was sy meisie, Marché Meyer, al die pad langs hom om hom te ondersteun.

Lee-James Cupido
Lee-James Cupido met sy meisie Marché Meyer.

In Augustus daardie jaar het hy homself gemotiveer om meer positief te word. "Ek het vrede gemaak met die feit dat dit is wie ek is."

Hy het besluit om by die gimnasium aan te sluit. "Aanvanklik was ek baie swak en kon net klein goedjies optel, maar ek het my kragte opgebou en vandag is ek ’n persoonlike afrigter."

Daardie jaar het hy toe sommer met die Mnr. Drakenstein titel ook weggestap. Hy het dié platform ook gebruik om ander met sy storie te motiveer.

"Ek sê graag vir mense wanneer jy op ’n operasiebed lê en jy weet jy gaan binnekort ’n massiewe operasie kry. Terwyl dit doodstil is en jy wag vir die narkose om in te skop, is daar niks belangriker in jou lewe as om net gesond te raak nie, geloof te hê en te vertrou dat God jou daardeur sal dra nie. Alle ander goed soos materialistiese dinge, haat en geld maak dan glad nie saak nie."

Hy sê hy het ook met tyd besef dat sy eerste diagnose vir hom baie moeiliker was omdat hy nie vir mense wou vertel nie. "Ek was geheimsinnig oor my siekte en skaam omdat ek nie wou hê mense moet anders na jy kyk nie. Ek was ook in daardie tyd nog baie onkundig oor die siekte."

Maar die tweede keer was ek baie openlik met almal, dit was die beste ding wat ek kon doen, aangesien ek toe ’n ondersteuningsraamwerk gehad het wat my deurgedra het."

Nou herinner hy hom gereeld aan ’n aanhaling wat hy op sy arm laat tatoeëer het. "In ’n oogwink kan alles verander. So vergewe gereeld en wees lief met hou hele hart."

Lee-James Cupido
Lee-James Cupido se tatoeërmerk.