Glenville Sacks (38) en sy gesin het ontsnap van ’n brand wat op Vrydag 3 Julie in een van die vertrekke in hul woonstel in Hanover Park, Kaapstad, uitgebreek het.

Glenville maak heeltyd keel skoon terwyl hy met ons praat – die gevolg van die rookinaseming. Maar ten minste kon hy sy twee dogters, Zea (6) en Zarah (4), red voor die vlamme hul blyplek verswelg het.

Glenville se vrou, Aadielah (36), was paniekerig toe sy hom wakker maak en vra of hy iets ruik wat brand. 

brand
Hul meubels is tot as en houtskool verbrand. Foto: Verskaf

Die 38-jarige en sy vrou het die deur oopgemaak van die voorste vertrek waar sy swaer geslaap het en gesien dit is vol rook.   

Glenville se eerste gedagte was om sy twee slapende kinders te red – die gesin deel ’n slaapkamer.

“Ek moes hulle eers uit ons kamer gaan haal,” sê Glenville.

“Toe ek by die eetkamer kom, was die huis reeds in vlamme. Dit het baie vinnig gebeur. Ek kan dit nie verduidelik nie.”  

Hy meen Aadielah is die eintlike held en sê hy is dankbaar oor haar vinnige optrede.  “As my vrou ons nie wakker gemaak het nie, sou ons almal waarskynlik nou dood gewees het, want ons het niks geruik nie,” sê hy. 

Dit was ook omdat Aadielah om hulp geroep het dat hulle die bure se bystand kon kry. 

“Teen die tyd dat die brandweer gekom het, het die gemeenskap ons reeds die vuur help blus,” sê hy. 

brand
Al wat die Sacks-gesin oor het, is twee laaikaste met die kinders se klere. Foto: Verskaf


“Ons weet nie regtig wat die brand veroorsaak het nie, want ons het nog nie ’n verslag ontvang nie. Ons weet nie of dit ’n sigaret was of wat gebeur het nie,” sê Glenville.  

Die Sacks-gesin het sedertdien by ’n woonsel in die gebied ingetrek danksy die plaaslike raadslid Antonio van der Rheede. Hy het die gesin dieselfde nag na ’n leë woonstel geneem. 

Glenville is ook dankbaar teenoor die gemeenskap van Hanover Park wat hulle met kos en klere gehelp het.  

“Dit veroorsaak nie net ongerief as jou huis afbrand nie, maar meer nog dat dit tydens die inperking gebeur,” sê Glenville.

Hy sê die uitwerking van die inperking het hom swaar getref en al het hy nie meer opsies vir ’n pad vorentoe nie, is hy dankbaar sy gesin is ongedeerd.  

“Die raad het ons kom bystaan met ’n leë woonstel tot hulle die ander woonstel herstel het. Dit is raadseiendom. Ons besit dit nie. Ons weet nie wat vir eers gaan gebeur nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.