Hul oë het mekaar oor ’n stampvol vertrek gevind . . . Hoeveel liefdesverhale begin so? Soveel dat dit ’n cliché geword het. Maar in die geval van een Kaapse paartjie was hierdie aantrekkingskrag ’n klein bietjie onverwags.

Toe Wilson Williams die eerste keer vir Terzel Rasmus by ’n dans raaksien, was dit haar rooi rok wat sy oog getrek het. Sy was op haar beurt aangetrokke tot sy gawe gentlemanagtige houding. Hulle het ’n dans en ’n soen gedeel – en teen die einde van die aand was Kupido se pyltjies ’n kolskoot.

Terzel Rasmus en Wilson Williams het in 2017 afgeh
Terzel Rasmus en Wilson Williams het in 2017 afgehaak. Foto: Verskaf

Dit klink seker heel normaal vir ’n sprokie oor liefde met die eerste oogopslag.

Maar wat hierdie paartjie so ’n tikseltjie anders maak, is hul ouderdomsverskil – ’n skamele 51 jaar.

Maar ouderdom is tog net ’n syfer, en hulle is vandag ’n gelukkig getroude egpaar – al is hy op 80 reeds ’n pensioentrekker en sy op 29 nog in die fleur van haar lewe. Hulle is ewe lewenslustig en ook meer as gelukkig om hul liefde met die wêreld te deel.

En moenie ’n fout maak nie, die wêreld is geboei. Die paartjie het internasionale hoofopskrifte gehaal, met nuusblaaie soos Daily Mail, Mirror en Sun in Engeland wat oor hul romanse berig het.

“Dit was regtig ’n groot verrassing,” sê Terzel.

“Ek het ons Instagramblad begin en ’n vrou van Engeland het dit raakgesien, in ons storie belanggestel en met my in aanraking gekom.”

Hul storie het lesers van heinde en ver verstom, maar soos die paartjie van Somerset-Wes naby Kaapstad dit stel, is die enigste verstommende ding eintlik die liefde wat hulle vir mekaar het.

Dis die ware Jakob.

Ja, met die eerste oogopslag lyk hulle soos ’n onpaar paartjie, maar soos Terzel sê: “Hierdie ouderdomsverskil beteken absoluut niks vir ons nie.”

Dit was liefde met die eerste oogopslag vir Wilson
Dit was liefde met die eerste oogopslag vir Wilson toe hy vir Terzel die eerste keer by ’n dans raaksien. Foto: Verskaf

Die wêreld van romantiese afsprake het veel te wense oorgelaat vir Terzel.

Sy het in 2015 as joernalis vir ’n gemeenskapskoerant gewerk en dit het gevoel asof sy net mans van haar ouderdom ontmoet wat haar as ’n bron van inkomste beskou.

Toe bied haar koerant in 2016 ’n dans aan by die stadsaal in die Strand. En ’n toevallige ontmoeting keer al haar idees oor die liefde op sy kop.

Wilson, ’n kerkleier en afgetrede skoolhoof, het daardie aand ’n bietjie uitgegaan.

Hy was ’n wewenaar ná sy vrou, Nelly, se dood aan kanker in 2002 en het besluit dis tyd om weer sosiaal te verkeer.

“Ek het hierdie jong vrou in ’n rooi rok gesien, en jy weet, rooi is my kleur,” vertel Wilson met ’n laggie.

“Sy het alleen gesit, en ek het gedink: Hoekom nader ek haar nie? Ek is ook alleen hier.”

Die oupa van drie onthou daardie oomblik toe hulle mekaar ontmoet het soos gister.

Die egpaar geniet dit om die eenvoudige dinge saam
Die egpaar geniet dit om die eenvoudige dinge saam te doen, van sake van die dag en politiek bespreek tot die neem van selfies en wandelinge langs die see. Foto: Verskaf

Al was hul ouderdomsverskil ooglopend, het dit vir die twee duidelik geword hulle het heelwat meer gemeen as wat ’n mens sou dink.

“Hy was net ’n ware heer, gaaf en sorgsaam. Ek het gehou van hoe ek voel wanneer ek saam met hom was,” sê Terzel, wat nou vir ’n graad in die regte deur Unisa studeer.

“Ek het daardie aand ’n paar drankies weggeslaan, en waar die meeste ander ouens nie sou omgee nie, het Wilson die hele aand seker gemaak ek is oukei.”

Nadat hulle die aand met ’n soen afgesluit het, was die twee smoorverlief.

Hulle het nommers uitgeruil en die verhouding het begin blom.

Terzel het haarself toegelaat om meer kwesbaar te wees en vertroue in ander te kweek, en Wilson het weer sy hart vir die liefde oopgemaak.

Hy het oop kaarte gespeel dat hy 76 jaar oud is nadat hy aanvanklik vir Terzel gesê het hy is 66 omdat hy nie die aantreklike jong vrou wou afskrik nie.

“Ek het van die oomblik toe ek haar ontmoet het, geweet daar is iets spesiaals omtrent haar,” sê Wilson.

“Ek wou net nie meer alleen wees nie.”

Die werklikheid van die ouderdomsverskil van 51 jaar het Terzel vroeg tydens hul hofmakery getref.

Sy het gewroeg met vrae oor hoe dit sou werk, maar die blote idee van die “wilde weste” van ander romantiese afsprake was genoeg om haar die rug daarop te laat keer.

As ambisieuse jong vrou het sy Wilson se kalm benadering tot die lewe waardeer en besef dit help haar om haar geestesgesondheidskwessies te konfronteer en te verwerk, veral tydens die inperking verlede jaar toe haar angstigheid op sy ergste was.

“Ek het geleer dis in die haak om stadiger te leef en teen jou eie pas te beweeg,” sê sy.

Haar ouers was geskok toe sy Wilson die eerste keer aan hulle voorstel, erken sy.

Die paartjie verskil 51 jaar. Foto: Verskaf
Die paartjie verskil 51 jaar. Foto: Verskaf

“Maar hulle het gou daaroor gekom. Hulle het gesien watter geestelike man Wilson is en hoe ons saam kerk toe gaan.

"Dit was wat hulle vir my wou hê omdat ek as kind ietwat van ’n rebel was.”

Wilson het haar ook bygestaan toe haar pa aan kanker gesterf het en in haar ma se stryd teen gevorderde alzheimersiekte.

Wilson se dogters, Beryl (56) en Wilna (51), se aanvanklike kommer het ook verdwyn toe hulle sien hoe goed hul pa se jonger lewensmaat hom versorg.

“Ek het besef ek word nie jonger nie en my geliefdes wil hê ek moet gelukkig wees,” sê Wilson, wat nog perdfris en gesond is.

“Hulle het geweet ek het iemand jongers nodig in my lewe om na my om te sien.

"Ek het nie gedink dit sou iemand van in die 20 wees nie, maar hulle het Terzel aanvaar en sy is nou deel van die familie.”

Ongelukkig het hulle uit sommige hoeke deurgeloop. Mense sou stop en staar, en daar was venynige kommentaar soos “Oupa het sy mojo teruggekry”.

Terzel is in die sosiale media as ’n “slet” en “fortuinsoeker” uitgekryt, maar sy het die bitterbekke geïgnoreer, en in 2017 het die paartjie ná ’n jaar lange verhouding getrou.

Al lê daar ’n halfeeu tussen hulle en weet hulle nie wat die toekoms inhou nie, is hul leuse “carpe diem” – gryp die dag aan.

Net soos Wilson se klassieke waardes vir sy vrou stabiliteit bied, het haar moderne manier van lewe spontaniteit tot syne bygedra.

Sy het hom gehelp geld bespaar deur hom na digitale weergawes van koerante te laat oorskakel en moet elke nou en dan verduidelik wat ’n gewilde hutswoord beteken.

Hulle hou daarvan om oor politiek en kwessies van die dag te gesels, saam rugby te kyk en geniet dit om roomys te eet terwyl hulle op die strand stap.

‘Ek het hierdie jong vrou in ’n rooi rok gesien, en rooi is my kleur . . .’

En wat intieme sake betref, voel die man en vrou hulle is nes enige ander verliefde paartjie.

“Ons albei laat onsself toe om kwesbaar in die slaapkamer te wees,” sê hulle.

“Ek is baie oopkop wat seksualiteit betref.

"Ek bring ’n speelse, lawwe, jeugdige kant na die slaapkamer en hy is oopkop daaroor,” sê Terzel.

“Ek noem haar ’n stout meisie,” sê Wilson en lag.

“Wat daardie aspek van die lewe betref, het ek geen klagtes nie!” 

VAT DIE GAPING

’n Groot ouderdomsverskil is glad nie vreemd as jy ’n ster is nie.

Michael Douglas (76) & Catherine Zeta-Jones (51)

Ouderdomsverskil: 25 jaar

Hulle het mekaar in 1998 ontmoet en is in 2000 getroud, en vier vanjaar hul 21ste huweliksherdenking.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

Holland Taylor (78) & Sarah Paulson (46)

Ouderdomsverskil: 32 jaar

Hulle is al ses jaar saam. “Die ouderdomsverskil is my oninteressantste deel,” sê Sarah.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

Dennis Quaid (66) & Laura Savoie (27)

Ouderdomsverskil: 39 jaar

Laura is die akteur se vierde vrou. Hulle is in Junie verlede jaar ná ’n verhouding van een jaar getroud.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

David Foster (71) & Katharine McPhee (36)

Ouderdomsverskil: 35 jaar

Die twee is in 2019 in Londen getroud. Hulle het onlangs ’n babaseuntjie, David se sesde kind, ryker geword.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

Prinses Charlene (43) & Prins Albert (62)

Ouderdomsverskil: 19 jaar

Die paartjie het mekaar in 2000 in Monaco ontmoet en vier vanjaar hul 10de huweliksherdenking.

Foto: Getty Images/Gallo Images
Foto: Getty Images/Gallo Images

EKSTRA BRONNE: WOMENSHEALTHMAG.COM; PAGESIX.COM

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe