JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf

Jessica Lange (28), ’n enkelma, vertel sy het skaars haar enigste kind, JD, by die sentrum in Saldanha afgelaai toe ’n personeellid van die skool haar bel om te laat weet JD het in die swembad beland.

Personeellede van die skool het eers noodhulp op hom toegepas voor hulle met hom na die nabye privaat Life West Coast-hospitaal in Vredenburg gejaag het.

JD in die hospitaal. Foto: Verskaf
JD in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Ek is ’n bietjie kwaad, hartseer, eintlik is ek nou alles in een,” het ’n emosionele Jessica Dinsdag aan Huisgenoot vanaf die Rooi Kruis-hospitaal gesê waarheen JD intussen per helikopter oorgeplaas is.

Sy vertel sy het JD Maandag omstreeks 07:25 by sy nuwe dagsorg in Saldanhabaai afgelaai – om 08:10 het die sentrum haar gebel om te laat weet JD het in die swembad beland.

“Ek het by die hospitaal se ongevalle ingehardloop gekom. Ek is reguit na die kamer waar hulle met hom besig was. Hulle wou my keer. Dit het gelyk asof hulle die kombersie wat oor hom was oor sy kop trek... So asof... Ek het net daar ineengestort, ek was mal.”

Jessica vertel sy het egter besef dit was ’n net ’n hittekombers om JD se liggaamstemperatuur op te kry.

“Hy was yskoud ... Soos hulle hom uitgestoot het, het hy nog vir my gekyk. Ek weet hy het geweet ek is daar by hom.”

JD word tans in ’n mediese koma gehou sodat die swelling op sy brein kan sak. Dokters sal eers wanneer hulle hom binne die volgende twee tot drie dae wakker maak, kan bepaal of hy enigsins blywende breinskade opgedoen het.

Sy vertel die oorsaak van die voorval, word nou ondersoek.

“Ons het net die naweek van die Kaap na Saldanha getrek, want ek het met ’n nuwe werk begin. My sussie het ook kinders in die sentrum. Hy het nog die oggend lekker gelag en in die huis rondgehardloop...”

Klein JD Lange saam met sy ma Jessica. Foto: Versk
Klein JD Lange saam met sy ma, Jessica. Foto: Verskaf

Sy het skaars by die winkel, waar sy as verkoopsdame werk, aangekom toe sy die oproep kry.

“Ek weet self nog nie presies hoe dit gebeur het en hoe lank hy in die swembad was nie. Ook nie wie hom daar gekry het nie. Die hek van die swembad was veronderstel om ’n slot aan te hê, maar ek moes hoor een van die ander kinders het die hekkie oopgestoot.

“JD het glo net sy pap klaar geëet. Toe hulle weer sien, was hy nie meer daar by hulle nie. Ek vermoed hulle moes toe gaan kyk het en het hom in die swembad gesien.

“Die mense van die dagsorg was hier by die hospitaal, maar ek kan nie nou enige van hulle sien nie. Ek wil nie onbeskof wees nie, maar ek wil hulle net nie nou hier hê nie.”

Klein JD Lange saam met sy ma, Jessica. Foto: Versk
Klein JD Lange saam met sy ma, Jessica. Foto: Verskaf

Jessica word tans deur familie en vriende by die hospitaal ondersteun terwyl sy wag tot JD wakker gemaak kan word. Een goeie teken sover is dat JD nie deur die nag stuipaanvalle gekry het nie, soos wat baiekeer in gevalle soos syne gebeur.

“Dit is vir my net so moeilik om langs sy bedjie te wees. Jy sal verwag hy sal reageer, maar hy doen nie. Dis baie erg.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.