Dié besluit is gister geneem nadat dit aan die lig gekom het dat 'n ouer van een van die skool se leerlinge moontlik simptome van COVID-19 toon.

Andries van Renssen, uitvoerende direkteur van die United Herzlia Schools in Kaapstad, het aan Huisgenoot gesê die ouer het Sondag teruggekeer vanaf New York waar hy moontlik in kontak was met mense wat met die virus besmet is.

Hy het kort daarna simptome, soortgelyk aan die virus, begin toon.

Die man is intussen getoets vir die coronavirus en die uitslag sal môre bekendgemaak word.

Die ouer se kinders was die afgelope vier dae by die skool.

“Ons as skool het intussen besluit om verantwoordelik op te tree en veilig te wees,” sê Andries.

“Ons het besluit om al agt van die skool se kampusse te sluit tot die einde van die week terwyl ons wag vir die uitslag van die toetse.”

Andries sê hulle het lankal reeds voorsorgmaatreëls in die skole ingestel soos byvoorbeeld om die leerlinge daarvan bewus te maak van die belangrikheid daarvan om hulle hande te was.

“Ons dink nie daar is rede om paniekerig te wees nie – ons tree net veilig op. Ons wag vir die uitslag van die ouer se toestand en sal dan daarvolgens optree.”

Lwazi Manzi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê hulle is bewus van die voorval.

“Die departement hou vanmiddag 'n mediakonferensie oor voorkomingsmaatreëls oor die virus. Intussen moet ouers hulle kinders gereeld daaraan herinner om hulle hande te was,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.