Meer onlangs het Nici Breed (53) iemand gekry met moontlike inligting. Toe sterf hy aan kanker. 

Nici het sowat vier jaar gelede saam met haar suster, Zelda Laas, hul storie aan Huisgenoot vertel. 

"Hoekom doen soveel mense soveel moeite om te keer dat ons uitvind wie ons pa is," het Zelda Laas (46) gevra in ’n onderhoud met Huisgenoot vir ’n artikel wat in die uitgawe van 17 April 2014 verskyn het. "Ek wil net vrede kry," het sy destyds bygevoeg. Dit was ook Nici se versugting. Elke keer wanneer hulle by die familie probeer uitvis, dreig sommige met regstappe.

Emosionele reünie

Verlede jaar het Zelda en Nici besluit om hul oom, wat ’n advokaat in Pretoria is, te kontak. By sy huis aangekom een Sondagoggend, wou hy hulle glo nie daar hê nie en het hy gesê hulle moet by ’n koffierestaurant ontmoet. Om die een of ander rede wou hy nie hê sy vrou moet hoor nie," vertel Nici. 

"By die koffierestaurant was hy baie emosioneel en ek ook," sê Nici. "Hy het baie gehuil en gesê hy sal na die vier DNS-bewyse kyk.”

"Hy het die dokumente gevat. Toe het hy voortgegaan en name genoem wie ons biologiese pa kan wees."

Hy het toe hul ander oom, wat ’n regter is, gebel en gesê hy moet saam kom koffie drink. Daardie oom was glad nie emosioneel om hulle ná sowat vyftien jaar te sien nie, beweer Nici. Volgens haar het hy ook belowe om na die DNS-verslae te kyk, maar het nooit na hulle teruggekom nie. 

“Ek het dit anders ervaar,” is Zelda se kommentaar oor die ontmoeting.

Sy onthou toe sy haar oom vir die eerste keer, sowat drie jaar na die eerste Huisgenoot-artikel gekontak het. “Hy was baie emosioneel want hy het toe uitgevind hy het kanker en het nie meer lank om te leef nie.”

Nici Breed (links) en Zelda Laas. Foto: Argiewe/Corrie Hansen

Sy vertel die rede vir hul verrassingsbesoek aan hul advokaat-oom verlede jaar, was eerder om vrede maak omdat hulle nooit hul destydse soeke na hul pa met hom gedeel het nie en hy ongelukkig was dat dit in die media gepubliseer is. 

“Dit was so lekker om hom weer te sien. Dit was baie emosioneel en ons het klomp foto’s geneem,” vertel Zelda. “Toe my ma se ander broer by ons aansluit vir koffie het ek so vol gevoel,” onthou Zelda. “Ons het gekuier, geëet en die hele oggend gesels.” 

Die oom wat hulle eerste gaan sien het, is intussen aan kanker dood. 

Nici vermoed haar ma was skaam dat sy met ’n ander man betrokke was en dat haar ouma haar ma gedwing het om haar (Nici) weg te gee. Daar is mense wat weet wat die regte storie is, glo sy. Sy wens mense wil praat. 

"Dis nie regverdig dat mense hulself beskerm om hul naam goed te probeer hou in die howe en vir die familie nie; tog is ons ook familie maar ons mag niks weet nie. Hulle speel met ons lewens, want hulle beskerm net hulself."

DNS-toetse het destyds met 99,99% sekerheid bewys Nici en Zelda is volbloedsusters of -niggies en dat Zelda se pa en haar ma familie was. Maar Zelda is na al die jare steeds skepties oor die DNS-toetse se uitslae. (Sien kassie onder.)

Kraaines

Hul storie is ’n kraaines: Nici is by geboorte laat aanneem, want haar ma, Anna Magdelena Klein (Issie Laas), was toe ongetroud. 

Zelda is sewe jaar later gebore (Issie was toe met Jan Laas getroud), maar later het Zelda uitgevind hy is nie haar biologiese pa nie. 

Nici glo haar ma het ’n affair gehad met die man wie se kind (Nici) sy weggegee het.

Nici Breed (links) en Zelda Laas. Nici is steeds opsoek na haar biologiese pa. Foto: Argiewe/Corrie Hansen

Maar hoewel Nici se soeke na haar biologiese pa voortduur, sê Zelda, sy is nie meer opsoek na ’n pa nie. “Ek het ’n pa,” sê sy aan Huisgenoot. En sy koester goeie herinneringe van Jan Laas. 

“My pa het my altyd so veilig is sy liefde laat voel en sy dood was die mees traumatiese ervaring van my lewe,” sê Zelda wat in Kaapstad woon. 

Sy glo ook glad nie dat haar ma ’n jare-lange affair gehad het nie.

“Issie was ’n pragtige vrou, lief vir God en vloek of drank het nooit oor haar lippe gegaan nie,” onthou sy haar ma. “Sy was nie ’n vrou vir affairs nie,” sê Zelda vasbeslote. 

Zelda en Nici het mekaar in die vroeë 1980's die eerste keer ontmoet, en eers gedink hulle is halfsusters. Later het hulle die skok-ontdekking gemaak dat hulle moontlik dieselfde pa het – die man wat Nici nou met alle mag soek. 

Kopkrap oor die DNS

“Ek het nog nooit geglo dat Nici my suster is nie, en dit is hoekom ek haar destyds gevra het om DNS-toetse saam met my te doen,” sê Zelda.

  • DNS-toetse wat in 2007 gedoen is, het aangedui dat Zelda en Nici eerder volsuster as halfsusters is.
  • DNS-toetse wat in 2011 by ’n tweede laboratorium gedoen is, het ook aagendui dat die waarskynlikheid dat Zelda en Nicci volsuster is, groter is as die waarskynlikheid dat hulle halfsusters is.

Maar Zelda was steeds nie oortuig nie. “Ek het die eerste laboratorium in 2014 gebel en gevra of hulle my ’n brief kan gee dat DNS betroubaar is,” vertel sy. Die laboratorium het daarna weer toetse gedoen. Volgens Zelda was die uitslae daarna anders as die eerste keer omdat meer hipoteses (moontlikhede) getoets is. Sy beweer dié uitslae het toe aangedui dat sy en Nici eerder halfsusters is as volsusters. 

Huisgenoot het die betrokke laboratorium wat die eerste toetse gedoen het, gekontak. 

Die besturende direkteur van die mediese laboratorium het verduidelik verskeie faktore speel ’n rol in die akkuraatheid van DNS-toetse se uitslae. 

“Die statistiese akkuraatheid hang altyd af van die hoeveelheid genetiese inligting wat voorsien word,” verduidelik hy. “Nog ’n faktor is die hoeveelheid genetiese inligting wat oor elke individu beskikbaar is en die spesifieke rekenaarprogram en statistiese formule wat gebruik word deur die program.” 

Volgens die dokter het die toetse in 2007 aangedui dat die waarskynlikheid groter is dat Nici en Zelda volsusters eerder as halfsusters is. 

“Die analise is weer in 2014 herhaal maar ’n addisionele ses DNS-merkers (’n DNS-reeks wat op ’n spesifieke plek op ’n chromosoom voorkom) is bygevoeg en die data is met ’n meer gepaste program verwerk.

“Hoewel hierdie program óók aangedui het dat die kans dat hulle volsusters is, groter is (79% kans), val die persentasie in die orde waar onsekerheid voorkom. In wese verskil die antwoord (van die verskillende toetse) dus nie,” sê die dokter. 

Die dokter het benadruk dat die uitslae gebaseer is op “statistiese moontlikhede.”