Dié 17-jarige leerder van Brackenfell in Kaapstad het onlangs ’n beurs by die New York Film Academy in Amerika losgeslaan. Hy gaan in 2022 ná matriek daar studeer. Ons gesels met hom.

van Brackenfell in Kaapstad het onlangs ’n beurs b
van Brackenfell in Kaapstad het onlangs ’n beurs by die New York Film Academy in Amerika losgeslaan. Foto: Verskaf

Waar kom jou liefde vir drama vandaan?

Ek het van kleins af die speelgedeelte van toneelspel geniet, maar sedert laas jaar het ek van die dieper kant van drama begin hou – om ’n nuwe karakter te word. Ek kan ook gemaklik sê drama is lekker.

Hoe het jy die beurs gekry?

Ek het op 31 Oktober aan die International Arts Talent Showcase in Johannesburg deelgeneem. ’n Paneel beoordelaars het besluit watter deelnemers genooi word om in Julie volgende jaar in New York aan die International Model and Talent Association se geleentheid deel te neem.

‘Op die oomblik is dit eenvoudig: Ek wil ’n akteur word. Dit is werklik net in God se hande’

Later het ’n verteenwoordiger van die New York Film Academy drie korttermynbeurse en drie langtermynbeurse uitgedeel. Ek was een van die wenners van ’n langtermynbeurs.

Hoe het jy gevoel toe jy hoor jy het die beurs kry?

Gelukkig het ek ’n masker gedra, anders sou die gehoor my mond vyf minute lank sien oophang het. Ek was verbaas en dankbaar. Wat is jou droom vir die toekoms? Op die oomblik is dit eenvoudig: Ek wil ’n akteur word. Dit is werklik net in God se hande.

Sal dit jou eerste keer in Amerika wees?

Ja, ek sien uit daarna, veral om mooi foto’s vir Instagram te neem.

Wie is jou gunsteling- plaaslike akteurs?

Schalk Bezuidenhout en Germandt Geldenhuys. Germandt is ook ’n mentor vir my by ’n toneelspeelkursus. Albei was great in Kanarie.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Ek is ’n pianis en neem musiek as vak. Ek geniet dit om klavier te speel, behalwe wanneer dit eksamentyd is. Verder komponeer ek ook my eie stukke.

Ek speel ook tennis en gaan gim so af en toe. Ek kuier by my meisie en gaan uit saam met vriende en is aktief in die sosiale media. Ek het vanjaar ’n lid van Mensa geword (’n vereniging vir begaafde mense), so dit sal ook van my tyd begin opneem.

Ehan gaan in 2022 aan die New York Film Academy st
Ehan gaan in 2022 aan die New York Film Academy studeer. Foto: Verskaf

Wat is jou raad vir tieners wat akteurs wil word?

Gaan soek die geleenthede, want dit kom nie altyd op ’n bord aangedra nie. As jy ’n geleentheid sien, gryp dit aan en moenie laat los nie. En moet nooit ophou speel nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe