Pigcasso, van Farm Sanctuary SA in Franschhoek, is so bekend vir haar skilderye dat sy aanhangers in New York, Duitsland en Londen het. Selfs Jane Goodall, die Engelse primatoloog, is een van haar aanhangers. 

In 2019 is sy boonop gekies is as die kunstenaar om ’n beperkte uitgawe van die bekende Swatch-horlosie se binnekant te ontwerp. Dit het wêreldwyd binne twee ure uitverkoop.

In 2019 was Pigcasso die kunstenaar wat een van di
In 2019 was Pigcasso die kunstenaar wat ’n beperkte uitgawe van die bekende Swatch-horlosie ontwerp het. Foto: www.pigcasso.org

Haar nuutste skildery, die een van prins Harry, wat Pigcasso op die dag van die skokkende Oprah Winfrey-onderhoud met hom en sy vrou, Meghan Markle, geskilder het, is deur ’n Spanjaard vir R50 000 opgeraap.

“En dis sy derde Pigcasso-skildery wat hy het,” vertel die reservaat se Joanne Lefson, wat ook na haarself verwys as “die vark se sekretaris en persoonlike assistent”. 

Dit is ook nie haar eerste skildery van ’n koninklike nie. Twee jaar terug was Pigcasso wêreldwyd in die nuus toe sy ’n skildery van koningin Elizabeth gemaak het.

“Dit was ’n pienk gesig met ’n goue kroon op wat vir R50 000 deur ’n Londenaar gekoop is. Miskien skilder sy binnekort vir Meghan,” sê Joanne. 

Joanne het Pigcasso in Mei 2016 uit ’n plaaslike varkplaas gered. “Sy was so klein dat sy in ’n skoenboksie agter in my kar kon pas. Sedertdien het my kar nog nooit weer dieselfde geruik nie,” sê Joanne laggend. 

Pigcasso skilder met haar mond en maak haar handte
Pigcasso skilder met haar mond en maak haar handtekening met haar snoet. Foto: www.pigcasso.org

Vandag is Pigcasso so vet soos ’n vark.

“Sy is vyf jaar oud en is massief. Sy weeg 700 kg, slaap sowat 20 uur per dag, eet een uur, skilder ’n uur – ‘as sy wil’. En wanneer sy nie in die skuur op ’n hooibal lê en slaap nie, is sy buite die skuur so gelukkig soos ’n vark in die modder. 

“Varke is baie slim en intelligente diere. In die skuur was verfkwassies wat ná die skuur se bouery nog rondgelê het, en varke eet of verwoes als wat jy hulle gee. En vir een of ander rede het sy dié verfkwassies gekoester. Ek het toe begin dink miskien is sy reïnkarnasie van Picasso,” sê Joanne. En dis waar die naam ‘Pigcasso’ vandaan kom.

Pablo Picasso was ’n Spaanse skilder en is onder meer bekend vir sy kubisme kuns.

Sowat drie maande nadat Pigcasso daar kom woon het, het sy begin skilder.

Pigcasso by haar skildery, OSTRICH, wat vir R80 00
Pigcasso by haar skildery, OSTRICH, wat vir R80 000 verkoop is. Foto: www.pigcasso.org

“Ek het die kwassies herontwerp sodat sy dit in haar mond kan vashou, en deur ’n paar positiewe versterkings het sy begin skilder,” vertel ’n trotse Joanne. 

“ ’n New Yorkse-paartjie wat die solderwoonstel hier bespreek het, het gevra hoeveel ek vir haar skildery sal vra. Hulle het R7 000 aan die sanctuary geskenk en dit was die eerste skildery wat verkoop is. Dit was ’n skildery met rooi verf. En dit was die begin van haar kunsloopbaan,” sê Joanne, wat als reg sit vir Pigcasso om haar kreatiewe kant uit te leef. 

Pigcasso is deesdae wêrelbekend. Foto: www.pigcass
Pigcasso is deesdae wêreldbekend. Foto: www.pigcasso.org

“Ek kies die kleure ook. Dis ’n vennootskap tussen ’n mens en ’n plaasdier. Sy kom en skilder net. Sy is beslis die queen diva op die plaas. Sy skilder gewoonlik in die oggend, en ek vat glad nie aan die canvas nie.  

“En wanneer sy klaar is, dip sy haar snoet in rooi beet-ink en druk haar snoet teen die canvas as haar handtekening wat die skildery ’n oorspronklike Pigcasso maak.”

Voor sy skilder, moet sy eers haar vrugte kry. “Sy eet eers baie vrugte voor sy begin. Dit gee haar energie om te skilder. En haar gunsteling is druiwe.” 

Pigcasso het nou haar eie reeks wyne. Foto: www.pi
Pigcasso het nou haar eie reeks wyne. Foto: www.pigcasso.org

Dis hoekom hulle in Desember die Pigcasso-wynreeks bekendgestel het.

“Gaste kan op die plaas die wyne kom proe en hier koop, en ons kan dit reg oor die land koerier. Dit word binnekort ook na Duitsland uitgevoer,” sê Joanne, en noem dat Pigcasso baie gewild is in Europa. 

Pigcasso se duurste skildery, die OSTRICH, is vir R80 000 verkoop. Sy het al sowat 200 oorspronklike kunswerke geskilder.

“Sy het sover miljoene rande vir die Farm Sanctuary SA, die niewinsgewende organisasie waar Pigcasso woon, ingebring,” sê sy.

“Deur die kunswerk wil Pigcasso mense inspireer om hul voedselkeuse te heroorweeg sodat ons ’n vriendeliker, meer volhoubare wêreld kan skep . . . sonder spek,” sê sy laggend. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe