Maar dinge het in Desember verlede jaar verander toe hulle weer ’n besoek by die dokter aflê. 

“Die dokter het vir ons gesê dinge lyk nie goed nie en die skanderings vir ons gewys. Die gewas het drie keer groter gelyk as tevore. Die dokter het gesê hulle gaan dit liewer nie uithaal nie, want dan sou sy nie meer wees wie sy is nie. Hulle het dit met chemopille behandel om die groei te vertraag,” vertel haar man, Pierre (50), ure voor haar begrafnis.

Maritsa Joubert (46) het voor haar dood net een wens gehad en dit was om die Krugerwildtuin te besoek. Danksy kykNET se nuwe program Dankie, Lottoland, kon sy haar droom bewaarheid ’n maand voor sy aan breinkanker gesterf het.

Maritsa was in trane toe sy hoor hulle gaan die Kr
Maritsa was in trane toe sy hoor hulle gaan die Krugerwildtuin besoek. Foto: kykNET

Sy het op 27 April by die gesin se huis in Kaapstad haar kankerstryd verloor. “Ons het nog gepraat, toe sien ek net daar gaan sy,” sê Pierre. 

In die jongste aflewering van die program besoek die sanger Francois van Coke en die Springbok Duane Vermeulen die Cheré Botha-skool in Bellville, Kaapstad, vir kinders met spesiale behoeftes. 

Dis by dié skool waar Pierre die afgelope sewe jaar as busbestuurder werk wat seker maak die kinders gaan en kom daagliks veilig terug van die skool af. 

In die episode word Pierre nie net bedank vir wat hy elke dag vir die skool doen nie; die span bederf hom en sy gesin ook met ’n vakansie in die Krugerwildtuin. “Ons was in 2010 laas op vakansie. Dit was lekker om by mekaar te wees en mekaar weer 'n bietjie te vind,” vertel Pierre.

Pierre raak sommer emosioneel toe hy praat oor die stryd wat sy vrou gevoer het. “Sy het einde Oktober 2016 ’n breinoperasie ondergaan. Daar was ’n gr. 4-melanoom aan die regterkant van haar brein, wat hulle uitgehaal het. Ná die operasie het ons elke ses maande vir ’n ondersoek gegaan. Hulle het gesê dit lyk asof dit nie groei nie - en dan raak ’n man gelukkig,” vertel hy. 

In die laaste twee jaar het hulle die dokter net een keer per jaar besoek. Die dokter was in Desember 2019 tevrede met die uitslae, maar in Desember verlede jaar was die nuus nie so goed nie.

Maritsa, met wie hy 22 jaar getroud was, onthou hy as ’n “vriendelike mens met ’n klein hart wat almal gehelp het”. Die egpaar het ’n seun, Jean-Pierre Joubert (16).

Hul laaste gesinsvakansie sal Pierre Joubert altyd
Hul laaste gesinsvakansie sal Pierre Joubert altyd bybly. Foto: kykNET

“Sy sou die afgelope Sondag 47 jaar oud geword het. Ons het as familie by die tafel gesit en dan dink jy dis haar verjaardag en ons sou nou dit of dat gedoen het. Sy is op ’n beter plek, maar dit vat aan ’n mens,” sê hy. 

Hul laaste gesinsvakansie sal hom altyd bybly. “Dit was vir my ongelooflik verbasend dat dit met ons gebeur het. Toe ek dit vir haar sê, was sy stomgeslaan; sy het eintlik aan die huil geraak. Sy kon nie glo dit gebeur met haar nie.”

Die episode is die afgelope Saterdag uitgesaai en aan Maritsa opgedra. “Dit voel amper soos ’n eer dat ander mense ook aan haar dink. Ons is maar net doodgewone mense, en dit het vir my gevoel asof iemand daar buite ons raaksien,” sê Pierre. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe