“Dis ’n indringer soos wat ek nog nooit van iets soos griep of bronchitus ervaar het nie,” vertel Emile Joubert (56), ’n wynskrywer van die Tuine in Kaapstad, aan Huisgenoot.

Hy kom pas uit twee weke van isolasie.

“Ek is done and dusted. Ek is nie seker of ek nou immuun is nie. Ek is nog effe onvas op my voete en voel soms wonky.

“Ek was plat op die naat van my rug. Ek was so siek ek kon nie lees of TV kyk nie.

“Dit het my herinner aan toe ek masels as ‘n kind gehad het. Maar met hierdie virus kan jy nie iemand bel en uitvind hoe lank dit gaan duur nie. Daar is nog baie onsekerhede. Dit is ’n virus wat vier-en-’n-half maande oud is.

“Elke keer as ek opgestaan het, was dit asof daar ’n ding op my longe sit. Daardie greep op jou longe is iets waarvan ek nie voorheen geweet het nie.

“Ek het geen ooglopende simptome van die virus getoon nie, maar het olik gevoel toe ek na my dokter toe is.

“Vir haar eie eie peace of mind het sy my gestuur vir ’n toets, wat twee dae later positief terug gekom het.

“Niks kan jou voorberei vir wat kom nie,” voeg Emile by. Daarom het hy op sy Facebook ’n paar “waarnemings” vir bewusmaking geplaas.

“Corona is meer as ’n polities-ekonomies-sosiale kwessie waaroor almal ’n opinie het,” skryf hy.

  • Jy en ander kan hierdie ding hê sonder om simptome te toon. Toe my toets positief was, het ek geen koors, hoes, spierpyn of niks gehad nie.
  • Moenie dit alleen probeer hanteer nie. Nadat die simptome begin posvat het, was ek vir vyf dae en nagte ’n sidderende wrak. As jy alleen woon en siek raak, kry hulp voordat die werklike simptome begin. ’n Vriend. Mediese dienste. Enigiets. Asseblief.
  • Die grootste skok is dat jou die bors toetrek as jy opstaan en beweeg. Dit is regtig verskriklik en die eerste paar keer gaan paniek jou beetpak as jy asemhaal. Ontspan, neem beheer en vat dit rustig.
  • Jy het geen aptyt nie, niks. Probeer egter klein hoeveelhede joghurt of sop inkry. Hoe swakker jy bly, hoe langer is die herstelproses.
  • Spoor op en kontak: Sodra die toets positief is, kontak dadelik almal met wie jy in kontak was.
  • My ernstige simptome was vyf dae lank – ek was altesaam 14 dae, van toets tot herstel, heeltemal buite aksie.
  • Hou kontak met jou huisdokter wat die besluit sal neem.