Sondagoggend vroeg was ’n pragtige, byna windlose dag in Kaapstad. Toe begin ’n rokie luiweg teen die blou lug uitkring. Die wind tel op en kort voor lank verander die toneel in een van siedende vernietiging wat ’n spoor van verwoesting gelaat het.

Wat vir talle ’n rustige Sondag sou gewees het - studente wat hul werk inhaal en buitelugliefhebbers wat onder die betowering van Tafelberg swig - het in 'n nagmerrie ontaard.


Eers het die bekende Rhodes Memorial-teetuin se gasbottels ontplof.


Toe kies die vlamme koers na die kampus van die Universiteit van Kaapstad en rig verder skade aan. Die leeskamer van die ikoniese J.W. Jagger-biblioteek wat in die 1930's gebou is, ly onherstelbare skade aan kosbare versamelings.


Volgens die vise-kanselier van die universiteit, Mamokgethi Phakeng, het ’n sproeierstelsel genadiglik ingeskop en verhoed dat die gebou in geheel afbrand. Dit was een van die opgraderings wat 'n tydjie gelede aangebring is.



Kort voor lank is video's versprei van studente wat verdwaas met ’n paar besittings in ’n tas van die kampus haas. Die Jammie-pendeldiens is ingespan om met die ontruiming te help.




Die bekende "Jammie Steps" is ’n gewilde bymekaarkomplek vir studente deur die dag. Maar nie dié Sondag nie.



Die vlamme het niks ontsien nie.



Nog ’n bekende Kaapse baken, en die oudste meul van sy soort, Mostert se meul, kon nie enige weerstand teen die gulsige vlamme bied nie.



Lisette Lombard was gelukkig om betyds van die berg af te kom toe sy vir ’n drafsessie op die berg gegaan het.

Sy kon nie by haar motor uitkom nie en terwyl sy desperaat na ’n roete van die berg af gesoek het, moes sy ook die werklikheid in die oë staar dat haar motor waarskynlik in die brand vernietig is.


’n Kaapse fietsryer, die sakeman Jeremy Stewart, het hierdie skrikwekkende video gedeel.

Die wind waai nog deurlopend baie sterk in en rondom Kaapstad en die brand het sedertdien in die rigting van Vredehoek beweeg.

Die brand gloei en bloei. Daar het nou so effens van 'n reëntjie uitgebreek. Mense in die bostrate het al ontruim en...

Posted by Marzahn Botha on Sunday, 18 April 2021

Inwoners van die bekende Disa Towers (ook bekend as die sout-en-peperwoonstelle) is intussen versoek om te ontruim.



Intussen word ’n ernstige beroep op ondersteuning gedoen vir die brandbestryders, vrywilligers asook die diere wat van die berg moet vlug.



In hierdie stadium is drie mense sover bekend in die brand beseer: twee brandbestryders en ’n Werk met Vuur-vrywilliger. Twee van die drie beseerdes is steeds in die hospitaal.

Intussen is Kaapstad se verkeer erg ontwrig deur verskeie paaie wat gesluit is.

Ondersteuning is steeds nodig vir die reddingsdienste en vrywilligers wat die afgelope 24 uur spook om die brand onder beheer te bring en die studente wat van die kampus ontruim moes word.


  • ’n Man is in hegtenis geneem. Hy is luidens berigte deur 'n buurtwaglid in Vredehoek vasgetrek nadat hy ook daar 'n brand gestig het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe