Sy het dwelms laat staan en is op pad na roem, en dit alles danksy haar sangtalent.

Nadat ’n video waarop Yummy (32) in ’n parkeerplek in Parow in die noordelike voorstede van Kaapstad sing, soos ’n veldbrand versprei het, het die gewilde musikante Robin Pieters en Craig Lucas na haar gaan soek.

Die twee het haar genooi om deel te wees van hul aanlyn Vrouemaandkonsert, Ode to Women, wat op 1 Augustus gestroom is.

“Ons het nie gedink dit sou so groot raak nie. Ons wou haar net vir die vertoning bespreek en vir haar wys sy kan hieruit ’n lewe maak . . . Sy het in trane uitgebars en nie geweet wie ons was toe ons haar ontmoet het nie,” sê Robin. 

Yummy het ’n roerende weergawe van George Michael se klassieke 1980’s-lied “Careless Whisper” gesing en gou vele kykers se hart gewen. 

“Ek was op die verhoog voor ek my kinders se pa ontmoet het. Ek het op skool aan baie sangkompetisies deelgeneem en dit het gevoel of dit is waar ek hoort. Toe ek tussen Craig en Robin staan, het dit vir my gevoel ek is tuis,” sê Yummy.

Yummy het ’n moeilike lewe gehad. Sy het haar kinders se pa in 2012 verlaat. Sy het op straat gebly en tik en Mandrax gebruik terwyl haar 73-jarige ouma haar drie kinders versorg het. 

Yummy was aan dwelms verslaaf sedert sy 15 jaar oud was en noudat sy twee maande nugter is, glo sy dit is nooit te laat om jou lewe om te keer nie. Sy het na haar oupa en ouma se huis teruggekeer, maar sy was vir so lank weg dat haar jongste kind haar nie herken het nie.

“Ek het vir myself gesê ek gaan nie na my ou lewe terug nie. Ek kyk nou net vorentoe. Ek wou huis toe gaan en my ouma help, want my oupa het onlangs gesterf. Ek is nou skoon, en ek voel dit is nou my tyd en ek hoef nie na daardie lewe terug te keer nie,” sê sy. 

“Ek glo dit is nooit te laat vir enigiemand nie. Dit is net die eerste fase vir my, maar ek voel asof ek nooit dwelms gebruik het nie. Ek het nie ’n verskoning daarvoor nie. . . Ek het dit net gebruik.” 

“Sy wil verander en sy maak die veranderinge,” sê Robin. 

“Ons het verlief geraak op Yummy en die krag wat sy so sterk dra! Ons was absoluut verstom deur jou optrede. Dankie dat jy ’n ware voorbeeld van egtheid en verandering is. Ons is geëerd om deel te wees van jou pragtige en kragtige reis,” skryf Robin in die sosiale media. 

Haar storie het ander geïnspireer om haar en haar gesin te help. ’n Aanhanger wat Yummy se storie gehoor het, het vir haar ’n foon gestuur, Pick n Pay het vir haar familie kruideniersware gestuur en ’n ander onderneming het aangebied om hul huisie agter aan haar ouma se huis te meubileer.

“Al wat nou in my lewe saak maak, is my kinders en my ouma. Ek wil vir die verlore tyd saam met hulle vergoed. Al weet ek ek kan nie dieselfde ma of dieselfde kleindogter wees wat hulle eens gehad het nie, vra ek die Here om my te help om ’n beter ma vir hulle en kleinkind vir my ouma te wees,” sê Yummy.

Yummy doesn’t know how much money we raised in 2 days ????‍??

Posted by Robin Pieters on Friday, August 21, 2020

Sy moedig ander mense wat met verslawing worstel aan om soos sy professionele hulp te kry, hul waarheid te trotseer en hul lewe te verander. 

“As jy weet jy het ’n dwelmverslawing en dit ontken, sal jy nooit met jou lewe vorentoe gaan nie. Ek leef nie in ontkenning nie, ek sien die lewe vir wat dit is. Ek vat wat God vir my gee en gaan dit met ope arms en ’n oop hart tegemoet. Nou voel dit of ek nooit dwelms gebruik het nie.”