Maar sy sou nie kon dink een van haar geliefde ouers sal daaraan sterf nie – of dat die siekte albei haar ouers binne enkele ure sou eis nie.

Maar dit is die 19-jarige Amy Volkwijn se tragiese lot.

In haar gesinshuis het die coronavirus ondenkbare seer en verwoesting kom saai.

“Ek het nie vir een oomblik gedink hulle sou daaraan doodgaan nie. Ek het gedink ons sou as gesin daardeur kom en dit met geloof en gebed oorwin,” sê Amy, ’n onderwysstudent van Kaapstad.

Enkele dae nadat haar ouers, Barry (48) en Heidi (43), op dieselfde dag deel van die corona-sterftestatistieke geword het, is haar stem verslae toe sy uit haar ouerhuis in Retreat, ’n voorstad van Kaapstad, deur ’n video-oproep met Huisgenoot gesels.

Ook Amy, die ontslape egpaar se enigste kind, het positief vir die coronavirus getoets en is in selfisolasie.

“Ek het hier en daar lyfseer, kouekoors en ’n loopneus gehad. Niks in vergelyking met wat my ouers moes deurmaak nie.”

Barry, ’n voertuigbestuurder vir die Alexandra- psigiatriese hospitaal, het eerste siek geword.

Twee dae nadat die ambulans hom kom haal het, is ook sy vrou in die Mediclinic Constantiaberg opgeneem.

Heidi, die bestuurder van die program vir die jeug en jong volwassenes by die organisasie The League of Friends of the Blind (Lofob), was self gesiggestremd.

Haar pa was haar ma se oë, vertel Amy. “My pappie en mammie was altyd saam. Hulle het vir mekaar geleef. Ek dink nie die een sou sonder die ander uit die hospitaal wou kom nie.”

Op Saterdag 20 Junie, net ’n dag ná hul 21ste huweliksherdenking, is Barry in die vroeë oggendure oorlede.

Daardie middag het ook Heidi, ’n diabeet, in dieselfde hospitaal die stryd teen die coronavirus verloor.

Amy is plotseling wees agterlaat, alleen met soveel kwelvrae in haar gemoed.

“Ek kan dit steeds nie glo nie,” sê sy. “My ma en pa is albei op één dag dood. Ek huil steeds. Hoekom my ma én my pa? Hoekom albei? En hoekom op dieselfde dag? Ek is stukkend.”

Agter haar strak gesig, omraam deur donker hare, lyk dit soos ’n muur van blomme, want Amy sit by ’n tafel vol ruikers van meegevoel wat familie, vriende en kollegas van haar ouers gestuur het.

Terwyl Barry as noodsaaklike werker tydens die inperking met sy werk by die hospitaal moes voortgaan, het Heidi die afgelope twee maande uit die huis gewerk.

Amy vermoed haar pa het die virus opgedoen deur sy werk, wat behels het dat hy tussen hospitale moes rondry.

Hy het sy gesigmasker getrou gedra, altyd sy werkklere skoon gehou en gereeld sy hande ontsmet, vertel sy.

“Hy was ’n gesonde man voor dit,” voeg sy by. Haar ma het benewens diabetes ook hoë bloeddruk en hoë cholesterol gehad.

Haar ma was ’n sterk vrou wat baie vir ander gedoe
Haar ma was ’n sterk vrou wat baie vir ander gedoen het, sê Amy. Foto: Verskaf

Nadat Heidi op 17 kwaai hoofpyne begin kry het, is gloukoom in albei haar oë gediagnoseer.

Drie operasies later was sy volkome blind. Sy het na Lofob vir ondersteuning gegaan en op 19 daar begin werk.

Dit is waar sy en haar toekomstige man mekaar ontmoet het. Barry het toe as voertuigbestuurder daar gewerk.

“Eendag het my mammie van die trap geval en my pa het tot haar redding gekom en haar skoen wat uitgeval het weer vir haar aangetrek.”

Sedert daardie eerste ontmoeting op die trap was hulle onafskeidbaar.

“Een van hul eerste afsprake was op Vlaeberg in die Kaap. Hy het my ma soontoe gevat vir ’n piekniek en om na die sonsondergang te kyk. Hy was goed daarmee om vir haar ’n prentjie te skets en vir haar te sê wat hy sien as die son ondergaan. Hy was haar oë,” vertel Amy.

Deur die jare het haar ouers gereeld teen sonsondergang op Vlaeberg gaan piekniek hou.

Verlede jaar kort voor die feestyd het hulle weer so gemaak. Min het hulle toe geweet dit sou die laaste keer wees.

Amy saam met haar ouers op die dag van haar matrie
Amy saam met haar ouers op die dag van haar matriekafskeid verlede jaar. Foto: Verskaf

Haar pa het vroeg in Junie die eerste simptome van covid-19 getoon.

“Hy het die Vrydagaand gesê hy het kouekoors. Hy het ’n lelike hoes gehad, genies en wou net in die bed wees,” onthou Amy.

Die Maandag het hy hom vir die virussiekte laat toets.

“Hy het die volgende dag sy uitslag gekry. Hy was positief.”

Twee dae later, op Woensdag 10 Junie, het Barry gesukkel om asem te haal en die ambulans is ontbied.

“Hulle het gesê die suurstofvlak in sy bloed is laag en hulle sal hom vir ’n paar uur hospitaal toe vat.”

Daardie “paar uur” het 10 stresvolle dae geword.

Intussen het Amy en haar ma ook positief getoets. ’n Dag nadat hulle dié uitslag ontvang het, het Heidi gesukkel om van haar kamer tot by die badkamer te loop.

Die tweede keer binne twee dae is die ambulans ontbied.

“Ek het gedink sy sou seker net die naweek in die hospitaal wees,” vertel Amy oor daardie Vrydag. Maar teen Maandag 15 Junie het sy gehoor haar ma reageer nie goed op die suurstof nie.

“My ma en pa is daardie selfde dag op ventilators gesit. My ma het beter begin vaar en my pa het toe gesukkel.”

Amy is nie toegelaat om hulle te besoek nie, maar sy het die hospitaal drie dae later gevra of sy haar ouers deur ’n WhatsApp-video-oproep mag sien.

“Hulle albei was verdoof. My ma het baie sleg gelyk. Haar gesig en hande was geswel.”

Vir die volgende dag, 19 Junie, het Barry en Heidi ’n spesiale ete beplan om hul 21ste huweliksherdenking te vier.

“Maar toe lê hulle albei in die hospitaal – my pa in die covid-19-saal en my ma in die waakeenheid.”

Toe Amy op Saterdagoggend 20 Junie wakker word, het sy ’n boodskap van ’n kollega van haar ma op haar foon gevind om met haar te simpatiseer oor haar pa se dood.

Amy het dadelik haar tannie gebel, wat bevestig het dat Barry om halfdrie daardie oggend gesterf het.

“Ek kon nie eens vir my pa bye sê nie,” sê sy hartseer. “Ek het toe onmiddellik begin stres oor my ma.”

Haar pa het haar geleer wat ’n gentleman is. Foto:
Haar pa het haar geleer wat ’n gentleman is. Foto: Verskaf

Later daardie oggend het die hospitaal gebel om te sê sy mag om drieuur daardie middag haar ma besoek.

“Ek het gedink dit is seker omdat my pa dood is dat hulle wou hê ek moes my ma kom sien. Nooit het ek gedink dit was om vir haar bye te sê nie.”

In die waakeenheid het Amy gevra of sy haar ma se hand mag vashou.

“Ek het vir haar gesê Pappie is weg, en ek wil hê sy moet aanhou veg om huis toe te kom na my toe.”

Maar kort nadat sy by Heidi se hospitaalbed weg is, het sy haar ma se doodstyding gekry.

“Ek was nog numb oor my pa se dood ’n paar ure vroeër toe ek die nuus kry. Ek kon nie praat nie. Maar ek was so bly dat ek haar voor dit kon sien.”

Vir die egpaar wat deur dik en dun saam was, is ’n gesamentlike diens op 4 Julie gereël om hul lewe en liefde te vier.

Tog sê Amy: “Dit het nog nie ingesink nie. Ek wag heeltyd dat my ma en pa vir my ’n boodskap gaan stuur dat hulle op pad terug is huis toe van die hospitaal af. Maar toe ek gister die papierwerk vir hul verassing geteken het, het ek finaal besef ek gaan nie daardie boodskap kry nie. Hulle is vir ewig weg en ek is alleen.”

Sy put troos daaruit dat haar ouers steeds onafskeidbaar is – in die dood soos in die lewe.

“Dit is hartseer dat hulle albei weg is en op dieselfde dag. Dis moeilik, maar dis beter dat hulle nou weer saam is.”

Wat haar toekomsplanne betref, is sy vasbeslote om haar studie aan die Rosebank-kollege se kampus in Kaapstad te voltooi. “My ouers wou gehad het dat ek my onderwysgraad moet klaarmaak,” sê Amy.

“En ek sal aanhou om hulle te eer. My pa het my geleer wat ’n gentleman is en my ma het my geleer wat dit is om ’n sterk, inspirerende vrou te wees.”