In Ocean View op die suidelike Kaapse skiereiland, vertel “Antie Ingrid”,  begin die honde soms reeds blaf as hulle die 1 kennel-bakkie vier blokke ver hoor aankom.

Die diereliefdadigheidsgroep wat al verskeie jare met versorging- en inligtingsprogramme in die Kaapstad-omgewing help, fokus nou grootliks daarop om honde en katte te help voer.

“Met lockdown is daar nou baie meer mense wat omtrent niks het om te spaar nie, en hulle het ons hulp nodig met hul diere.”

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Ingrid sal byvoorbeeld op een hoek agter uit die bakkie “warm kos” - 'n voedsame mengsel van saggemaakte bolletjies, rys en opgekookte hoenderafval wat maklik is vir honger diere om af te sluk - in elke soort houer uitskep wanneer sy talle blokke verder 'n koor hoor opklink.

“Dan sê die mense: ‘Antie Ingrid, hoor hoe gaan die honde aan. Hulle weet julle is weer hier,’” vertel Ingrid, skoon aangedaan. “Ja, die honde ken selfs die bakkie se geluid.” 

Of hulle sal van ver af aangehardloop kom, vertel Corrine.

“Met die eerste kennismaking is die diere dalk ietwat wantrouig of skrikkerig, maar dit vat net 'n dag of twee voor hulle jou herken en om jou vergader. Dis 'n ongelooflike gevoel om die diere te kan help, maar die behoefte is so groot. Die situasie is soms desperaat.”

Die lyding is soms hartverskeurend: Altwee dié hon
Die lyding is soms hartverskeurend: Albei dié honde wat 1 kennel at a time in Atlantis aangetref het, kry nou die nodige aandag. Foto's: Verskaf

1 kennel at a time sal pakke droë kos aan die eienaars uitdeel wat hul diere omtrent 'n week sal hou, maar ook op 'n Dinsdag en Donderdag groot potte van die warm kos vir die diere berei.

“Dis amper soos 'n ‘sopkombuis’ vir honde en katte,” vertel Corrine. “Ons probeer die warm kos ook so voedsaam moontlik maak, want ons weet nie wanneer party van die diere weer hul volgende maaltyd gaan kry nie.”

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Sy en Ingrid het 1 kennel at a time in Desember 2015 begin, vertel Corrine. Die liefdadigheidsorganisasie het gegroei met die aansluiting van nog vier vrywilligers, Trijntje de Jonge, Linda Fautley, Jeni Fleming en Tracy Stallard. Die span gebruik Corrine en Trijntje se bakkies om die kos aan te ry.

Alles gebeur op 'n vrywillige grondslag sonder 'n winsoogmerk en niemand kry enige vergoeding nie. Maar die dankbaarheid wat hulle ervaar en die laaste ruk ook die steun vir hul pogings uit verskeie oorde, is meer as genoeg beloning.

Ingrid sluk 'n paar trane weg toe sy van haar roeping vertel. “Ek was nog altyd baie lief vir diere. Ek raak baie emotional oor hulle. Ek lê baie aande en dink aan al die diere wat honger en siek is.”

Diere is veral in buitengewoon swaar tye soos nou laaste in die ry - “daarom wil ek hul stem wees”.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Sy het 18 jaar gelede by TEARS aangesluit, die eerste vyf jaar as vrywilliger. Maar sy het ook aan die begin op eie stoom “met die geldjie wat ek uit 'n klein vis-en-tjips-take away van my huis af gemaak het biscuits en hondekos gekoop en honde en katte begin voer. En soos mense uitgevind het wat ek doen, het ek al meer met ander saamgewerk. Ek het altyd gebid vir wat nou gebeur.” Ja, hoe meer mense uitvind hoe groot die nood is - hoe meer hande uitgereik word - hoe minder diere ly.

Tussen haar 1 kennel-program saam met Corrine-hulle help sy ook by 'n sopkombuis vir kinders so al om die ander dag. “En as die kinders dan so by Soup Heroes kom kos haal, sal ek ook vir hulle pakkies vir hul diere by die huis gee en sê: ‘Ons kan sien julle is honger, maar hier’s ook iets vir jul honde en katte. Hulle is ook honger.'”

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

In samewerking met TEARS help Ingrid-hulle al jare om honde en katte gesteriliseer, beseerde of siek diere behandel te kry en om aanneemhuise  te kry vir dié wie se mense nie meer vir hulle kan sorg nie.

Hulle probeer ook die euwel van hondegevegte bekamp. “Ek het weer in die laaste twee weke ses honde wat in dog fighting gebruik is saam met die Dierebeskermingsvereniging laat wegvat,” vertel Ingrid, wat self vier honde, Tigress, Nala, Simmy en Twinkles ("almal rescues") tuis het.

Die De Stories het ook drie katte, waarvan sy een met die bottel grootgemaak het. “Sy het toe in die palm van my hand gepas.” Haar man, John, spot hoeka die diere kry altyd meer aandag as hy, vertel sy en lag.

Corrine vertel al is 1 kennel at a time se hooffokusgebied Ocean View, “met baie diere daar in 'n haglike situasie weens lockdown, sien ons dieselfde behoefte in meer en meer gemeenskappe.”

Die 1 kennel-span werk die laaste ruk nou saam met ander nie-regeringsorganisasies soos New World Foundation, Sunrise Animal Rescue en Clever Kids Smart Dogs om ook verligting te help bring in byvoorbeeld Lavender Hill, Atlantis, Witsand, Kalbaskraal, die Wes-Kaapse Chatsworth- en Redhill-gemeenskappe en Masiphumelele. 

“Ons prioriteit is om soveel moontlik diere in nood te bereik. En sonder TEARS Animal Rescue, Animal Lifeline en die publiek wat ons voortdurend ondersteun, sou ons werk ook nie moontlik gewees het nie,” benadruk Corrine.

  • 'n Maklike manier om betrokke te raak as jy in hierdie ongewone tyd wil hand bysit, is om The DogBox Project aanlyn te besoek. Daar kan jy regstreeks kies watter kosskenking jy aan jou keuse uit 'n lys van diereskuilings en -liefdadigheidsorganisasies wil maak.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.