’n Pasgetroude man is dood en sy vrou het ernstige beserings opgedoen nadat hulle op hul wittebrood in 'n kabelgly-ongeluk teen mekaar gebots het.

Egael Tishman (24) en sy vrou, Shif Fanken (27), van Israel was verlede Donderdag omstreeks halftwee die middag in die ongeluk betrokke kort nadat hulle in die Honduras aangekom het as deel van hul wittebroodsvierings.

Ná hul troue het die paartjie in Fort Lauderdale, Florida, vir hul wittebrood aan boord van die Royal Caribbean-skip Allure of the Seas gegaan. Vyf dae later het hulle op die eiland aangekom.

Hulle het toe besluit om te gaan kabelgly, ’n avontuur wat die luukse skip op hul webtuiste geadverteer het as ’n "ekstreme Karibiese glykabeltoer” op die eiland. 

Luidens berigte is Shif eerste by die glykabel afgestuur. Sy het in die middel van die glykabel vasgehaak. Die personeel het haar man toe afgestuur, wat daartoe gelei het dat hy op volle vaart teen haar gebots het. 

Reddingwerkers sê die paartjie het albei aanvanklik die botsing met gebreekte ribbes oorleef. Egael het egter gekla dat hy sukkel om asem te haal.

Reddingswerkers het toe vir hom ’n suurstofmasker aangesit. 

Hy het egter die volgende oggend aan sy beserings beswyk. Die Washington Post berig sy dood kan moontlik toegeskryf word aan ’n breinaneurisme. 

Shif is Vrydag per lugambulans terug na Amerika gebring, waar sy verskeie operasies ondergaan het. Sy is tans in ’n stabiele toestand. 

Die eiland se toerismegroep ontken egter dat die ongeluk die glykabelpersoneel se skuld was en skryf dit toe aan die paartjie wat die kabelglyery verkeerd hanteer het. 

Hulle sê die personeel het alle veiligheidsprosedures gevolg.

Die saak word wel ondersoek. 

Bronne: Washington Post; Dailymail