Simon Meeding (regs) neem 'n selfie saam met sy ou
Simon Meeding (regs) neem 'n selfie saam met sy ouers, Hennie en Stephanie, op Kersdag. Foto: Verskaf.

“Ek sal daardie dag nooit vergeet nie. Dit was groot pret en ons het lekker gelag soos die meeste gesinne op Kersdag doen. Maar ek het nooit gedink ek sou ’n paar dae later sonder ouers wees nie."

Vir Simon het die covid-pandemie oornag baie persoonlik geraak, en met verwoestende gevolge. Sy ouers, wat hom as baba aangeneem het, was sy enigste familie. 

Vroeg in Januarie het eers sy pa, Hennie (65), begin siek word. Hy het ’n covid-toets laat doen en drie dae later het die skokuitslag gekom: positief. 

Nie lank daarna nie het Simon en sy ma, Stephanie (60), ook vir ’n toets gegaan. Maar die virus het hul lewe onomkeerbaar verander nog voor hulle die uitslae kon kry. 

“My pa het begin swaar asemhaal en ná ’n besoek aan die dokter op Kakamas moes ons hom na die hospitaal op Upington neem. Dit was die laaste keer dat ek hom gesien het," vertel Simon. 

Hennie en Stephanie, voordat hulle tragies aan cov
Hennie en Stephanie is albei aan covid-19 oorlede. Foto: Verskaf.

Simon en sy ma se toetse was ook positief. Hulle het hulle in hul plaashuis buite Kakamas afgesonder. Teen 18 Januarie het Simon se simptome opgeklaar, maar sy ma het aanhou hoes.

“Dit was asof sy reeds geweet het, want sy het haar goedjies in ’n tas gepak nog voor ons daardie dag dokter toe is,” onthou Simon.

Die dokter op Kakamas het X-strale van sy ma geneem en hulle toe dringend na die hospitaal op Upington verwys sodat sy opgeneem kan word. 

“By die hospitaal het sy die vorms ingevul, en ek het haar 'n drukkie gegee. Ek het toe nie geweet ek sal haar nooit weer sien nie," vertel Simon hartseer. 

Daardie Dinsdagoggend, 19 Januarie, is sy ma oorlede, en presies ’n week later het hy sy pa ook aan die dood afgestaan.

“Ek was (sedert die koms van covid-19) regtig bekommerd oor hulle, want hulle is al familie wat ek het. Ek het nooit gedink ek sou so hartseer kon wees toe my ma sterf nie, want ek het nooit verwag dit gaan sou gou gebeur nie,” sê Simon. “Ek was net so lief vir my pa, maar ek was darem ’n bietjie kalmer ná sy dood.”

Daardie helderheid, wat ek altyd kon sien in die huis, is net nie meer daar nie.

Hy woon nou alleen in die plaashuis. Simon mis veral die koffie drink soggens saam met sy ma voor die dag se werk begin. 

“Nou staan ek op en maak my kamerdeur oop en die huis is donker. Daardie helderheid wat ek altyd in die huis kon sien, is nie meer daar nie. My gesin het die huis helder gemaak."

Simon vertel dat sy ouers twee groot pilare in die
Simon vertel dat sy ouers twee groot pilare in die gemeenskap was. Foto: Verskaf.

Simon onthou nog hoe sy ma hom tydens die eerste vlaag van die pandemie gewaarsku het: “Jy moet versigtig wees, want hierdie virus is soos ’n dief in die nag.”

Dit is juis hoekom dit hom so ontstel as mense die virus nie ernstig opneem nie. Dit is vir hom veral erg om te sien hoeveel mense nie hul maskers dra as hy op die dorp rondry nie.

“As enigiemand nog dink hierdie virus is ’n wolhaarstorie moet hulle met my kom gesels. Ek sal dan vir hulle vertel van die drie weke van hel waardeur ek is,” vertel Simon.

“Op 30 sit ek nou sonder my ouers, en moet ek vir hulle ’n roudiens reël."

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe