Die Carstens-, Bauer- en Davin-gesinne was nog altyd nou betrokke by hul onderskeie kerke en in hierdie hartverskeurende tyd blyk dit dat dit juis hulle geloofsgemeenskappe is wat vir hulle standvastigheid bied.

Die Carstens-gesin. Foto: Facebook / Dané Carstens
Inge Bauer (7) sit hier op haar pa, Stefan, se skoot. Sy is steeds vermis nadat die Blinkwater-lodge afgebrand het. Stefan en Elré (4) is in die brand dood. Madelein Bauer (36) kon uit die brandende huis ontsnap. Foto: Facebook
Foto: Facebook

“Ons probeer Wilmien en Madelein soveel ondersteun wat ons moontlik kan,”  sê ds. Jan Grobbelaar, leraar aan die NG Kerk Prince Alfred Hamlet.

“Ek weet die aand voordat hulle na die Blinkwater-lodge is, het die drie gesinne in ’n gastehuis oornag. Daar het die gesinne saam met hul kinders huisgodsdiens gehou. Dit spreek nogals boekdele van watter soort mense hulle was,” vertel hy. 

Foto: Desertmanor.co.za

Die Davin- en Carstens-gesinne was aktiewe lidmate van die NG-kerk Prince Alfred Hamlet.

Hulle was ook lede van die selgroep wat ds. Grobbelaar weekliks aangebied het en het gereeld hand bygesit met kerkdienste en -byeenkomste.

En terwyl die gemeenskappe van Ceres, Prins Alfred Hamlet en die Koue Bokkeveld rou oor die vriende wat hulle verloor het, treur die oorledendes se ouers, hul kinders se grootouers, ook.

“Ons probeer hulle ondersteun soveel ons kan,” sê ds. Janlu Kuiler, leraar aan die NG-gemeente in Robertson waar Wilmien se ouers, Ben en Iza Kriel, lidmate is. 

“Hulle gaan deur ’n ongelooflike moeilike tyd, en dit is swaar vir ons almal. Maar ons hoop is in God om hulle te troos."

Johan en Winnie Jordaan het die afgelope Saterdag die sowat 200 km vanaf Barrydale na Prins Alfred Hamlet gery om die troosdiens van hul dogter Dané (32), haar man, Hendri (39), en hul kinders, Pierre-Johann (5) en Magiel (3), by te woon. 

Vogens ds. Olivier Muller, leraar aan die NG-gemeente op Barrydale, is die Jordaans al jare lank lidmate van die kerk en rou die gemeenskap saam met hulle.

“Dané het hier op Barrydale grootgeword en dis ook waar sy en Hendri mekaar ontmoet het. Sy het as’t ware in die kerk voor ons grootgeword. Dit is baie sleg vir ons almal.

Ds. Gert Cordier, leraar aan die NG-gemeente op Tulbagh, sê die gemeenskap van Tulbagh dra vir Pierre en Bettie Carstens, wat hul seun Hendri aan die dood moes afstaan. 

“Hulle stap ’n baie noue pad met die Here en ek kan met sekerheid sê dat God hulle hierdeur sal lei.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe