Dit is nie moontlik om met die wete van dit wat gebeur het na die gesinsfoto’s te kyk sonder om stukkend te voel nie. Die kindergesiggies – volmaak in hul onskuldige skoonheid. Die liefde en lewensvreugde wat uit hul ouers se gesigte straal.

Drie pragtige gesinne; dertien kosbare lewens.

Hoe kan dit wees dat ’n vlammehel alles in ’n oogwink kom vernietig het? Maar dit hét, en die tragedie is ondenkbaar; die verlies hartverskeurend.

Eindelik sou hul plaaskroos weer net sorgeloos kon kind wees en in die rooi sand van die Kalahari kon baljaar.

Die winterweke van Augustus sou eindelik vir hulle ’n blaaskans en droom­vakansie gewees het. Ná die byna vyf maande van die inperking het die drie pare hartsvriende – almal sout-van-die-aarde; plaasmense van Ceres, Prins Alfred Hamlet en die Koue Bokkeveld se wêreld – besluit om met hul kinders die pad te vat na ’n natuurreservaat digby die grens tussen Suid-Afrika en Botswana.

Eindelik sou hul plaaskroos weer net sorgeloos kon kind wees en in die rooi sand van die Kalahari kon baljaar.

Op ’n foto wat geneem is kort voor die drie gesinne by hul veraf, verlate bestemming aan­gekom het, glimlag vyf volwassenes
en sewe kinders vir die kamera neffens die skadu van ’n reuseboom. Gelukkig; vry.

Links is die Carstense, in die middel die Bauers en regs die Davins. Die Carstensseuntjies se ma is nie op die foto nie – dit was waarskynlik sy wat dié laaste groepskiekie geneem het.

Die laaste foto wat die groep vriende saam geneem
Die laaste foto wat die groep vriende saam geneem het. Van links is Hendri met Pierre-Johan en Magiel, Stefan en Madelein met Inge en Elré en Wilmien en Frans met Ben, Frans en Iza.

Maar kort daarna sou ’n tragedie dié gelukkige gesinne tref, en dit sou die land verslae laat. ’n Verwoestende brand het die grasdakvakansiehuis Blinkwater Desert Place Manor – ’n stukkie luuksheid tussen die duine – in die vroeë oggend­ure van Sondag 16 Augustus verswelg nadat dit kort ná eenuur die oggend uitgebreek het, en die volgende dag sou net swart roet en as nog op die sanderige vlaktes van die Kgalagadi-oorgrenspark smeul.

Hendri en Dané Carstens (38 en 32) en hul twee seuntjies, Pierre-Johan (5) en Migiel (3), is al vier dood. Hul boesemvriend, Stefan Bauer (39), en sy jongste dogtertjie, Elré (3) ook. Teen druktyd is daar vermoed haar sussie, Inge (6), het ook nie oorleef nie en die polisie het na haar oorskot in die puin gesoek. Die dogtertjies se ma en Stefan se vrou, Madelein (36), het oorleef – alleen in haar smart.

Die vyfster-Blinkwater Desert Place Manor in die K
Die vyfster-Blinkwater Desert Place Manor in die Kgalagadi-oorgrenspark. Foto: desertmanor.co.za
Daar is ook ’n boma en ’n vuurput met ’n braai op
Daar is ook ’n boma en ’n vuurput met ’n braai op die grondvlak. Foto: desertmanor.co.za
Die vyfster-Blinkwater Desert Place Manor in die K
Die vyfster-Blinkwater Desert Place Manor in die Kgalagadi-­oorgrenspark het drie slaapkamers, ’n oopplankombuis en ’n sitkamer met ’n gasstoof en oond. Foto: desertmanor.co.za
Die vyfster-Blinkwater Desert Place Manor in die K
Die vyfster-Blinkwater Desert Place Manor in die Kgalagadi-­oorgrenspark het drie slaapkamers, ’n oopplankombuis en ’n sitkamer met ’n gasstoof en oond. Foto: desertmanor.co.za

Ook haar vriendin Wilmien Davin (37) kon betyds met die jongste van haar drie spruite, baba Ben (1), uit die vlamme ontsnap – maar haar kinders Frans (5) en Iza (3) het nie.

Die pragtige kindergesiggies sal nooit weer vir hulle ma kan glimlag nie.

Wilmien se man, Frans (36), het teen druktyd nog in ’n Kaapse hospitaal om sy lewe geveg nadat hy ná die ramp met ernstige brandwonde soontoe geneem en daar opgeneem is. Hy en sy vriende het glo in en uit die brandende huis gestorm om die kinders na buite te dra en hulle te probeer red.

Kyk ’n mens nou na foto’s van die drie gesinne in die sosiale media, is dit duidelik dat hulle natuurmense was en die buitewêreld en sy wonders omarm het. Daar is foto’s waar hulle visvang, kampeer, in die sneeu speel, by ’n waterval swem, tussen fynbos hurk en in die berge en al langs die see stap.

Die lewe was vir al drie gesinne een groot, beeldskone avontuur vol liefde en vreugde.

En so ondenkbaar wreed is dit van hulle weggeruk . . .

Dit is die dag nadat die nuus oor die brand daar doer ver in die Kalahari die mense van Ceres en sy omstreke bereik het. Tussen die lowergroen vrugteboorde waar die appelbome se ­pienk bloeisels begin bot, staan ’n groepie mense in ’n skuur op die plaas Dennekruin anderkant Prins Alfred Hamlet en troos mekaar.

Die Carstense. Foto: Facebook / Dané Carstens
Die Carstense. Foto: Facebook / Dané Carstens
Die Carstens-gesin. Foto: Facebook / Dané Carstens
Die Carstens-gesin. Foto: Facebook / Dané Carstens

Vroegdag het die werkers die nuus gehoor: Hendri Carstens, die plaasbestuurder, sy vrou, Dané, en hul twee seuntjies is dood. Maar dit kan mos nie wees nie; dit kán nie?

“Die hele gemeenskap is hard geruk deur die nuus,” vertel ’n tranerige Li­zanne Boldman, sekretaresse van die plaas waar Hendri gewerk en saam met sy gesin gebly het. “Hier waar ons bly, is ons nie vriende nie; ons is familie.”

Lizanne vertel hoe Hendri – in haar kantoor kom vertel het van hul vakansieplanne saam met hul “hartsvriende”.

Hy en Dané, ’n rekenmeester, het die wegbreek na die Kalahari “sommer vinnig beplan”.

Vriend Frans, ’n boer op die plaas Ideaal buite Ceres, en sy vrou, Wilmien, ’n voorskoolse onderwyseres, sou saamgaan. Stefan, bestuurder op die plaas Kromfontein buite die dorpie Op-die-berg in die Koue Bokkeveld, en sy vrou, Madeleine, ’n verpleegster by die plaaslike kliniek, ook. Die hele kaboedel kindertjies ook, al sewe van hulle.

Die inperking was lank, en dit was tyd vir asemskep.

In gelukkiger dae. Vriendinne het pret saam tydens
In gelukkiger dae. Vriendinne het pret saam tydens ’n vroueoggend op Citrusdal. Links is Wilmien, tweede van regs Madelein en heel regs Dané. Foto: Instagram / Madelein Bauer

“Almal se aanvanklike vakansieplanne vir die jaar het nie uitgewerk nie,” verduidelik Lizanne. Daar is glo gewik en geweeg oor die Krugerwildtuin, maar toe word daar op die Kalahari besluit. Dis immers daar waar mense van die plaaswêreld in die Witzenberg dikwels wintertyd gaan uitspan.

Vanuit Barrydale vertel Dané se ouers, Johan en Winnie Jordaan, nou hulle het daarna uitgesien om haar en Hendri en die kleingoed weer ná die Kalahari-­vakansie te sien.

Hulle sou Woensdag by ons kom ­kuier het, en ons het al die kinders se speelgoedjies reggekry.

“Ons het hulle in Desember – Kersfees – laas gesien,” vertel Winnie. Die gesin was op pad om weer te kom kuier toe die inperkingstyd ingestel is en hulle die kuier moes uitstel. Ná hul vakansie in die Kalahari sou hulle weer by Ouma en Oupa op Barrydale kom kuier het.

“Hulle sou Woensdag by ons kom ­kuier het, en ons het al die kinders se speelgoedjies reggekry,” vertel Johan. Dan breek sy stem, want nou sal hy sy enigste kleinseuns nooit weer sien nie.

“Sy was ’n fantastiese mens,’’ sê Johan oor sy oorlede dogter. “Sy het só omgegee vir ander mense en sy was só ’n moedertjie.” Winnie onthou hul dogter as “ ’n son­skynkind wat altyd gelag het. Sy was my omgeekind.”

Die Jordaans bedryf al sowat 20 jaar lank die eetplek Bistro Blues op Barry­dale. “Dané en haar ouer broer, Jaco, het ons nog so gehelp toe ons die plek begin het,” vertel Winnie.

Dané en Hendri sou in November hul 10de huweliksherdenking gevier het.

Winnie vertel sy sal altyd onthou hoe graag hul twee woelwaters buite gespeel het as hulle kom kuier het en hoe hulle vir oupa Johan in die Bistro wou dophou as hy vir hulle hoenderrepies en aartappelskyfies berei het.

“Die kleintjie het nog gepraat van ‘woener en tjippies’; hy kon nog nie ‘hoender’ sê nie,” onthou Winnie met die hartseer vlak in haar stem.

Daar gaan seker dae wees wat ’n mens dit nie maklik gaan hanteer nie en party dae sal dit seker makliker gaan . . . Maar die herinneringe is nét mooi.

“As ons in hierdie hartseer tyd terugkyk, is ons dankbaar dat ons die geleent­heid gehad het om ons kleinkinders te kon ken. Die verlies is groot en dit gaan nog groter word. En omdat dit vier is wat gelyk weggevat is, is dit erg. Daar gaan seker dae wees wat ’n mens dit nie maklik gaan hanteer nie en party dae sal dit seker makliker gaan . . . Maar die herinneringe is nét mooi.”

Pierre en Betsie Carstens van Tulbagh, Hendri se ouers, is nog te hartseer om oor die dood van hul seun, skoondogter en kleinseuns te praat. “Ons is nog te deurmekaar en sien nie in dié stadium kans nie,” laat hoor hulle verslae.

Ook Kallie du Plessis, eienaar van die Dennekruin-vrugteplaas waar Hendri die afgelope 14 jaar as plaasbestuurder gewerk het, klink verslae.

“Hendri was ’n presiese ou, maar so ’n sagte pa. Dané was stil en sag en ’n versorger,” vertel hy.

Daar was altyd ’n glimlag op sy gesig.

Sy stem breek toe hy oor klein Pierre-­Johan en Magiel praat. Vir hom was hulle soos sy eie kleinseuns.

“Dan is hulle vuil van kop tot tone,” begin hy met die herinneringe, maar dis te seer om te veel daaroor te praat. “Hulle was gelukkige plaasseuntjies.”

’n Vriend van Hendri en ook ’n boer van Ceres, Hannes Hanekom, vertel hy het Hendri nooit kwaad gesien nie. “Daar was altyd ’n glimlag op sy gesig.”
 
Teen druktyd het Frans Davin nog in die Melomedhospitaal in Bellville, Kaapstad, om sy lewe geveg. Hy het glo in die brandende huis teruggehardloop om klein Frans en Iza te probeer red, maar vergeefs.

Hy het glo 80 persent brandwonde oor sy liggaam opgedoen.

Hy is ’n regte teddiebeer en is nie iemand wat hard praat nie. Maar hy gesels baie lekker.

“Dit gaan ’n klein bietjie beter met Frans, sy bloeddruk het begin optel en sy niere het begin werk. Hou asseblief aan met bid vir hom,” het kennisse kort voor druktyd op Facebook geskryf.

“My ou maat lyk nie goed nie, maar daar kan nog ’n wonderwerk gebeur,” vertel ’n vriend ná ’n besoek aan hom in die hospitaal. Hulle ken mekaar sedert hul kinderjare op Prince Alfred Hamlet.

“Hy is so ’n rustige ou. Hy sal jou altyd eerste uitvra hoe dit met jou en jou ouers gaan. Hy is ’n regte teddiebeer en is nie iemand wat hard praat nie. Maar hy gesels baie lekker.

Die Davins. Foto: Facebook/Wilmien Davin
Die Davins. Foto: Facebook/Wilmien Davin
Die Davin-gesin. Foto: Facebook
Die Davin-gesin. Foto: Facebook

“Wilmien is ’n boer in haar hart en sal jou uitvra oor jou drade wat so mooi gespan is. Daar is so baie omgee tussen hulle en ook vir ander mense. Al wat Wilmien wil hê, is dat haar man moet leef. Hy het baie om nog voor te lewe: ’n vrou en baba . . .”

Frans het ’n B.Com-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en was in die manskoshuis Eendrag. Wilmien, oorspronklik van Robertson, het het bewaringsekologie studeer en het ’n nagraadse onderwyskwalifikasie in die grondslagfase, maar werk tans deeltyds as onderwyseres.

Sy was destyds een van die drie vroue wat in 2010 in die kykNET-maatsoek­program Boer soek ’n vrou by Kleintjie Retief op sy plaas naby Hanover in die Noord-Kaap gaan kuier het, maar Frans het haar lank daarna op Langebaan ontmoet en hulle is in 2013 op Robertson getroud.

“Sy is ’n fantastiese ma en ’n voorbeeld. Sy is mal oor die plaas­lewe. Sy is so bubbly,” vertel ’n vriendin.

Sy vertel klein Ben het moontlik die nag van die tragedie by Wilmien en Frans geslaap terwyl die ander kinders moontlik in ’n krismisbed geslaap het toe die brand uitgebreek het. Dit is dalk daarom dat klein Ben gered kon word, meen die vriendin.

Sowat drie weke voor die tragedie het hy “ ’n heilige oomblik beleef” toe hy by Wilmien ’n besoek afgelê het, vertel ’n tuinargitek van die omgewing. “Dis iets wat my vir die res van my lewe sal bybly.”

Nadat hy met ’n vorige besoek vir haar tuinbouraad gegee het, het hy met sy volgende besoek in Mei “ ’n bitter mooi” bedding gesien wat hy nie ontwerp het nie.

“Sy vertel toe trots dis haar en haar kroos se werk – sy en die kinders werskaf elke Woensdag in die tuin. Dit was ’n beautiful laatmiddagherfsdag op Ceres, so teen vieruur. ’n Onverwagte briesie het die populier- en plataanblare soos sneeuvlokkies van die bome laat afdartel. Wilmien raak toe opgewonde en sê sy is mál oor die blare wat in die herfstyd val.

En wanneer die sneeu in die Koue Bokkeveld val, baljaar sy en Stefan saam met die kinders in die sneeuvlokkies en bou ’n sneeuman.

“Die oudste telg, Frans, staan ’n hele entjie van ons af, besig om te kyk en te ‘help’ dat die tuinmanne nuwe beddinglyne uitkap. Die briesie wat by ons deur is, dryf na daardie kol toe en die reaksie by Frans is ’n spieëlbeeld van sy ma s’n soos hy jillend in die rondte draai van opgewondenheid en genot oor hierdie anderste sneeu.”

Voor hul laaste vakansie saam was die Bauers ’n hegte gesin wat graag tyd in die natuur deurgebring het. Op foto’s wat hulle in die sosiale media gedeel het, sien ’n mens hoe hulle in 2018 in die Kgalagadi-­wildtuin kampeer. By ’n foto skryf Madeleine sy is dankbaar om haar batterye daar te kan herlaai. En wanneer die sneeu in die Koue Bokkeveld val, baljaar sy en Stefan saam met die kinders in die sneeuvlokkies en bou ’n sneeuman.

In Desember het hulle Elré se derde verjaardag met ’n partytjie by ’n waterval gevier. Die kleinding sit dolgelukkig voor ’n waatlemoen met kersies daarin.

’n Fotograaf, Anél Ferreira van Wolseley 12 km buite Ceres, vertel dit was vir haar ’n voorreg om die Bauergesin twee keer op die plaas te gaan afneem. “Omdat hulle so na aan die natuur geleef het, sou hulle altyd die mooiste plek gaan kies waar ons die foto’s kon neem.”

Die Bauer-gesin. Foto: Anel Nortier Photography
Die Bauer-gesin. Foto: Anel Nortier Photography
Die Bauers. Foto: Instagram / Madelein Bauer
Die Bauers. Foto: Instagram / Madelein Bauer

Met die eerste fotosessie wat Made­leine gereël het, was Inge nog ’n baba. Die tweede fotosessie met die Bauergesin was verlede jaar op hul plaas. Op Anél se foto’s van die gesin straal die ­­Bauers – twee blonde dogtertjies, hul laggende ma en hul trotse pa.

“Hulle was regtig sulke wonderlike mense en ’n baie hegte en gelukkige gesin. Hulle het altyd gaan hike, kamp of was op die een of ander avontuur.

“Ek sê vir my man dis verskriklik dat my foto’s nou die rondte doen oor iets so hartseers, maar tog is ek so dankbaar dat sy hierdie kos­bare foto’s het om aan vas te klou.”

  • Brig. Mohale Rame­tseba van die Noord-Kaapse polisie het teen druktyd aan Huisgenoot gesê die oorsaak van die brand moet nog vasgestel word.
  • Sedert druktyd is Frans Davin ook in die hospitaal oorlede.