Kamala Harris
Kamala Harris Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy is ’n baanbreker; daaroor kan niemand stry nie. Wanneer Kamala Harris op 20 Januarie as die nuwe visepresident van Amerika ingehuldig word, sal sy die eerste vrou, die eerste swart persoon én die eerste Amerikaner van Oosterse herkoms wees wat die amp van tweede in bevel sal beklee. Maar haar impak strek selfs verder.

Toe sy ná verlede jaar se verkiesing haar eerste toespraak as aangewese visepresident gemaak het, het sy boonop vir Amerikaners gewys hoe ’n moderne familie kan lyk.

Aan haar sy op die verhoog was haar Joodse man, twee stiefkinders, suster, susterskind en dié se dogters. 

Kamala Harris
Kamala, haar man, Doug Emhoff, en sy kinders, Cole en Ella. Foto: Instagram/@kamalaharris

“Aan my man, Doug, ons kinders, Cole en Ella, my suster, Maya, en ons hele familie: Ek is liewer vir julle as wat ek in woorde kan sê,” het sy in ’n emosionele aanvaardingstoespraak in Delaware gesê terwyl sy en die aangewese president, Joe Biden, hul geskiedkundige oorwinning gevier het.

Die woorde “ons kinders” is ’n bewys van hoe geheg sy aan haar man, Doug Emhoff, se kinders uit sy eerste huwelik is.

In ’n artikel wat sy verlede jaar vir die tydskrif Elle geskryf het, het Kamala (56) verduidelik hoe sy, Cole (26), ’n assistent by ’n produksiemaatskappy, en Ella (21), ’n kunsstudent, op haar en Doug se troue in 2014 saamgestem het dat hulle die woord “stiefma” haat; daarom het hulle besluit om eerder “Momala” te gebruik. En dis ’n rol wat haar na aan die hart lê.

“Ek het al deur die loop van my loopbaan verskeie titels gehad – en ‘visepresident’ sal beslis wonderlik wees,” het sy in haar eerste toespraak as Biden se verkiesingsmaat gesê. “Maar ‘Momala’ sal altyd die een wees wat die meeste beteken.”

Kamala Harris
Met haar aanvaardingstoespraak het Kamala Harris na haar stiefkinders verwys as haar kinders, wat die rol van stiefouers in die kollig geplaas het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ouerskapsgroepe loof haar vir hoe sy stiefouers – wat dikwels misgekyk word – in die kollig plaas. En dit lyk nie asof Doug se eksvrou, Kerstin (53), enige wrokke daaroor koester nie. Die twee is in 2008 geskei.

Trouens, as ’n mens na haar Twitterprofiel kyk, lyk dit asof Kerstin, hoof van ’n produksiemaatskappy, een van die nuwe visepresident se grootste ondersteuners is.

Die feit dat almal so goed oor die weg kom, het baie te doen met hoe Kamala sake hanteer het toe sy en Doug (56) hul verhouding begin het.

“As ’n kind van egskeiding weet ek hoe moeilik dit kan wees as jou ouers met ander mense begin uitgaan,” het Kamala in Elle geskryf.

“Ons het dit dus stadig gevat, en ek en Doug het baie mooi gedink oor wanneer en waar ek die kinders die eerste keer moet ontmoet.” Eindelik was Kamala, wat toe die minister van justisie in Kalifornië was, verniet bekommerd.

“Cole en Ella kon nie meer verwelkomend gewees het nie,” het sy bygevoeg. “Hulle is briljante, talentvolle, snaakse kinders wat merkwaardige volwassenes geword het.” Dit lyk boonop asof die twee net so lief is vir haar soos sy vir hulle.

Toe Ella vir Kamala moes bekendstel by die Demokratiese Nasionale Konvensie, waar sy amptelik as die party se visiepresidentskandidaat benoem is, het sy haar as “die wêreld se beste stiefma” beskryf.

Kamala Harris
Kamala as baba saam met haar ma, Shyamala Gopalan. Foto: Instagram/@kamalaharris

“Jy is ’n rots – nie net vir ons pa nie; ook vir drie geslagte van ons groot, saamgesmelte familie,” het sy gesê.

Dit maak nie saak hoe bedrywig haar werklewe raak nie, Kamala en Doug en die kinders probeer steeds om elke Sondag saam aandete te eet, sê Kamala.

“Cole dek die tafel en kies die musiek, Ella maak pragtige poedings, Doug is my assistentsjef en ek maak kos,” sê sy.

Doug gaan self geskiedenis maak wanneer Kamala later in Januarie ingehuldig word – die eerste keer ooit staan ’n man aan die sy van die VSA se visepresident.

Hy sal moet bedank uit sy werk as vermaakprokureur om botsende belange te verhoed, maar dit lyk nie of dit hom pla dat sy loopbaan tweede viool moet speel nie.

“Ek gaan doen wat ek altyd doen – haar ondersteun,” het hy gesê. “Want dis belangrik dat mans die sterk en wonderlike vroue in hul lewe ondersteun.”

Kamala sal vir seker ook swaar op die ondersteuning van haar suster, Maya (53), kan leun.

Hulle is deur hul ma, Shyamala Gopalan, ’n kankernavorser uit Indië, grootgemaak nadat sy en hul pa, Donald J. Harris (82), ’n ekonoom uit Jamaika, in 1971 geskei is.

Kamala Harris
Sy en haar suster, Maya. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe Shyamala in 2009 op 70 weens kolonkanker oorlede is, was dit ’n groot slag vir Kamala en Maya.

Maya, ’n menseregteaktivis en prokureur, het Kamala en Doug se huwelikseremonie behartig en was aan die stuur van haar suster se presidensiële veldtog voor Kamala aan dié wedloop onttrek het.

Maya is al meer as twee dekades lank getroud met Tony West (55), Uber se hoofregsbeampte, en het ’n dogter, Meena (36).

Meena Harris
Kamala se susterskind, Meena, het onlangs haar tweede kinderboek geskryf. Foto: Instagram

Hoewel sy al op hoërskool met Meena swanger geraak het, het Maya steeds haar drome nagejaag – sy het haar dogter met die hulp van haar ma en suster grootgemaak terwyl sy ná skool aan die Stanford-universiteit studeer het. Meena het op haar beurt regte by Harvard studeer.

Nou is sy ’n prokureur en ’n entrepreneur aan die stuur van ’n maatskappy wat T-hemde met inspirerende boodskappe daarop maak.

Sy en haar lewensmaat, Nikolas Ajagu, het twee dogters, die vierjarige Amara en ’n tweejarige wie se naam hulle nog nie bekendgemaak het nie.

Meena sê Kamala leer haar dogters reeds dat hulle kan wees wat ook al hulle wil wees. Dit werk duidelik. In ’n oulike video wat Meena gedeel het, sien ’n mens hoe Amara op Kamala se skoot sit en haar vertel dat sy eendag nie net ’n ruimtevaarder gaan wees nie; sy gaan ook die president van die VSA wees. En met ’n tannie soos Kamala is niks seker onmoontlik nie.

Sy het al voorheen – op haar tipiese reguit manier – verduidelik hoe sy reageer wanneer iemand sê iets kan nie gedoen word nie.

“Laat ek dít vir jou sê: Ek eet ‘nee’ vir ontbyt,” het sy gesê, “en ek sou jou aanraai om dieselfde te doen – dis ’n stewige ontbyt.”

KAMALA SE NUWE WONING

Dis dalk nie so indrukwekkend soos die Withuis, waar die nuwe president, Joe Biden, en sy vrou, Jill, ná 20 Januarie gaan intrek nie. Maar die visepresidentswoning is alsbehalwe ’n pondokkie.

Kamala Harris en haar man, Doug, sal ná die inhuldiging die nuutste inwoners van Number One Observatory Circle word – waar die Bidens self van 2008 tot 2016 gewoon het toe Joe Barack Obama se tweede in bevel was. 

Die Victoriaanse huis op die terrein van die Amerikaanse Vloot se sterrewag in Washington, DC, is sowat 4 km van die Withuis af geleë en sedert 1977 die amptelike tuiste van die land se visepresident. Voorheen het visepresidente self ’n huis in dié stad gekoop of in hotelle in die omgewing tuisgegaan. 

Die drieverdiepinghuis is, nes die presidentswoning, wit geverf en het onder meer ’n eet-, tuin- en woonkamer, meer as een leefvertrek, ’n spens en kombuis en ses slaapkamers.

Daar was aanvanklik nie ’n swembad nie, maar die voormalige adjunkpresident Dan Quayle het in 1991 een laat aanbou met privaat skenkings.

Binneversierders herontwerp die huis se dekor ná elke termyn om by die nuwe inwoners se smaak te pas. Kamala en Doug sal dus hul eie stempel op die woning kan afdruk.

BRONNE: OPRAHMAG.COM, GLAMOUR.COM, NBCNEWS.COM, VOGUE.CO.UK, HARPERSBAZAAR.COM, ELLE.COM, BUSINESSINSIDER.CO.ZA, VOGUE.COM, NYTIMES.COM, HOUSEBEAUTIFUL.COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe