Twaalf kamele is uit ’n skoonheidskompetisie in Saoedi-Arabië geskors toe hulle ook die perfekte tuitlippe vertoon het. 

Die kamele moes hul kop in skaamte laat sak omdat hulle uitgeskop is ná die gebruik van botoks by die Koning Abdulaziz-kameelfees berig die BBC.

Meer as 30 000 kamele word by dié fees betrek. 

Die beoordelaars het 12 kamele geskors omdat dié diere glo met botoks ingespuit is. 

Volgens The National word ’n kameel se skoonheid beoordeel aan die grootte en posisie van hul boggel. ’n Pruilende en vol onderlip is ook glo nodig as ’n kameel bekendheid deur sy skoonheid wil verwerf. 

Dié Midde-Oosterse koerant het ’n top-kameelteler aangehaal: “Hulle gebruik botoks vir die lippe, neus en selfs die kakebeen,” het Ali al-Mazrouei aan The National gesê. “Dit maak die kop groter en meer opgeblaas sodat wanneer die kameel uitkom, sê mense: ‘Oe, kyk hoe groot is die kop. Dit het groot lippe en ’n groot neus.’ ” 

Die eerste prys in dié kompetisie beloop sowat R371 miljoen. Tydens die fees word kameelrenne gehou en die beste kameelmelk gekies. 

Saoedi-Arabiese media het ook berig ’n veearts is vasgetrek wat plastiese snykunde op kamele gedoen het om hul ore kleiner te maak en hul lippe met botoks ingespuit het. 

Nog ’n kenner het aan The National gesê eienaars rek ook kamele se lippe. “Hulle trek hul onderlip elke dag om dit langer te maak. Hulle gebruik hormone om hulle sterker te maak en botoks om die kop groter te maak. Almal wil wen,” het Ali Obaid, ’n kameeleienaar, gesê. 

Die plaaslike kameelkopers kla omdat hulle glo gereeld ingedoen word wanneer hulle kamele met mooi gelaatstrekke koop, net om maande later, wanneer die botoks uitgewerk is, uit te vind dit was eintlik ’n lelike eendjie.