Min Bok-aanhangers kan sê dié scenario het nié die afgelope paar dae ná die aankondiging van die skeidsregter vir die Wêreldbeker-halfeindstryd tussen Suid-Afrika en Wallis deur hul gedagtes geflits nie. 

Daardie beklemmende gevoel in die bors? Dis nie regtig twyfel of die Bokke die nodige skietgoed het nie. Dis dalk eerder die Franse skeidsregter se twyfelagtige rekord, veral wat Suid-Afrika betref. 

Jérôme Garcès tydens eerste groepwedstryd tussen d
Jérôme Garcès tydens die Springbokke se eerste groepwedstryd teen die All Blacks. Die Bokke het 13-23 verloor. Foto: Gallo Images/Getty Images


Ja, die bra omstrede blaser as die figuur wat dalk net die Bokke se WB-lot kan bepaal, is ’n taamlike besprekingspunt onder aanhangers in die spannende opbou na eerskomende Sondag 11:00 se groot kragmeting.

Uit hul 14 toetse waarin hy die skeidsregter was, het die Bokke immers net vier gewen, ’n skrale 29%. Vergelyk dit met SA se algehele wenpersentasie van 62% in die beroepsera, en plaaslike rugbyliefhebbers se kommer lyk g’n ongegrond nie.

Een spesifieke Jérôme-wedstryd wat die Bokke en hul ondersteuners graag sal wil vergeet, was die skokneerlaag teen Japan in Brighton by die vorige Wêreldbeker in Engeland.

Jérôme Garcès praat met kapteins Fourie Du Preez e
Jérôme Garcès praat met kapteins Fourie Du Preez en Richie McCaw tydens die Wêreldbeker-halfeindstryd tussen die All Blacks en Springbokke in 2015. Die Springbokke het 18-20 verloor. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy was ook die skeidsregter toe ons span in hul eerste wedstryd in die huidige Wêreldbeker met 13-23 teen die All Blacks verloor het. Daarin was driekwart van sy strafskop-beslissings in Nieu-Seeland se guns.

Baie SA rugbyfoendi’s het gekla oor sy bestuur van daardie wedstryd, wat betref alles van die skrums (Joe Moody se elmboog was byvoorbeeld meer as een keer teen die grond) en afbreekpunte (die All Blacks wat onwettig van die kant af ingedons het) tot vuilspel (insluitend ’n siniese hoogvat weg van die spel af deur Kieran Read op Pieter-Steph du Toit om te keer dat dié by die bal uitkom). 

Die Bokbreier, Rassie Erasmus, het juis ook voor daardie wedstryd laat deurskemer hy voel Jérôme is geneig om die All Blacks voorkeurbehandeling te gee en is te toeskietlik wanneer hulle kanse vat.

Jérôme se talle omstrede beslissings in Bokwedstryde sluit byvoorbeeld ook in ’n rooikaart vir Damian de Allende teen die All Blacks in Kaapstad in 2017 vir ’n laatvat op Lima Sopoago. ’n Hersieningskomitee het agterna bevind dit het nie ’n rooikaart regverdig nie. 

Natuurlik wil ’n mens nie klink asof jy fout soek by die skeidsregter wanneer jou span verloor nie, sê Kobus Wiese, 1995-WB-held en SuperSport-ontleder, aan Huisgenoot.

“Jérôme is ’n aangename mens, maar kyk jy na sy rekord, dink ek nie hy is ’n baie goeie skeidsregter nie. Hy maak baie vreemde beslissings, en hy’t sover ook nie ’n goeie Wêreldbeker gehad nie. Ek wonder dus op grond waarvan kwalifiseer hy om nou een van die twee skeidsregters in die semi-finale te wees.”

Kobus Wiese. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kobus Wiese. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kobus meen ook as die SA skeidsregter Jaco Peyper se sosialemediafoto saam met luimige Walliese ondersteuners – waar hy blykbaar saam met hulle die elmbooghou naboots wat hom die Franse slot Sébastien Vahaamahina met ’n rooikaart laat afstuur het – hom wel nou ’n geleentheid as skeidsregter in die halfeindronde gekos het, sal dit “absurd” wees.

Dit was vir Kobus 'n grappie weg van die veld af wat in die regte lig en konteks beskou moet word.

Hoe ook al, hy wonder waarom Jaco nie eerder by die halfeindronde betrokke is nie, sê hy. 

Sir Clive Woodward, Engeland se 2003-WB-kampioenafrigter, skryf ook in ’n rubriek vir die Britse Daily Mail “dis belaglik” dat die beheerliggaam Wêreldrugby “die sogenaamde insident op enige manier ondersoek”.

Hy steun Jaco 100% betreffende sy bietjie lawwigheid saam met Walliese ondersteuners.

Die Franse slot se “idiotiese” optrede het hom hier presies besorg wat hy verdien het, skryf Clive. “Die dag as ’n skeidsregter nie meer ’n bier kan geniet en ’n grappie kan maak saam met spelers of aanhangers nie, moet jy weet rugby het die pad byster geraak.”

Kobus Wiese tydens Rugbywêreldbeker in 1995. Foto:
Kobus Wiese tydens Rugbywêreldbeker in 1995. Foto: Gallo Images/Getty Images

Een van die groot dinge wat Kobus omtrent Jérôme se wedstrydbestuur pla, “is sy beslissings by die skrums – wanneer hy strafskoppe daar toeken. Dit lyk half asof hy duim suig . . . een vir jou, een vir my. Dit maak net nie sin nie. En hy’s nie al een wat daaraan skuldig is nie. Maar Garcès was vir my die afgelope twee jaar verskriklik wisselvallig.”

Hy meen Franse skeidsregters se rekord oor die algemeen – “kyk ook maar na Romain Poite” – regverdig nie die aantal blasers wat hulle by Wêreldbekerrugby het nie, nou ook weer. (Romain se verkeerde beslissing teen Bismarck du Plessis oor ’n harde maar heeltemal wettige duikslag op Dan Carter het in 2013 beteken SA moes met 14 man speel en het stellig die gang van daardie wedstryd teen die All Blacks in Auckland bepaal.)

Brendan Venter, 1995-WB-bok, rugbyafrigter en ontleder, het ook ná SA se wedstryd teen Nieu-Seeland in die huidige Wêreldbeker op Stuff.co.nz geskryf Jérôme se vertoning was “skokkend”. Vir hom is hy een van ’n aantal skeidsregters wat byvoorbeeld nie die onkantlyn, afbreekpunte, losskrums en onwettige spel in lynstane behoorlik dophou nie.

Ja, dis moeilik om die Jérôme-faktor net te ignoreer, maar ná alles wil rugbyliefhebbers Sondag natuurlik eerder met optimisme tegemoet gaan. Waarvoor baie mense dus nou hoop, is dat die Fransman hom wel Sondag – natuurlik op regverdige wyse – in SA rugbyliefhebbers se goeie boekies in blaas . . . en nie straks die volgende Romain Poite of Bryce Lawrence (steeds berug vir sy rol in SA se 2011-WB-lotgevalle) word nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.