Sam Boatman, van Tyne and Wear in Engeland, het erge maagkrampe ervaar wat haar laat sukkel het om asem te haal. Sy het ook bloed in haar stoelgang gehad, berig Daily Telegraph

“Dit was so skielik en skerp dat dit my asem weggeslaan het,” sê Sam. “En toe begin kry ek bloed in my stoelgang.” 

Hoewel haar simptome kommerwekkend was, het die onderwyser besluit om nie ’n kolonoskopie te kry nie om die risiko vir die baba te vermy, en omdat sy bekommerd was oor haar man se gesondheid wat agteruitgaan. 

Volgens News.com het Martin Boatman (nou 34) gesukkel met ondraaglike hoofpyn wat hom laat opgooi het, en het hy sy vermoë om te loop begin verloor.

 Dokters het aanvanklik gedink hy het ’n groeisel agter sy oë, maar later ontdek hy het sewe gewasse op die brein en dat hy waarskynlik nie sou bly leef om die geboorte van sy dogter te aanskou nie.

“Toe hulle die kamera in my keel afdruk om te soek vir die gewas, het daar ’n drywende spons, in die vorm van ’n bal, gevorm en ek het geweet dis dit,” sê Martin.

“Dit was my kanker.”

Daar het nog slegte nuus op Martin gewag toe dokters onthul die kanker het na sy longe, niere, lewer en gebeentes versprei, berig Mirror News

Die verpletterde pa het foto’s van homself vir sy kinders begin raam en het selfs slaaptydstories vir sy ongebore baba begin lees. 

Maar ten spyte van dokters se diagnose het Martin bly leef om die geboorte van sy pragtige babadogter Esme op 12 November 2016 te aanskou. 

Die gesin het egter ses weke nadat Sam die lewe geskenk het, nog slegte nuus gekry.

’n Vinnigverspreidende fase T3 dermkanker is by die ma van twee gediagnoseer. 

“Martin was in ’n toestand. Die enigste ding wat hom aan die gang gehou het, was die gedagte dat indien hy sou sterf, ek nog daar vir ons kinders sou wees. Ek het geweet ek moes om my lewe veg.

“Ek het geklou aan die feit dat my onkoloog op my notas ‘geneesbaar’ geskryf het.” 

Die 32-jarige ma, wat later ontdek het haar kanker het na haar limfkliere versprei, is in Februarie verlede jaar geopereer, gevolg deur chemoterapie om haar aggressiewe kanker te behandel. 

En sy is nou op die herstelpad. 

Hoewel medikasie Martin se breingewasse laat krimp het, is sy longkanker nog steeds ongeneesbaar. 

“Sy kanker sal eendag ’n manier vind om die medikasie te omseil.

“Hy het dalk nog vyf goeie jare of dit kan alles môre versleg. Ons probeer om nie in ’n konstante toestand van vrees te leef nie,” sê Sam.

Die paartjie, wat in 2008 ontmoet het toe hulle onderwys geswot het, het besluit om geld aan Cancer Research UK te skenk om ’n verskil vir toekomstige generasies te maak. 

“Elke dag wat ek nou saam met my gesin het, is ’n dag wat ek gedink het ek sou nooit sien nie,” sê Martin.

Bronne: dailytelegraph.com.au, mirror.co.uk, news.com.au