Met haar lang, donker hare in ’n poniestert vasgebind en ’n oulike kleinding op haar skoot, sit sy in ’n tentjie op die strand en glimlag skynbaar sorgeloos vir die kamera.

Maar toe dié vakansiefoto vyf jaar gelede geneem is, het kanker reeds ’n skadu oor Vanessa Abro (43) se lewe gegooi.

En vandag, vyf operasies later, is haar eens pragtige gesig verwronge en byna onherkenbaar. Ook haar hare het uitgeval nadat sy einde verlede jaar weer chemoterapie ontvang het vir die kanker wat eers in haar neusholte gediagnoseer is en daarna na haar linkeroog versprei het.

Sy dra ’n oogklap oor die oog wat weens drukking uit die oogkas geval het en nou tot byna teen die wangbeen hang. Dokters wou die oog verwyder, maar Vanessa het volstrek geweier.

“Ek kan my nie indink om ’n kunsoog in te sit nie,” sê sy.

Vanessa dink ’n oomblik na. Dan sê sy: “Dis wat ek mis: my oog. Om grimering aan te sit, om dit nie weg te steek nie. Om te kan bestuur . . .”

Sedert estesioneuroblastoom, ’n seldsame soort neuskanker, in November 2011 by haar gediagnoseer is, het Vanessa benewens chirugie en chemoterapie ook bestraling ontvang wat letsels op haar gesig gelaat het.

Tussendeur het sy ook ander behandelings, van akupunktuur tot homopatie, sonder sukses beproef. En steeds veg sy moedig teen die groot K.

Sy gesels met Huisgenoot ’n paar dae voor haar vertrek na Indië om vir ’n tweede keer daar met die revolusionêre CyberKnife-bestralingsmasjien behandel te word. Daarmee kan kankergewasse akkurater bestraal word as met konvensionele radioterapie, sê sy.

Sy gaan na dieselfde sentrum van die Health Care Group in Bengaluru waar die voormalige Springbokkrieketspeler Clive Rice vier maande voor sy dood in Julie 2015 vir ’n breingewas behandel is.

Wat Vanessa se lewensverwagting is, weet sy nie, want sy erken sy vra nie haar dokters baie vrae nie.

“Ek weier om te sterf,” sê sy. “Dis nie ’n opsie nie.”

Vanessa is deesdae byna onherkenbaar weens die seldsame neuskanker waaraan sy ly.

Sy was altyd gesteld op haar voorkoms.

“Ek het ’n obsessie met volmaaktheid gehad,” onthou die vrou wat deesdae eers haar kaalkop met ’n doek toebind en ’n oogklap opsit voor sy haar gesig vir die buitewêreld wys.

Weens haar siekte moes sy haar werk as juwelierswareontwerper laat vaar.

Maar sy gaan steeds haar inkopies doen en ignoreer dit as mense haar aanstaar.

Die eerste teken van die kankergewas in haar neusholte was toe haar reuksin meer as 10 jaar gelede aangetas is, vertel Vanessa in die beknopte woonstel in ’n suidelike voorstad van Johannesburg wat sy met haar dogter, Micaela (7), en ma, Jeanette Abro (71), deel.

“Ek het nuwe reuke begin ruik en reuke wat nie sin gemaak het nie, want dit het gedurig verander. Maar ek het dit as niks afgemaak.”

Kort nadat haar dogter in Oktober 2010 gebore is, het Vanessa toevallig vir die huisdokter gesê sy kan glad nie meer ruik nie.

“Hy sê toe ek moet onmiddellik ’n oor-neus-en-keelspesialis gaan sien, want dit kan baie gevaarlik wees.”

Sy het steeds bly uitstel.

‘Miki was bang haar ma gaan nie wakker word nie’.
Vanessa se ma, Jeanette Abro, is haar steunpilaar sonder wie sy nie staande sou kon bly nie.

“Ek het gedink dis nie so ernstig nie.”

Kort daarna het sy “verskriklike hoofpyne” begin kry, maar bloot pynpille daarvoor gedrink.

Toe Micaela een aand erg begin opbring en in ongevalle beland, het Vanessa se neus onophoudelik begin bloei.

“Toe die dokter ’n stuk watte in my neus druk, wou ek skree van die pyn,” vertel sy. Dit het daartoe gelei dat sy in November 2011 eindelik ’n oor-neus-en-keelspesialis gaan spreek het.

Ná ’n biopsie het hy die nuus aan haar oorgedra: Sy het ’n kankergewas van 4 cm lank in haar neusholte.

Nadat sy ’n operasie ondergaan het om die gewas te verwyder, moes sy vir ses chemoterapiesessies gaan, maar ná die vierde een het sy die behandeling gestaak.

Sy sê sy het gevoel dit is “besig om my dood te maak” en verduidelik dit het haar ál swakker laat voel.

“Dit het beter gegaan, maar toe begin die hoofpyne en pyn weer,” vertel sy.

In Januarie 2013 het sy vir die eerste van 40 sessies bestraling gegaan.

“Die pyn was ondraaglik,” onthou sy. Dit het haar laat besluit om verskillende alternatiewe terapieë op die proef te stel, ook hiperbariese suurstofterapie, waartydens ’n mens suiwer suurstof inasem.

Maar toe haar hoofpyne vererger en ’n knoppie in haar nek ál groter word, is sy terug na haar onkoloog.

In ’n operasie in 2014 is ’n gewas so groot soos ’n gholfbal uit haar nek gesny.

Micaela sê haar ma bly nog altyd vir haar pragtig.

“’n Jaar lank het dit beter gegaan, maar einde 2015 het ek weer begin siek voel. Ek het dit geïgnoreer, want ek was kwaad vir die dokters.

"Ek het gevoel hul behandeling werk nie, maar toe ek eindelik teruggaan, was daar oral gewasse. Ek is kwaad ek het so lank gewag,” erken sy.

Sy was toe al platsak en het nie meer ’n mediese fonds gehad nie, voeg sy by.

Twee operasies het gevolg om die kanker in haar nasale kanaal te probeer verwyder. Nadat haar linkeroog in Oktober 2016 begin “hang” het, is sy weer geopereer, maar dit kon nie verhoed dat die oog verlede jaar uit die oogkas val nie.

Teen hierdie tyd het die dokters vir haar ma gesê hulle kan niks meer vir haar doen nie. Die kanker het toe reeds na haar skouer, borskas en ’n deel van haar brein versprei.

Jeanette het geweier om te aanvaar dat dit die einde van die pad is. Nadat sy oral navraag gedoen het, het sy van die CyberKnife-tegnologie in Indië gehoor wat gebruik word om gewasse te bestraal wat dokters nie chirurgies kan verwyder nie.

Verlede Desember is Vanessa Indië toe nadat sowat R300 000 vir haar ingesamel is – deels deur aanlyn skarebefondsing en deels danksy bydraes van vriende en familielede.

Binne twee dae kon sy voel hoe die behandeling die pyn verlig, maar dit kon nie al die kankerselle vernietig nie, sê sy. Nou is sy weer op pad soontoe, weer danksy skenkings van sowat R300 000 wat op dieselfde manier ingesamel is.

Sy hoop om volkome te herstel, ook ter wille van Micaela.

Sy is al van kleins af pynlik van haar ma se stryd teen kanker bewus. Haar ouma vertel op twee jaar het die kleinding geweier om te slaap en aanhoudend geskree.

“Miki was bang haar ma gaan nie die volgende dag wakker word nie,” vertel Jeanette met ’n snik.

Vanessa sê sy voel skuldig omdat sy nie energie het om dinge saam met haar dogter te doen nie.

“Sy verstaan dit so mooi. Nou die dag het sy vir my gesê wanneer sy na my kyk, sien sy twee oë wat dieselfde lyk en ek is steeds vir haar pragtig.” 

Neuskanker

Estesioneuroblastoom is ’n seldsame kanker van die neusholte wat, volgens data uit die VSA, net by vier uit 10 miljoen mense gediagnoseer word.

Dit kom ewe veel by mans en vroue voor en kan stadig groei of aggressief wees, sê dr. Albert Verbeek, ’n onkoloog van Johannesburg.

As jy vreemde reuke ruik, jou reuksin verloor of voortdurend sinusitus kry, moet jy binne vier maande nadat die simptome kop uitgesteek het ’n dokter gaan spreek.

“Dit kan op nasale kanker of selfs ’n gewas in die brein dui,” waarsku Albert.

As estesioneuroblastoom vroeg gediagnoseer word, is die oorlewingsyfer hoog – 85% van lyers leef dan langer as vyf jaar.

Die standaardbehandeling is om die kanker eers chirurgies te probeer verwyder en dit met bestraling of chemoterapie op te volg.

Albert raai kankerlyers af om alternatiewe geneeskunde te beproef.

“Dit is nie op feite en wetenskap gegrond nie.”

Foto's: Rowyn Lombard, Verskaf