Die jong leukemielyertjie lyk sommer met die intrapslag tuis in die onkologie-eenheid van Cincinnati se Christ-hospitaal.

Hy ontsmet self sy hande en sorg dat die mediese masker reg oor sy gesig pas. Maar dié keer is Reef Carneson – oftewel “Baba Reef”, soos mense wêreldwyd hom ken – nie hier vir sy eie behandeling nie.

Hy is hier om sy geliefde “Oupa Doh Doh” by te staan.

Reef (nou 10) gryp sedert eenjarige ouderdom mense se hart aan met sy dapper stryd teen leukemie, velkanker en transplantaatversusgasheersiekte (TVGS), ’n komplikasie van ’n beenmurgoorplanting waar die oorgeplante witbloedselle die pasiënt se eie selle aanval.

Maar Reef se toestand is in remissie; dis sy oupa Don Carneson (70) wat deesdae weekliks hier behandeling vir sý terminale velkanker kry.

Don en Reef is altyd daar vir mekaar wanneer een van die twee in die hospitaal opgeneem word. Foto: Verskaf

En net soos sy oupa altyd daar was vir Reef, so is die immervriendelike Reef nou daar vir sy oupa. Dis duidelik Reef het sommer diep in die hart van die verpleegsters hier gekruip.

Soos elke Donderdag laat hulle hom toe om sy oupa se bloed vir toetsing te trek. Ook in die Carneson-huis in Cincinnati, Ohio – waarheen hulle in 2012 van Walkerville, Gauteng, getrek het om behandeling vir Reef te kry – speel die seun ook dikwels dokter vir sy oupa.

Hy hou daarvan om styf langs sy Doh Doh te sit om sy koors te meet of bloeddruk te neem.

“Die twee is onbeskryflik onafskeidbaar,” sê ouma Charmeon (67) oor haar kleinseun en man.

Weens Reef se eie lang geskiedenis van weeklikse behandeling in die Cincinnati-kinderhospitaal is hy natuurlik baie bekend met dít wat sy oupa beleef.

“Hy huil nie eens wanneer hy kyk hoe naalde in sy oupa se bolyf gesteek word om kankertellings te trek nie,” vertel Charmeon.

“Al wanneer hy werklik huil, is wanneer Don in die hospitaal opgeneem word en Reef moet smeek om langs sy oupa se siekbed te bly.”

Die vegtertjie dring daarop aan om alles vir sy oupa te doen – selfs al kan hy weens die TVGS nie sy hande oopmaak nie. Hy loop ook ongemaklik omdat sy enkels al jare lank onbuigsaam is.

Die spesiale verhouding tussen Reef en sy Doh Doh is roerend, en Charmeon bekommer haar oor hoe Reef sal reageer as Don dalk sy stryd teen kanker verloor.

Toe fase 4-velkanker in April 2016 by Don gediagnoseer is, het klein Reef net verstaan sy oupa is baie siek.

Noudat hy ouer is, weet hy hy en sy oupa het dieselfde siekte opgedoen. “Maar hy besef dalk nie hoe ernstig dit is nie,” sê Charmeon. Sy is ’n oomblik stil. “Maar wie weet? Dalk verstaan Reef meer as wat ons dink.”

Die vegtertjie dring daarop aan om alles vir sy oupa te doen

In die Carnesons se nederige huis in voorstedelike Cincinnati gaan soek Reef al sommer met dagbreek sy oupa en ouma op in die kelderverdieping waar hulle woon.

“Hy het verskriklike skeidingsangs en huil ure lank as hy nie by sy Doh Doh kan wees nie,” vertel Charmeon.

Veral Vrydae wanneer hulle mekaar heeldag nie sien nie omdat Don se chemobehandeling reeds soggens om sesuur begin en Reef skool toe gaan, is baie swaar vir Reef.

“Hy sal by sy foon sit en huil en wag tot sy oupa hom bel,” vertel sy ouma. Maar die weersiens is louter vreugde.

Wanneer Don ná sy chemobehandeling sy kleinseun verras deur hom by die skool te gaan haal, strek Reef sy arms uit, staan uit sy rolstoel op en gee ’n paar wankelrige treë terwyl hy “Doh Doh” skree – so asof hulle mekaar jare laas gesien het.

Dit laat almal se hart vermurwe – ook dié van Reef se onderwysers, wat gou baie geheg aan hom geraak het. Hulle terg graag dat hulle hom nie na sy volgende skooljaar kan bevorder nie – net sodat hulle hom ’n rukkie langer kan hou.

Reef, wat volgens sy ouma op die vlak van ’n vyfjarige funksioneer, is nie regtig mal daaroor om met maatjies van sy eie ouderdom te speel nie. Reef begin hierdie jaar met gr. 3.

‘Hy huil ure lank as hy nie by sy Doh Doh kan wees nie’ Foto: Verskaf

In Ohio is die beleid dat kinders met spesiale behoeftes nie van ander kinders geskei word nie; Reef woon ’n gewone skool by, maar kry wel spesiale klasse.

“ ’n Mens moet onthou, wanneer jy so lank in isolasie is en nie die geleentheid kry om met ander kinders te speel nie, gaan jou ontwikkeling vir seker beïnvloed word,” sê Charmeon.

Weens die TVGS mag hy net buite speel wanneer dit bewolk is. Selfs dan moet hy ’n sonbril en mus dra; dis om te verhoed dat die sere aan sy kop en sy oë, wat permanent droog is, aan die son blootgestel word.

Hy verkies om binne te bly en na sy gunsteling-YouTube-video’s te kyk. Hy hou ook daarvan om vir sy oupa “interessante” geregte te maak.

So het hy onlangs besluit om sy Doh Doh met ’n bakkie hawermout te bederf, het Charmeon op Facebook gedeel.

“Ek het hom dopgehou in die kombuis, want hy wou nie enige hulp aanvaar nie . . .Hy het ’n bakkie, melk, suiker en ’n klein pakkie hawermout uitgehaal, en toe hy klaar was, het hy my nader geroep om die skinkbord sitkamer toe te dra. Ek moes my lag inhou toe ek Don se gesig sien. Die hawermout het half verkool in die melk gedryf toe dit by hom aankom.”

Ja, daar is dae dat dit met albei nie goed gaan nie. Maar dan steun die twee mekaar steeds en sal Don ter wille van Reef nie wys hoe sleg hy voel nie.

Soos enige ander familie wat met sulke wrede siektes worstel, hoop die Carnesons op ’n beter 2019, sê sy ouma – ’n jaar sonder kanker, en miskien selfs vir die genesing van alle soorte kanker.

“Ons bid ook dat Reef nuwe maatjies sal maak en selfvertroue sal ontwikkel om alles aan te pak wat die lewe sy kant toe gooi.”

Reef saam met sy ma, Lydia. Foto: Verskaf

Sy ma, Lydia (39), beskryf Reef as ’n lewende wonderwerk.

“Hy is al deur ernstige chemoterapie, het septisemie opgedoen, al teen wrede infeksies baklei, is verskeie kere in die waakeenheid opgeneem en het selfs eenkeer amper doodgebloei omdat ’n buisverwydering skeefgeloop het. Die lysie hou net nie op nie,” sê sy ma, wat onlangs begin kinders oppas het vir ’n ekstra inkomste.

Maar sy glo God hou sy hand oor Reef. As ouers is hulle geseën om hom steeds te hê, en al die trauma waardeur sy en haar man Ryan (39), ’n sjef, gaan, is vir hulle die moeite werd.

“Om vir Reef drukkies te gee en God te dank vir die vreugde wat hy in ons lewe bring en vir die wonderwerk wat hy is, is nie ’n ongewone gebeurtenis in ons huis nie.”

Wanneer die son oor Cincinnati sak en Reef sy ouma en oupa se kelderwoonplek moet verlaat om na die boonste deel van die huis terug te keer, vloei die trane altyd weer.

“Net nog vyf minute,” pleit hy dan . . .