Kim Kardashian West (37) het verklap haar man, Kanye West (40), het ’n nogal vreemde gewoonte: Hy raak uit die bloute aan die slaap.

“Ons sal in ’n vergadering wees of hy sal my in ’n restaurant aan mense voorstel wat ek nog nooit ontmoet het nie en dan begin hy aan tafel snork,” het sy in die TV-program Jimmy Kimmel Live! vertel.

Hoe eienaardig . . . Of is hy dalk net verveeld?

Kanye West. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Sarah Hyland (26) se biseksuele aanhangers is in hul noppies oor die nuus dat haar karakter in Modern Family, Haley Dunphy, vorentoe gaan onthul sy is biseksueel. “Ja! Mooi, Sarah! Ek is bi en trots,” het een getwiet, terwyl ’n ander een geskryf het: “Dit het my ’n bietjie tranerig gemaak. Dankie, liefie.”

Sarah Hyland. Foto: Getty Images/ Gallo Images

In die afgelope nege seisoene van die sitkom het Haley net met mans uitgegaan, maar dit gaan nou verander. Dit lyk of Modern Family weer modern raak!


Taylor Swift (27) se aanhangers is oortuig die sangeres se liedjie Call It What You Want gaan oor haar nuwe kêrel, die Britse akteur Joe Alwyn (26). Taylor sing: “But would you run away with me? Yes.”

Joe Alwyn. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Dis vermoedelik al die tweede liedjie wat sy oor hom geskryf het – Gorgeous was die eerste een. Volgens ’n bron is die twee “smoorverlief. Hulle het ’n taamlik rustige verhouding en Taylor hou daarvan. Dit is baie normaal. Hulle oefen saam, kyk saam rolprente en nooi vriende oor. Hulle vat dit nog stadig.”

Joe moenie sy kanse verspeel nie; Tay raak gou verveeld.

Dis glo deels aan Justin Bieber (23) se pastoor te danke dat hy en sy eksmeisie Selena Gomez (25) onlangs opgemaak het. “Justin gaan elke week kerk toe en bring al sy tyd deur saam met sy pastoor, Carl Lentz,” vertel ’n bron.

“Dié het ’n versoening tussen die twee aangemoedig – ten minste om hul vriendskap te herstel. Justin vra heeltyd dat sy hom vergewe. Hy het regtig sy lewe reggeruk.

Hulle beskou mekaar as hul een ware liefde.” Is dit dalk net ’n kwessie van tyd voor ons weer van Jelena praat?

Bronne: Msn.com, Mirror.co.uk, Usweekly.com