Die Kapenaar (nou 24) het teenoor Huisgenoot hart oopgemaak oor sy grootwordjare as oorgewig kind en die oorgang na ’n gesonder leefstyl.

“Ek kom uit ’n familie met algemene hartsiektes en -probleme,” sê Dharfeur.

Op laerskool is Dharfuer gereeld oor sy gewig geboelie en het hy in kos troos gesoek.

“Kos het my hanteringsmeganisme geword en my gewig het deur my skoollewe dramaties toegeneem. My gewig het van 80 kg tot sowat 100 kg toegeneem,” sê hy.

“Ek het gesukkel om teen ’n trap op te stap, en benewens die gesondheidsgevaar wat ek vir myself veroorsaak het, het ek geweet ek moes leefstylveranderinge maak.”

’n Gewone doktersbesoek het sy lewe vir altyd verander. “Die dokter het vir my gesê ek loop die risiko om ’n hartaanval te kry weens my gewig,” vertel hy.

Dharfuer het toe besluit om ’n paar kosse uit sy dieet te sny.

“Ek het suiker heeltemal uitgesluit en dit eerder met heuning vervang,” sê hy.

“Ek het ook koolhidrate uitgesny en ’n app gebruik om my kilojoule-inname per maaltyd te meet. Ek het van minstens vier maaltye per dag, met peuselkos tussenin, tot drie verminder.”

Maar bowenal wou Dharfuer hê sy nuwe lewe moes oor meer as net gewigsverlies gaan.

“Ek probeer ’n gebalanseerde leefstyl handhaaf en ek moes dit vir myself doen. Ek wou nie net gewig verloor nie, maar ook liggaamlik fiks word. Ek wou my gewig behou en gesond wees,” voeg hy by.

Sedert hy by die Adidas Runners-klub in Kaapstad aangesluit het, ’n streng dieet volg en gereeld oefen, het Dharfuer 25 kg afgeskud.

“Ek moes myself herinner ek doen dit vir myself,” sê hy.

“Vir enigiemand wat ’n leefstyloorgang wil maak, beveel ek aan stel doelwitte, want 50% van die werk begin in die gedagtes – jy moet glo jy kan dit doen.

“Dis ook baie belangrik om nie op te gee nie. Jy het dalk net 500 g in ’n week verloor, maar ten minste is jy 500 g ligter en dis iets om mee te werk. Laat dit jou dryf na jou volgende doelwit.”

Tydens vlak vyf van die inperking kon Dharfuer nie sy huis verlaat om te gaan draf nie, maar het hy gereeld in sy werf gehardloop.

“Ek het in sirkels gedraf en al is dit ’n baie klein ruimte, het ek liggaamlike oefening gekry.”

Al mag mense in vlak vier van die inperking binne ’n omtrek van 5 km van hul huis draf, kan Dharfuer en sy drafspan nog nie fisiek bymekaar kom nie. Hulle hou virtueel tred met mekaar se daaglikse vordering.

“Dit skep ’n gevoel van saamwees al is ons weg van mekaar,” sê hy.