Rudi Lotter het in middel Februarie Doebai toe gevlieg vir werk, maar nadat hy die projek voltooi het, is die grendeltyd in Suid-Afrika aangekondig met geen inkomende of uitgaande vlugte wat toegelaat is nie. 

Die 34-jarige rolprentmaker het met Huisgenoot via Skype gesels oor sy ervaring van ’n ingeperkte lewe in ’n vreemde land en sy stryd om repatriasie. 

Rudi het op 18 Junie ’n repatriasievlug gehaal en is onder kwarantyn in Johannesburg voordat hy weer met sy gesin herenig sal word, maar dit was 'n stryd om terug huis toe te kom na vier maande in 'n vreemde land.

“Ek het in middel Februarie Doebai toe gekom en ons het gewerk aan die projek,” sê Rudi. “Ons moes natuurlik met covid-19 die regering se besluit respekteer en het dus gewerk waar ons kon.

“Gelukkig kan ek my werk alleen in ’n kantoor doen, en dit het darem gehelp.”

Maar die projek het ’n tot ’n einde gekom en hy was gestrand in Doebai en kon nie terugkeer huis toe nie weens die inperkingsregulasies tuis en in die VAE. 

Sy werkgewers het aangebied om te betaal vir sy verblyf by ’n hotel, maar hy was meer as ’n maand langer daar en "hulle kan jou ook net soveel help."

“Gelukkig het ek ook ’n paar vriende wat gesê het ek kan by hul huis slaap,” sê Rudi.

Die lewe in Doebai

Rudi Lotter
Foto: Verskaf

Om in die Midde-Ooste se kommersiële kern te woon, was insiggewend vir Rudi, maar het gekom teen ’n prys wat omtrent ’n duik in sy beursie gelaat het.

“Doebai is ongelooflik duur. Om ’n ekstra dag of paar dae hier deur te bring, raak dus baie duur.

“Kom ek gee jou ’n voorbeeld: As ek middagete bestel – en ek praat nie nou van ’n spogete nie – is dit gewoonlik sowat R400,” sê hy.

Rudi Lotter
Foto: Verskaf

Kophou tydens inperking

Rudi Lotter
Rudi hou homself tydens inperking met musiek besig. Foto: Verskaf

Om rasioneel te bly tydens inperking in ’n vreemde land en ver weg van die huis, kom met hope uitdagings, sê Rudi.“Dis moeilik om kop te hou, want as jy nie meer dinge het om te doen nie, begin jy ongelukkig voel.”

Rudi sê hy het in ’n stadium byna 'n ineenstorting gehad.

“Ek het amper heeltemal uitmekaargeval en ek het nooit gedink ek is in staat tot so iets nie.

“Ek het die hele oggend net so desperaat en hartseer gevoel en toe onthou ek skielik ek is ’n kreatiewe mens en dis my lewensdoel om mense gelukkig te probeer maak.”

vlug
Rudi by O.R Tambo-lughawe. Foto: Verskaf