Toe die vreugdestrane in die bruid se oë blink, het sy nooit kon dink trane van verdriet en verlies sou net vier weke later oor haar wange rol nie – en dit in dieselfde kerkgebou.

Haar troudag in Maart vanjaar was die “perfekte dag”, onthou Tessan van Niekerk (34).

Die liefde van haar lewe, David (35), was mal oor ­musiek en het self al die liedjies vir hul bruilof gekies. Toe die strooimeisies dié dag in die kerk instap, was dit op die maat van Ben E. King se Stand by Me.

Op hul troudag saam met David se ouers, Alric en C
Op hul troudag saam met David se ouers, Alric en Carol van Niekerk, jonger broer, Chad, en ousus, Natalie

Maar net ’n maand later is haar bruidegom uit dieselfde kerk in Wynberg begrawe. Skielik het David nie meer aan haar sy gestaan nie; sy was alleen.

David, ’n belowende jong prokureur, het op 20 April vanjaar ’n hartaanval gekry terwyl hy die Twee Oseane-halfmara­thon gehardloop het. Hy was net 5 km van die eindstreep af toe dit gebeur en ?is later die dag in ’n hospitaal oorlede.

“Toe ek die nuus hoor, kon ek dit nie hanteer nie. Dit was die verskriklikste ding om te hoor,” sê ’n verpletterde Tessan toe ons haar by die huis van David se suster, Natalie (38), in Table View, Kaapstad, ontmoet. Tessan, ’n assistent­bestuurder by ’n sakeprosesbestuursmaatskappy, sukkel om haar verlies te verwerk.

‘Dit was die verskrik­likste ding om te hoor. Dit
‘Dit was die verskrik­likste ding om te hoor. Dit gaan nie goed met my nie.’ Foto: Misha Jordaan

“Dit gaan nie goed met my nie,” sê sy huilend.

Sy vertel die dag van die Twee Oseane het soos enige ander oggend voor ’n groot wedloop begin. David het vroeg opgestaan, sy gewone bessieskommeldrankie gedrink, sy hardloopklere aan­getrek en haar toe wakker gemaak sodat sy hom by die wegspringplek kan aflaai.

“Ek het hom op pad daarheen herinner om die pas behoorlik te hou, genoeg water te drink . . . jy weet, die gewone goed,” sê sy.

Minder as drie uur ná die wedloop se begin het dit David se lewe geëis. Sy sou haar bruidegom nooit weer lewend sien nie.
 
David en Tessan het mekaar agt jaar gelede by die opening van ’n nuwe nagklub ontmoet en hy het die groot vraag in 2017 gevra terwyl hulle op ’n toer van Kaapstad se historiese Distrik Ses was. In die straat waar sy grootouers vroeër jare gewoon het, het hy op een knie afgesak en met sy ouma se ring die jawoord gevra.

Toe eerw. Allen Goliath hulle in Maart vanjaar in die Emmanuel- Anglikaanse kerk in die huwelik bevestig, was daar 120 gaste.

In April het 600 rouklaers in dieselfde kerkgebou finaal van David kom afskeid neem.

Eerw. Allen Goliath het die begrafnisdiens waargen
Eerw. Allen Goliath het die begrafnisdiens waargeneem, nes hul troue.

“Die predikant kon skaars sy emosies bedwing,” vertel ’n tranerige Natalie nou.

“Hy het gesê hy sou nooit vier weke ge­lede kon dink dat ons onder sulke omstandighede sou terugkeer nie.”

Die weke sedert David se dood was ondraaglik, sê sy.

“Dit was alles so onverwags. Hy was ’n uitsonderlike mens. Hy wou soveel goeie dinge doen, verandering in ons gemeenskap en mense se lewe bring. Dis ’n groot skok.”

David se ouers, Alric (64) en Carol (61), is verpletter oor die verlies van hul seun.

“My pa het in Desember verlede jaar ’n beroerte gehad en herstel nog daarvan,” sê Natalie.

“Dit het hom natuurlik geruk. My ma is sterker, maar dis vir haar moeilik. Sy het ’n kind verloor. Dis iets wat jy dink jy as ouer nooit sal deurmaak nie.”

Maar David se dood het sy bruid die hardste getref, sê Natalie.

David se begrafnis is in dieselfde kerk gehou as d
David se begrafnis is in dieselfde kerk gehou as die een waar hy en Tessan net vier weke tevore getroud is

“Ons gaan voort met ’n gat in ons hart, maar vir haar is dit anders. Ek bedoel, dit was haar toekoms. En dis skielik weggevat.”

David het drie jaar gelede ernstig begin hardloop en op Saterdagoggende langs die Seepuntpromenade begin draf.

“Dit het van toe af ontwikkel,” sê sy suster. Hy het ’n fanatikus geword en probeer om minstens een wedloop per week te voltooi.

“Hy het elke week vir my ’n foto gestuur van ’n wedloop wat hy voltooi het. Soms 10, soms 15 km.”

David het verskeie plaaslike wedlope agter sy naam gehad, soos die FNB Cape Town 12 Onerun, die Slave Route Challenge en die Constantia Village K-Way VOB-15 km-padwedloop. Hy het ook drie Twee Oseane-halfmarathons voltooi.

Begin vanjaar het hy ter voorbereiding van die Twee Oseane by die Celtic Harriers-­hardloopklub in Claremont aangesluit.

“Hy was mal oor ’n uitdaging,” sê Natalie.

“Hy wou altyd aan homself bewys hy kan iets bereik.”

Tessan was opgewonde om haar man by die eindstreep te verwelkom en het seker gemaak sy is betyds daar. Die amptelike afsnytyd was 09:20 en sy het begin bekommerd raak toe daar teen dié tyd steeds geen teken van David was nie.

Sy het die Old Mutual-app nagegaan waar gebruikers ’n hardloper kan volg en gesien David het die 15 km-kerf verby­gesteek. Maar die app het daarna geen verdere beweging van hom getoon nie.

Sy het na die mediese tent by die eindstreep gegaan, maar die personeel het vir haar gesê hulle het geen rekord dat hy kom hulp soek het nie. Tessan het paniekbevange vir Natalie gebel.

“ ’n Paar van ons familielede het ook die wedloop gehardloop en ek het hulle gebel en gevra of hulle David gesien het, maar hulle het nie,” vertel Natalie.

Natalie het toe die Twee Oseane-noodlyn gebel en moes 20 minute aanhou.

Terwyl sy gewag het, het Tessan ’n oproep gekry om te sê David is in die Life Vincent Pallotti-hospitaal opgeneem en sy toestand is kritiek.

“Ons weet nou hy was in daardie sta­dium reeds oorlede, maar hulle wou natuurlik nie vir Tessan sulke nuus oor die foon meedeel nie,” sê Natalie.

David die oggend in Kaapstad voor sy heel laaste w
David die oggend in Kaapstad voor sy heel laaste wedloop

Die familie het om twaalfuur die middag by die hospitaal opgedaag en is na ’n privaat kamer geneem, waar ’n dokter hulle die skoknuus meegedeel het: David is dood weens verstopte slagare in die hart.

“Hy’t vir ons gesê David het by ’n waterpunt sy bewussyn verloor. Hulle’t hom probeer bybring, maar kon nie.”

Die familie het ’n geskiedenis van hartprobleme, sê Natalie, en haar pa het in sy vyftigerjare drie hartaanvalle gehad.

“Maar David was net in sy 30’s en ons het geen benul gehad hy het las daarvan nie. Hy was boonop fiks en gesond en het nooit van enige probleme gekla nie.”

'Ek gooi nooit tou op nie.’

Natalie, wat ’n jonger broer, Chad (29), het, sê David het ’n blink toekoms gehad.

Hy was ’n prokureur by TNK Proku­reurs en is drie jaar gelede in die maat­skappy se direksie aangestel.

“Hy het sy beroep gebruik om verandering teweeg te bring en ander aangemoedig om hulself te verbeter,” sê Natalie.

David was ook passievol oor fietsry, sê sy suster, en was in die direksie van die Nasionale Fietsryfederasie, “al het hy nog nooit in sy lewe fiets gery nie. Maar hy was mal oor sport,” sê Natalie.

“Hy het verlede jaar vir Tessan na die 100ste herdenking van die Tour de France geneem. En by elke Kaapstad-fietstoer was hy daar om die ryers met sy vuvuzela te ondersteun. Hy was mal oor sy vuvuzela.”

Haar broer was ’n spesiale mens en sal altyd gemis word, sê sy.

“Hy het talle slagspreuke gehad, maar die een waarvolgens hy werklik geleef het, was: ‘Ek raak net moeg – ek gooi nooit tou op nie.’

“En ek kan jou sê toe hy daardie wedloop gehardloop het, is dit wat hy sou dink: ‘Ek gooi nie tou op nie. Ek stop ?nie.’ Dit is die kern van wie hy was.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.