Vir die meeste mense is “ek kan my hare uit my kop uittrek” net ’n spreekwoord om gevoelens van frustrasie mee uit te druk, maar vir Carla Bernardo is dit ’n letterlike drang waarmee sy al jare lank worstel.

Carla Bernardo
Carla Bernardo. Foto: Verskaf

Sy was nog op laerskool toe Carla begin het om af en toe ’n weerbarstige oogwimper of ’n paar hare uit haar kop te trek. Bloot ’n eksentrieke gewoonte, sou ’n mens kon dink. Maar kort voor lank het dit ’n obsessie geword wat haar sonder wimpers en met kaal kolle op haar kop gelaat het.

Carla, deesdae ’n skrywer in die kommunikasiedepartement aan die Universiteit van Kaapstad, ly aan trigotillomanie, oftewel ’n haarpluksteuring. In ernstige gevalle pluk lyers van dié geestestoestand selfs hul pubiese hare uit.

Op 29-jarige ouderdom het Carla nou besluit om openlik oor haar toestand te praat. 

Sy hoop dit sal die stigma vir ander slagoffers verbreek sodat hulle hulp sal kry pleks daarvan om in stilte te ly. Carla onthou die begin van haar obsessie asof dit gister was.

Haar ouers, Pamela en Lincoln, was daarteen gekant dat sy kleintyd skoonheidsbykomstighede gebruik.

“Stel jou voor hoe opgewonde ek was toe ek, nes ander meisies, my eerste mooimaakstel kry. ’n Kam, handspieël en my eerste haartangetjie was daarin,” vertel sy oor dié wending in haar laerskooldae.

“Ek het obsessief geraak en in die spieël begin kyk vir enigiets wat onvolmaak was. Dit het opwindend gevoel om die donker, dikker hare te kry en uit te pluk.”

’n Onderwyser aan haar laerskool het opgemerk haar wenkbroue raak yler en dat daar kaal kolle bo haar oë is. “Dit het gelyk of ek myself aangeval het,” onthou Carla. 

Carla Bernardo
Carla van Kaapstad ly aan ’n haarpluksteuring. Sy het haarverlengings gebruik om die kaal kolle op haar kop te verbloem. Foto: Verskaf

Maar sy kon nie ophou nie. Sy het soveel hare uitgetrek dat haar haarlyn verder na agter verskuif het. Gou was sy in ’n bose kringloop vasgevang: Hoe meer sy gepluk het, hoe beter het sy gevoel. Onmiddellik daarna kom gevoelens van skok, skaamte en skuld. En dan pluk sy maar weer om beter te voel.

Carla se ouers het eindelik besef sy het ’n probleem en het haar na ’n sielkundige geneem.

“Destyds was daar baie min begrip vir die steuring. Die sielkundige het bloot voorgestel ek moet ’n stresbal gebruik,” vertel sy.

Sy was al in gr. 9 toe haar ma hoor van ’n kliniese sielkundige wat navorsing oor trigotillomanie doen.

“My ma het gehoop ons sal antwoorde en hulp kry as ek deel van die studie word.” Maar toe hulle voelers daaroor begin uitsteek, is Carla hewig ontstel deur foto’s van mense wat hul hare uittrek.

“Dit het my getraumatiseer om te dink watter omvang dit kon bereik. Ek wou niks met die projek te doen hê nie. Ek het gedink: ‘Dit sal nooit ek wees nie.’ Maar gou was ek ook een van die mense op daardie foto’s wat my so bang gemaak het.”

Sy het ál minder begin uitgaan weens die kaal kolle op haar kop, of sy het dit met haarverlengings, haarpoeier of hoede probeer wegsteek. En sy het alles van diëte tot hipnoterapie beproef om haar obsessie te verbreek.

In ’n stadium het haar pa vir haar ’n spesiale soort pruik gekoop wat aan die hare vasheg en veronderstel is om te keer dat die haartrekker dit self verwyder.

Carla Benado
Nadat sy hulp ontvang het, het sy twee maande laas ’n haar uit haar kop getrek. Foto: Verskaf

“Dit het beslis gehelp, en ek het my hare ’n bietjie sien uitgroei. Maar waar ’n wil is, is ’n weg . . . Ek het dit reggekry om onder dit in te kom om te pluk.”

Dit was ’n bose kringloop. Hoe meer sy gepluk het, hoe beter het sy gevoel

Jare lank het Carla met haar geheime skaamte saamgeleef. En toe die inperking begin, het haar toestand vererger weens haar angs oor die pandemie. Sy het geweet sy moet dringend hulp kry.

Sy het ’n sielkundige opgesoek en verskeie meganismes aangeleer, soos “mededingende reaksies” teen die drang om haar hare uit te trek. Een metode is om druk op haar vingerpunte uit te oefen en dit inmekaar te vleg.

Die doel daarvan is om haar brein “om die bos te lei” en te laat dink sy is met ’n trekaksie besig. Sy drink ook antidepressante en gebruik ’n toestel bekend as die HabitAware Keen-horlosie. Dit begin gons sodra haar hand na haar hare toe gaan. En dit werk.

Carla vertel sy het meer as twee maande laas ’n haar uit haar kop getrek. “Dis die langste wat ek al uitgehou het,” sê sy trots.

Deesdae laat sy haar verloofde, Carl May, toe om haar hare te streel.

“Voor ek my verloofde ontmoet het, was ek nooit eerlik oor my haarplukkery nie, en dit het my verhoudings beïnvloed.” Haar siening van skoonheid was om lang, mooi hare te hê; daarom het sy altyd onaantreklik en onseker gevoel.

Haar onvermoë om op te hou om haar hare uit te pluk het ook tot selfhaat gelei. Nou is sy gemaklik genoeg met haarself dat Carl, haar ma en haar twee beste vriendinne aan haar hare mag vat. Maar selfs op haar beste dae “verg dit alles van my om nie in ’n spieël te soek na ’n haar wat uit sy plek is nie”.

Carla moedig mense met die toestand aan om hulle te wend tot ondersteuningsgroepe soos die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep, die Centre for Interactive Mental Health Solutions en 7 Cups of Tea. Laasgenoemde bied gratis emosionele ondersteuning deur ander mense in jou portuurgroep.

“Ons moet van die stigma ontslae raak,” sê sy. “Om hulp te soek beteken nie jy is swak nie.” 

BEKENDES MET DIE TOESTAND

Trigotillomanie is by die Victoria’s Secret-model Sara Sampaio gediagnoseer toe sy 15 was. Sy het eers haar wimpers begin uittrek en toe die hare aan haar wenkbroue.

Al kon sy met die hulp van dokters en aanvullings haar toestand onder beheer kry, ervaar sy steeds slegte episodes wanneer sy onder stres verkeer.

Sara Sampaio
Sara Sampaio Foto: Gallo Images/Getty Images

Olivia Munn het haar wimpers begin uittrek toe sy 26 was. Die Amerikaanse aktrise sê haar angs en haarplukkery het veral toegeneem nadat sy ’n rol in die dramareeks The Newsroom gekry het.

“Toe ek op televisie kom en myself vir die wêreld moes oopmaak, het van daardie angstigheid net weer teruggekom. Ek wou net niemand in die steek laat nie.”

Trigotillomanie is ’n geestesteuring wat nie net by vroue gediagnoseer word nie. Baie mans word ook daardeur beïnvloed.

Olivia Munn
Olivia Munn Foto: Gallo Images/Getty Images

In ’n onderhoud met die geselsprogramaanbieder Jay Leno het Colin Farrell erken: “Ek het die gevoel geniet om hare uit my kop te pluk. Ek het ook daarvan gehou om my naels te kou,” het die Ierse akteur gesê.

Colin Farrell
Colin Farrell Foto: Gallo Images/Getty Images

Wat is trigotillomanie?

  • Dit is ’n mediese toestand wat herhalende, oorweldigende drange behels om liggaamshare uit te trek. Lyers ontwikkel trigotillomanie gewoonlik tussen die ouderdomme 10 en 13 jaar, en hulle ervaar oorweldigende verligting wanneer die hare uitgepluk is.
  • Sowat 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking ly daaraan, sê Derine Sandenbergh, ’n kliniese sielkundige en lektor van die departement psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Trigotillomanie is voorheen as ’n impulsbeheersteuring geklassifiseer, maar die Amerikaanse psigiatriese vereniging beskou dit nou as ’n obsessief-kompulsiewe steuring. Talle kenners in die gesondheidswêreld sien dit ook as liggaamsgefokusde herhaaldelike gedrag, soos om naels te kou. 
EKSTRA BRONNE: NYTIMES.COM, ANXIETY.ORG, CELEBUZZ.COM 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe