Die advertensie word op sosiale media versprei. Karen word ook valslik aangehaal in die advertensie.

In die advertensie word beweer Karen het 20 kg in ses weke verloor. Daar word beweer Karen se gewigsverlies is danksy ’n eksotiese vrug wat sy geëet het. Daar word selfs voor-en-ná-foto’s van Karen gebruik.

Ek is baie kwaad vir hierdie mense. Dis fopnuus
Karen Zoid

“Ek kon nie glo hoe maklik dit was nie,” word sy woorde in die mond gesit. “Ek het nie my dieet of my daaglikse roetine verander nie, en die vet het soos botter afgesmelt. Ek is mal oor die goed. Uiteindelik iets wat werk,” sê sy kamstig in die advertensie.

’n Facebook-gebruiker, ene Sasha Bean, het Karen van die advertensie bewus gemaak. 

“Ek is baie kwaad vir hierdie mense. Dis fopnuus. Kla asseblief daaroor by Facebook,” was Karen se eerste reaksie op die advertensie.

Ene Sandra Nieuwenhuizen sê sy het die advertensie al verskeie kere gerapporteer omdat daar elke keer net ’n ander bekende Suid-Afrikaner daarin gebruik word.

“Dankie, Sandra,” skryf Karen. “Ek het myself untag in hierdie plasing, want dit maak my net die bliksem in as ek dit sien. Baie liefde,” het Karen gereageer.

In die advertensie word daar ook beweer Kelly Osbourne, Rachael Ray en Jennifer Lopez het ook gewig verloor nadat hulle die produk gebruik het. Die advertensie beweer dié middel kan van al jou “gifstowwe” ontslae raak en dat jy sodoende vinniger gewig verloor.