Drie diewe het dié e-tv-joernalis van haar twee selfone –  Nabeelah gebruik een om haar onderhoude mee te verfilm en die ander is haar persoonlike selfoon – beroof nadat hulle gedreig het om haar aan te val. 

Nabeelah is 'n videojoernalis vir e. TV Open News. Foto: Facebook/ Nabeelah Shaikh
joernalis,storie
Nabeelah uit op een van haar stories. Foto: Facebook/ Nabeelah Shaikh

“Danksy twee karwagte wat tot my redding gekom het, het ek my selfone vinnig teruggekry. Die karwagte het agter die boewe aangehardloop en my fone aan my terugbesorg. Ek was in ’n toestand,” het Nabeelah in ’n Facebook-inskrywing by ’n foto van die twee dapper hawelose mans, Sandile Ntshangase en Mndeni Mbili, geskryf. 

“Ek is baie dankbaar vir dit wat hulle gedoen het. Hulle het hul lewens op die spel geplaas om my te help. Daardie seuns kon teruggeveg het en hulle probeer aanval het, maar hulle het glad nie daaraan gedink nie,” het dié joernalis aan Huisgenoot vertel. 

Nabeelah het vir Sandile, Mndeni en nog hawelose mense by die stadsaal in die sosiale media geprys toe hulle haar na die insident na onderhoude vergesel het om te verseker dat sy veilig is. 

Haar inskrywing oor die twee samaritane – wat meer as drieduisend keer in die sosiale media gedeel is – het die hartsnare van Durbaniete geroer wat uit hul pad gegaan het om Sandile en Mndeni te beloon vir hul dade.  

Mense het geld en kos geskenk. Nabeelah sê nog ’n “uitstekende mens” het vir hulle pette met hul name op laat maak en die duo het boonop werk by ’n sekuriteitsmaatskappy losgeslaan.

Is Nabeelah verras deur die oorweldigende reaksie van haar volgelinge in die sosiale media?

“Nee, ek het dit glad nie verwag nie. Maar dit wys net hoeveel goeie en gawe mense daar is – veral hier in Durban. Die publiek se ondersteuning was fantasties – soveel mense het gereageer, die storie gedeel en aangebied om die lewens van die twee goedhartige mans te probeer verander,” vertel sy.

“Hulle sal nie as sekuriteitswagte by die maatskappy wat hulle aangestel het werk nie, omdat hulle nog nie ID-dokumente en opleidingsertifikate het nie. Vir eers sal hulle rondom die stad skoonmaak in die area wat (die maatskappy) bestuur.” 

Nabeelah het haar dankbaarheid by foto’s van die gilmlaggende wagte in die sosiale media betuig. 

“Hierdie is (tekenend) van die mag van sosiale media en goedhartige mense! Dankie, Durban! Ek is lief vir die mense in my stad.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!