Volgens konst. Justice Ramaube, polisiewoordvoerder, het die man vir ’n logistieke maatskappy gewerk en koerante met die Yamaha-motorfiets ter waarde van R120 000 afgelewer.

Die motorfiets het glo aan die eienaar van die besigheid behoort. 

Die 29-jarige man het beweer hy is op 25 April deur twee mans met stokke by ’n stopstraat genader. 

“Hy het beweer een van die mans het hom van die motorfiets afgestamp terwyl ’n derde persoon ’n vuurwapen op hom gehad het.

Die verdagte is toe glo met ’n T-hemp in ’n motor geboender en later in die weste van Kempton Park afgelaai terwyl die sogenaamde kapers met die motorfiets fort is.” 

Die polisie het egter begin kop krap toe hulle uitvind die motorfiets het ’n naspeuringstoestel in en dat die motorfiets laaste by ’n woonadres in Kempton Park-Wes gesien is. 

“Verdere ondersoek het ook aangedui dat die adres die plek is waar die man woon,” sê Justice. 

Die koeël was egter deur die kerk toe die polisie ’n foto op die man se foon kry waar sy dogter by die motorfiets staan.

Die foto is op 26 April geneem. Volgens Justice wou die verdagte die motorfiets vir homself hê en het hy voorgegee dat die motorfiets gekaap is. 

“Die verdagte kon nie die motorfiets bekostig nie en het erken dat hy die motorfiets vir homself wou hê.” 

  • Die verdagte is steeds in aanhouding by die Boksburg-Noord polisiestasie. Daar is weens die inperking nog nie ’n hofdatum geskeduleer nie.   
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.